Dié lekke’ waentjie gaan plaas platry

Die maatskappy bestempel die Lekkewaan as die kostedoeltreffendste manier van landbouvervoer op die mark. (Foto: Berda Fruit SA)

Berda Fruit SA het sy jongste innoverende toevoeging tot die landbousektor onthul: ʼn batteryaangedrewe voertuig genaamd die Lekkewaan.

“Ons is geweldig in ons noppies om die Lekkewaan aan die landbougemeenskap bekend te stel. Namate die wêreldwye vraag na voedsel en vrugte aanhou styg, is dit onontbeerlik om innovering en volhoubaarheid in landbou te verseker,” sê Pierneef Smit, algemene bestuurder van Berda Fruit SA.

“Die Lekkewaan verteenwoordig ʼn beduidende stap vorentoe in landboutegnologie en bied aan boere die gereedskap wat hulle nodig het om produktiwiteit te verhoog, koste te verminder, die uitwerking op die omgewing te beperk en die toekoms van voedsel- en vrugteproduksie te verseker.”

Die maatskappy bestempel die Lekkewaan as die kostedoeltreffendste manier van landbouvervoer op die mark. Dit is spesifiek ontwikkel om aan die veranderende behoeftes van boere en landbou-ondernemings te voldoen en maak gebruik van die jongste tegnologie, ergonomiese ontwerp en eko-vriendelike eienskappe om “ongeëwenaarde prestasie oor verskeie landbouprosesse” te lewer.

Die voertuig mag nie op openbare paaie gebruik word nie.

Mense bekyk die Lekkewaan van naderby tydens die bekendstelling. (Foto: Pierneef Smit)

Die idee vir die Lekkewaan spruit uit aanpassings aan die maatskappy se TailG-driewiele wat ʼn paar jaar gelede bekend gestel is. Smit sê ʼn boer het die voorkant van ʼn ou kwadfiets en die voorwiel van die TailG afgesny en dit aanmekaargesweis om ʼn nuwe boer-maak-ʼn-plan-weergawe te skep. Dié skepping was egter veral moeilik om te draai.

“Dit het my toe ʼn idee gegee om die vierwiel in ʼn fabriek in China te ontwerp en dit aan boere te verskaf,” sê Smit.

Die eindproduk was die parmantige Lekkewaan.

Boere gebruik die voertuie om hul kwadfietse en klein trekkertjies te vervang, of vir die voormanne of drywers op die plase. (Foto: Pierneef Smit)

“Die boere gebruik dit tans om hul kwadfietse en klein trekkertjies te vervang, of vir die voormanne of drywers op die plase. Dan hoef hulle nie brandstof vir die kwadfietse of diesel vir trekkers in te gooi nie en só spaar hulle geld en verminder produksiekoste.”

Sleuteleienskappe van die Lekkewaan sluit in:

  • Doeltreffende elektriese krag: die Lekkewaan word aangedryf deur ʼn 52 AH 60V-battery wat koolstofvrystellings en bedryfskoste verminder terwyl dit terselfdertyd betroubaarheid en prestasie verbeter.
  • Stabiliteit en gemak: die bestuursmeganisme maak dit maklik om die voertuig te beheer en die vier wiele lewer uitstekende stabiliteit.
  • Herlaaivermoë: die Lekkewaan kan met ʼn gewone driepuntprop herlaai word. Dit duur tussen agt en 12 uur.
  • Reikwydte: Wanneer dit ten volle gelaai is, kan die voertuig tot 30 km ry.

Smit sê ná verlede week se bekendstelling van die Lekkewaan het bestellings reeds begin inrol. Die vraag na elektriese voertuie groei boonop toenemend. Hy sê wanneer daar gekyk word na die TailG – wat ook elektries is – kan die maatskappy kwalik voorbly in die vraag na die voertuie.

“Ons verkoop tussen 50 en 60 TailG-eenhede per maand landwyd en namate die naam bekend raak, word dit al hoe meer.”

So lyk die Lekkewaan se battery. (Foto: Berda Fruit SA)

En van waar die naam Lekkewaan?

Smit verduidelik die Lekkewaan se naam kom van die Chinese maatskappy se idee om dierename vir plaaslike produkte te gebruik – en Afrika word graag met wilde diere verbind.

Kollega Zerilda Smit het die blink plan gekry dat ʼn likkewaan vier pote het – nes die nuwe voertuig – en baie stil is en “sit toe ʼn Afrikaanse twist daarop”.

“Toe maak ons ʼn kruising tussen ‘lekker wa’ en ‘likkewaan’ en dit is waar die naam Lekkewaan vandaan kom.”

  • Vir meer inligting besoek co.za of bel Pierneef Smit by 082 571 6469.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Phumba ·

Eleksa het n groter verskeidenheid met beter pryse.
Daar kan jy ook verskillende battery tegnologiee gebruik asook n solar opsie installeer.

Perdeby ·

Eleksa het n groter verskeidenheid en I’d n bietjie groter, en hulle sit n sonar panel op en Phillip bou vir jou n battery wat Baie beter is.

Werner ·

Wees versigtig vir 60V, alle toerusting in SA werk op 24V/36V/48V. So enige vervangings of verbeterings moet met toerusting uit Sjina gedoen word. Jy kan bv. nie ‘n Victron laaier met sonpaneel gebruik nie en moet ‘n laaier invoer uit Sjina. Dieselfde vir die battery, spoedberheerder ens.
El sal nie weer ‘n 60V voertuig koop nie.

Perdeby ·

Werner jy is reg. Dit is hoekom Eleksa alles van CHINA invoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.