Europa wag gespanne op SA wildsvleis; wetgewing, siektebeheer sloer

Wildsvleis kan baie beter ontgin word as ondersteunende wetgewing deurgevoer word. (Foto: derekkeats, Wikimedia Commons)

Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) sê hy is versigtig optimisties oor die wildsvleisstrategie-konsep wat deur die kabinet vir openbare kommentaar goedgekeur is, maar wil meer betrokke raak by die implementering daarvan en wil graag hê dat die proses drasties bespoedig moet word.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, sê die doel van die strategie is om beleggings in hierdie sektor te lok en om plaaslike, streek- en internasionale markgeleenthede te ontsluit. “Dié strategie en implementeringsplan is daarop gemik om ’n geformaliseerde, florerende en getransformeerde wildsvleisbedryf in Suid-Afrika te skep wat bydra tot voedselsekerheid en volhoubare sosio-ekonomiese groei.”

Richard York, uitvoerende hoof van WRSA, het gesê hy is baie dankbaar dat die proses uiteindelik aan die gang gesit is, maar voet by stuk gehou dat wetgewing minder gemaak moet word en nie meer nie.

Hy het bygevoeg dat hierdie ook slegs ʼn strategie is wat in iets meer tasbaar omgesit moet word. “Ek is wel bly dat die regering ons erkenning gegee het vir ons bydrae.”

WRSA en ander betrokkenes is nou al vir 15 jaar besig om hul voorgestelde regulasies, om vir boere duidelike riglyne te gee hoe om wildsvleis van die plaas in die mark te kry, deurgevoer te kry “maar daar word elke jaar net beloftes gemaak”.

ʼn Voorstel is om boere of groepe boere toe te laat om in klein, mobiele slagpale vleis te verwerk en dit dan onder die regte goedkeuring- en inspeksieprosedures in die mark te sit. Tans is daar geen raamwerk daarvoor nie, wat tot wanpraktyke lei.

Vandag is daar net twee hoëdeursetslagpale in Limpopo, wat hopeloos te min is.

“Ons wens is dat boere wat reeds toevertrou is om hul habitat te bestuur, ook toevertrou moet word om beheer van die res van hul produk se waardeketting te neem,” sê York.

Daar heers ook ʼn groot frustrasie onder uitvoerders.

Gerhard Heyneke, voorsitter van WRSA, het aan Maroela Media gesê hoewel ons grootste plaaslike mark aansienlik uitgebrei kan word, wil die buiteland graag Suid-Afrikaanse wildsvleis benut. “Suid-Afrika het ongeveer 45 wildspesies waarvan veral 29 spesies in Suid-Afrika geredelik gejag word, wat loshande die meeste ter wêreld is.

“Met die groei van bykomende kapasiteit het die Suid-Afrikaanse wildboere die potensiaal om 30 000 en meer ton wildsvleis per jaar uit te voer terwyl daar tans slegs 3 000 ton, oftewel R200 miljoen se wildsvleis uitgevoer word. Dit is grotendeels volstruis en sebra.

“Die gesondheidvoordele van wildsvleis maak dit ʼn uiterse gesogte produk en Suid-Afrika se verskeidenheid spesies des te meer.”

Hy het bygevoeg dat dit slegs kan gebeur as siektebeheer toepas word en as bek-en-klouseer onder beheer gekry word.

“Daar moet beslis ʼn hele paar opwaartse treë deur alle rolspelers gegee word om dit te vermag. Die staat se verantwoordelikheid vir die doeltreffende beheer van die beweging van diere moet sonder meer streng nagekom word, asook die gebruik van nuwe beskikbare tegnologie.

“Proaktiewe aksies en die inspan van verbeterde tegnologie wat reeds bestaan is van kardinale belang ten einde aan die droom van uitvoere te voldoen. Tot dan sal dit slegs ʼn droom bly. Die plaaslike mark absorbeer tans omtrent alle wildsvleis en sal dit ons grootste vleismark bly. Die voorgestelde wetgewing sal die verkoop van wildsvleis in die plaaslike mark, soos byvoorbeeld supermarkte, aansienlik vergemaklik.”

Creecy het dit benadruk dat dié strategie transformasie moet bevorder, “Die wildsvleisbedryf is glad nie na wense getransformeer nie en min voorheen benadeelde individue neem daaraan deel.

“Daarbenewens is daar groot gebiede wat deur gemeenskappe besit word wat geskik is vir vlaktewild en wat geleentheid bied aan gemeenskapsgebaseerde ondernemings om landelike sosio-ekonomiese ontwikkeling te dryf.

“Die hindernisse vir toegang tot die bedryf is hoog en moet die hoof gebied word.”

Daar heers egter baie vrae rondom haar wense. “Tradisies gaan ʼn probleem skep,” sê York. “Waar gemeenskappe met groot ruimtes sit, verkies hulle oorwegend om met beeste te boer weens die lobola-gebruik en die tradisionele waarde wat vee vir hulle inhou. Die kans dat hulle na wild gaan oorskakel en dit winsgewend sal bedryf, is gering.”

York sê die konsepstrategie sal in die tweede kwartaal van die 2022/’23 finansiële jaar vir openbare kommentaar gepubliseer word. “Hoewel daar nog baie werk voorlê is hier reeds ʼn goeie begin gemaak met die studie en ontwikkeling van moontlikhede. Die uitvoering hiervan moet aan die vrye mark oorgelaat word om binne ʼn wetlike raamwerk te ontwikkel, wat die nodige ruimte gee vir ondernemingsgees om te gedy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Nie geweet sebra word geëet nie. Is mos donkie in pajamas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.