Deurdruk-boere in dokkie te sien

Die dokumentêr, Blessings, vertel die hartroerende storie van opkomende boere wat ‘n kommersiële vlak bereik het. (Foto: Verskaf)

ʼn Handvol, uitgesoekte swart boere wat met behulp van Bayer en Graan SA na die kommersiële sektor deurgebreek het, is in ʼn dokumentêr vereer.

Die resultaat van dié twee organisasies se harde werk, word in Blessings – Feeding Tomorrow Today vasgevang en is die week by Ster-Kinekor in die Irene-winkelsentrum vertoon. Dit fokus ook op die mentors en studiegroepe en die werklike impak wat hulle op opkomende boere gehad het sodat hulle uiteindelik ʼn kommersiële baadjie kon aantrek.

Van Masoyini in Limpopo tot by Dannhauser in KwaZulu Natal word dié boere se plase besoek om hul stories oor te vertel – sommige wat nog besig is om hul eie boerdery te verbeter en sommige wat groot sukses behaal het en wat nou self mentors geword het.

Sedert sy ontstaan in 1999, is Graan SA by boere-ontwikkelingsprogramme betrokke om armoede en voedselonsekerheid te beveg en werk te skep ten einde ʼn suksesvolle en gesonde landbousektor te vestig. Dié bedryfsorganisasie het derhalwe landswyd streekskantore, studiegroepe en mentorskappe op die been gebring om elkeen wat ʼn stuk grond het en ernstig oor boer is, beter bewerkingsmetodes te leer terwyl natuurlike hulpbronne beskerm word.

Volgens Graan SA is daar meer as twee miljoen kleinboere, of bestaansboere, in Suid-Afrika. Dit is boere wat op ‘n klein oppervlakte boer om hul gesinne te voed en dit is ʼn bonus as hulle ʼn oorskot kan produseer om te verkoop. Hierdie kleinboere is dus ʼn belangrike faktor in landbou, maar baie van hulle boer ver onder hul potensiaal.

“Ons sien hierdie ontwikkelingsprogram as ʼn geleentheid wat die voedselsekerheid en voedselgehalte van baie huishoudings in Suid-Afrika kan verander,” sê Sandile Ngcamphalala, landbou-ontwikkelingshoof by Graan SA. “Dit maak my baie opgewonde en ek wil deel wees van hierdie tydperk wat ons ingaan.”

Volgens dr. Dirk Strydom, bemarkingshoof by Graan SA, is die hoofdoelwit om hierdie kleinskaalboere op ʼn punt te kry waar hulle kommersiële opbrengste kan lewer. “Om dit te bereik moet hulle egter toegang tot saad, chemikalieë en kunsmis van ʼn hoë gehalte kry en dit is waarmee Bayer ons help, asook om toegang tot die regte tegnologie te kry,” sê hy.

Al die “akteurs” en medewerkers wat in Blessings verskyn het. (Foto: Du Preez de Villiers)

Klaus Eckstein, landsafdelingshoof by Bayer Crop Science Suider-Afrika, sê sy organisasie sien Afrika as ʼn vasteland wat groei. “ʼn Aansienlike deel van hierdie groei is die impak wat ons op kleinboere en bestaansboere het. Ons vennootskap met Graan SA maak dit moontlik om kleinboere en bestaansboere in Suid-Afrika op te lei om nie net kennis op te doen nie, maar om beskikbare tegnologie te omarm.”

Thembi Shongwe is een van die boere wie se plaas in die film besoek is. Sy boer in die Breyten-omgewing in Mpumalanga en is stap vir stap opgelei om haar opbrengste te verhoog. Sy het ook haar landerye van een ha na 10 ha vergroot. “Boerdery is in my hart en ek voel dit kan vir my baie deure oopmaak,” sê sy.

Dudu Mashile, Bayer se streeksverkoopsbestuurder: Kleinboer en Nuwe era kommersieel, sê Bayer sien kleinboere as toekomstige kommersiële boere en toekomstige bydraers tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. “Kleinboere dra by tot die verskeidenheid in landbou en is belangrike bydraers tot die bou van landelike ekonomieë en die groei van die sektor.”

Kyk hier na die dokumentêr.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Boer hulle nou al kommersieel? Wat dan nou van onteiening sonder vergoeding?

Windhond ·

Grond onteining kom eers as hulle agter gekom het dat dit nie so maklik is om te boer wanneer die ANC -BEE inspuiting opdroog nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.