Foto’s: Pretoria Boeremark, ʼn opwindende 30 jaar later

Direkteure, bestuurslede en mense wat oor die jare ʼn bydrae tot die Boeremark gelewer het. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Pretoria Boeremark in Silverton is al as een van die top vyf besienswaardighede in Pretoria gelys en met reg, want besoekers kom van heinde en verre vir hierdie eiesoortige belewenis.

Die stalletjies word al voor vieruur op ʼn Saterdagoggend gereedgemaak sodat hulle teen 05:30, wanneer die hekke open, die klante kan bedien.

Voor dagbreek in die somer en in die pikdonker wintermaande, wanneer die strate dolleeg is, begin besoekers van oor die hele stad daar naby geleidelik in ʼn lang stoet inval. Dit is immers die moeite werd om van die eerstes te wees om die kraakvars en billike plaasprodukte op te raap. Voor jy jou oë uitvee, is jy tussen massas mense, met ʼn koffie in die hand, wat sommer ʼn kuiertjie van die geleentheid maak.

 

7 000 Mense besoek elke Saterdag die Boeremark in Silverton, Pretoria. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Vanjaar is die Boeremark 30 jaar oud en Maroela Media het die feesviering bygewoon en met Johan van Wyk, wat 28 jaar lank die markbestuurder was, oor sy herinneringe gesels. Hy het in 1994 by Christo van Niekerk oorgeneem en in November 2020 uitgetree en met pensioen afgetree. Hy was vanaf die eerste dag op die mark, eers as ʼn koper, en het toe ʼn jaar later by die bestuur betrokke geraak.

Hy sê dit het alles op 10 Oktober 1992 op Persequor-park by die WNNR begin toe 60 mense die kans gewaag het om hulle aan TLU SA se inisiatief toe te vertrou. Gedrukte media en die destydse Radio Pretoria, vandag Pretoria FM, het die geleentheid geadverteer. Die 60 uitstallers het vinnig tot 80 gegroei.

 

Die 30-jaar-feesviering het vir ʼn dag vol jolyt by die Pretoria Boeremark gesorg. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Krugerdag was destyds nog ʼn vakansiedag en toe daag daar twee keer meer mense op as wat ons verwag het. Buiten die verkeersknoop wat ons veroorsaak het, was die dag ʼn reusesukses,” sê hy.

In 1994 het die WNNR die perseel begin ontwikkel en hulle moes na die Pioniersmuseum in Silverton verhuis. “Ek onthou hoe daar mense van nagdiens af gekom het om hul inkopies te doen. Daar was ook studente, nog met hul aandpakke en hoëhakskoene aan en heel wankelrig, wat ná hul nagtelike aktiwiteite by die mark opgedaag het om ʼn vetkoek te koop,” lag hy.

 

Tydens die 30-jaar-feesviering was daar hope vermaak vir die kinders. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Splinternuwe mark

In 2017 het die Boeremark die tender verloor om weer die Pioniersmuseum te gebruik en moes TLU SA ʼn ander heenkome vind.

“Ons was die slagoffer van ʼn politieke tenderproses en moes binne twee weke skuif. Ons moes op ʼn Vrydag ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof indien om nog tyd gegun te word. Ek het aan die regter verduidelik wat ons by die mark doen, maar hy het my gou stilgemaak en gesê hy woon dit elke Saterdag by.

“Ons het ernstig gebid en toe ʼn stuk lusernland, ʼn klipgooi van die Pioniersmuseum, gevind wat ons gekoop het. Een van die bestuurslede het nog kort tevore daar gestop en gesê hierdie plan gaan nie werk nie, maar ons het nie ʼn ander keuse gehad nie en moes voortgaan.

 

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dit is ʼn wonderlike belewenis om deel te kan wees van ʼn mark op ʼn perseel wat aan hulle behoort. “Hoewel ons die tender vir die Pioniersmuseum in Junie 2017 verloor het, kon ons voortgaan en om hierheen te kom het vir ons ʼn geleentheid ontsluit.” Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Dit was ʼn skrikwekkende ervaring. In tien dae moes ons die vier hektaar grond van ʼn ou lusernland tot ʼn mark ontwikkel. Ons het die een Saterdag daar mark gehou en die volgende Saterdag was ons hier.”

Die grond was turf en onder die aangrensende spruit se vloedvlak, maar met hulp en ywer het hulle die wa deur die drif getrek.

“Fred Cornelissen wat onlangs oorlede is en die eienaar van Uitkyk Vleismark was, was die dryfveer en het ons van A tot Z gehelp. Hy het duisende tonne gruis laat inry en sommer net daar ʼn Bobcat gekoop om dit plat te werk,” sê Van Wyk.

 

Botha Boshoff is nou vyf weke by die Boeremark en ry elke Donderdag met 80 bokse avokado’s uit Louis Trichard of Tzaneen Pretoria toe. Saam met sy ander afsetpunte oor die stad verkoop hy meestal al sy bokse uit. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Toe is daar gras en 800 bome geplant waarvan feitlik almal inheems is.

Die direksie van die Boeremark het besluit om eienaarskap van die stalletjies aan die uitstallers te gee en hulle met riglyne toegelaat om permanente strukture op te rig. Een van die voorwaardes is dat dit met houtpale gedoen moet word.

 

Die Boeremark-bestuurspan is Ute van Wyk, finansies en administrasie; Johan van Wyk, voormalige bestuurder; Daniel Schoeman, administrasie; en CD van Reenen, huidige bestuurder. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Een hoë hekkie om oor te spring was om die gemeenskap in die woonbuurt se ondersteuning te kry.

“Ek het met die mense langs die mark vergadering gehou en daar was hewige teenkanting teen ons plan. Op die tweede vergadering het ek toe drie beloftes gemaak. Ons het onderneem om die perseel te verfraai, ons sou nie musiekfeeste aanbied wat tot laat in die nag lawaai nie en ons sou voldoende sekerheid bied, wat ook ʼn buffer teen ongure elemente sou wees wat makliker op ʼn oop veld sal plak.

 

Nico Swart, Mignonne Cilliers, Monique Dearlove en Wayne Dearlove is ywerige proteaverkopers. Die Dearloves het in Augustus die plaas Doringkraal Proteas buite Cullinan gekoop en dit na Dearlove Proteas herdoop. Hulle staan die hele Vrydag af om 170 ruikers vir die Boeremark te maak. Dan staan hulle Saterdae vieruur op en verkoop ook so 600 enkelproteas. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Kort daarna het die hele gemeenskap omgedraai en hulle geniet nou self die mark terdeë en daar is nie een persoon in die omgewing wat nie positief oor die mark is nie.”

Die eerste mark is op 8 Julie gehou en al 260 uitstallers het soos een man na die nuwe perseel verskuif. Elke Saterdag woon daar omtrent 7 000 mense die mark by om 300 verkopers te ondersteun en daar is plek vir nog 40 stalletjies.

“Dit is ʼn uitdaging om almal gelukkig te hou, maar ons volg streng vryemarkbeginsels. Eerstens moet jy sorg dat die produk wat jy verkoop binne die raamwerk van die Boeremark val. Ek wil ʼn balans en ʼn bepaalde atmosfeer behou en ons konsentreer op landbouprodukte en handgemaakte items en probeer die massaproduksie-items uithou.

 

Wickus Barnard word volgende maand 61 en is nou al 30 jaar by die Boeremark. Hy begin al drieuur op ʼn Vrydagoggend groente en vrugte met sy bakkie en sleepwa aanry en bring so ses, sewe ton voorraad na sy stalletjie. Tydens waatlemoentyd kreun sy voertuig ekstra hard. Hy koop sy groente en vrugte regstreeks by boere aan of by die Tshwane-mark as dit nie plaaslik verbou word nie. Sy stalletjie is reg voor die ingang geleë en Vrydagaand slaap hy sommer op ʼn opblaasmatras agterop sy bakkie onder die kappie. Dit wat oorbly, versprei hy onder kinderhuise, ouetehuise, skole en ʼn verskeidenheid ander kliënte. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Hier is vandag 15 koffiestalletjies wat verskeie fokusse het, soos filterkoffie, kondensmelk en selfs speserygeure. Nuwe verkopers is welkom om hul kans waar te neem. Dit hou ook die pryse in toom. As jy iets interessants het, bring dit asseblief!”

Hy sê in die somer begin die hitte vroeg knyp en hul sukses lê daarin dat die mark so vroeg oopmaak om die boere in staat te stel om hul bederfbare produkte vroeg-vroeg van die hand te sit. Boonop lê die hele Saterdag dan vir hulle voor.

Die tipiese boer wat hierheen kom se boerdery is in en om Pretoria en gebruik hierdie perseel as sy afset en ook om ʼn mark te skep en te ontwikkel. Hier is ook boere wat van baie ver af kom, so ver as Steenbokpan anderkant Thabazimbi wat wildsvleis bring en avokado’s vanaf Tzaneen. Daar word selfs vis van die Weskus af opgery.

 

Jennifer en Joao da Silva (Jenny en Joe) is al in hul sewentigs en het eintlik al ses jaar gelede afgetree, maar hulle verbou en verkoop groente om aan die gang te bly. Hulle is al 24 jaar by die mark. “Ons is 10 km noord van Cullinan geleë en verbou al ons groente self, in sewe kweekhuise en onder ʼn skadunet so groot soos ʼn rugbyveld. Ons bring 50 tot 60 20 kg-kratte en teen 4:30 is ons stalletjie gereed. Teen 05:45 het ons reeds ons eerste tien klante bedien en teen 08:30 is alles feitlik uitverkoop.” (Foto: Du Preez de Villiers)

 

ʼn Verkoper betaal elke week vir sy stalletjie, al daag hy nie op nie. Dit is om kontinuïteit vir koper en verkoper te bevorder. Verkopers met seisoenale produkte maak dan planne om ander produkte te verhandel.

Van Wyk sê tegnies maak die mark nie toe nie, maar die verkopers mag eers ná 09:30 ontruim. Hy het dié maand begin om dit met ʼn uur te verleng.

“Vandag gaan die mark net van krag tot krag en daar is heeltyd verwikkelinge. Daar is nou al naambordjies vir die straatjies aangebring,” sê hy. Hierdie plek is tien keer beter as die Pioniersmuseum.

“Ons sien nou al tweede- en derdegeslag-verkopers by die Boeremark. Hier was ʼn heuningverkoper wat ʼn baba opgepas het. Net mooi 25 jaar later het dié kind voortgegaan om met haar kind heuning te verkoop.

 

Met hul professionele slagter-uitrusting beman Ashley Brussel en Gareth Moore die Uitkyk-vleismark in Silverton se stalletjie en bring spesiale snitte na die Boeremark wat maklik verkoop. Die eienaar, die ontslape Fred Cornelis, was ʼn voorslag tydens die bou van die Boeremark en wou nie kompetisie wees nie. Die dubbelverdieping-stalletjie dien meer as ʼn advertensie. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Hier was ʼn meisie op universiteit wie se pa haar ʼn krat piesangs in die hand gestop het en haar gedwing het om dit te verkoop voor sy haar sakgeld kon kry. Sy was elke Saterdag hier en het ʼn stewige mark opgebou en selfs ʼn koper gekry wat die res van haar piesangs geneem het. So het sy aangegaan tot sy haar honneursgraad behaal het,” sê hy.

In die middel van die mark is daar ʼn paar kampies waarin plaasdiere, soos varkies, hasies, hoenders en ganse loop. Dit het mettertyd ʼn veilige hawe geword vir diere wie se kinderbase hulle nie meer wil versorg nie. Die diere teel egter aan en baie word weer aan nuwe base verkoop.

 

Plaasdiere is ʼn groot aantrekkingskrag vir die stadsjapies wat die Boeremark besoek. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Van Wyk sê daar is planne om die perseel oorkant die spruit beskikbaar te stel vir bykomende parkering en dit met ʼn bruggie aan die mark te verbind.

Oor die jare het die Boeremark talle kompetisies gewen en is al as die beste mark in Pretoria aangewys.

Inperkingkrisis

Die inperking het die uitstallers baie seer gemaak en dit het ook sy eie drama veroorsaak.

“Die polisie het my met die afkondiging van die Covid-19-inperkings die Vrydag gebel en gesê daar sal nie die volgende dag mark gehou word nie. Daar was geen plan te maak nie en ek moes toe op my foon klim en die uitstallers begin bel. Die mense was woedend.

 

Christof Clodio is sedert 2017 by die Boeremark en wys boonop vir die markgangers hoe weef hy sy matte. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Een van ons oudste groenteverkopers, Wickus Barnard, was toe reeds met vyf vragte groente op pad wat hy al Donderdagaand begin pak het. Mense het daarvan gehoor en twee uur later was sy groente alles uitverkoop. Fred Cornelius het toe die Vrydagaand met sy bakkie gekom en die res van die groente geneem.”

Aandmark verras

Nog ʼn dramatiese suksesstorie is die nagmark wat vier jaar gelede van stapel gestuur is. Die Saterdag het op Geloftedag, 16 Desember, geval en Van Wyk het spesiale toestemming gevra om die mark oop te maak. Die bestuur het in die vergadering volstrek geweier en toe hy ten einde laaste vra of hy dit dan die vorige aand kan oopmaak, het hulle ingestem en so is die jaarlikse Aandmark gebore.

 

Dié twee kaasverkopers is Luan Coetser en sy pa Peet. Hulle het ná Covid-19 die kaasmakery, Gondesa, by Johan van der Poel oorgeneem wat 22 jaar gelede op die mark begin verkoop het. Die kaas word in Patterson in die Oos-Kaap gemaak en hulle beskou dit as ʼn lekker stokperdjie. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Dit was die grootste fiasko wat ek in my tyd by die mark ervaar het. Ek en Ute, my vrou, het die hele Vrydag gewerk om die mark gereed te kry en gou huis toe gegaan om voor te berei en betyds te wees om die mark 17:30 oop te maak. Ons het 16:30 hier aangekom en toe staan die karre al doer in die pad af.

“Daardie aand 19:00 het die mense ons nog gebel en gesê ons kan ons mark maar hou, hulle sukkel nou al twee uur om in te kom.

“Hier was tien keer meer mense as wat ons verwag het. Tienuur die aand het ek die eerste keer vir Ute gesien en vir haar gevra waar sy was. Sy sê toe sy het parkering aangewys …

 

Ollie Coetzee probeer sy geluk by Dave Oldknow se kettieskiet-stalletjie waarmee hy vier maande gelede begin het. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Dit was seker ook die grootste suksesstorie wat die mark beleef het.

“Dit het toe die Aandmark geword, die naaste Vrydag aan die 16de Desember. Uit ʼn bemarkingsoogpunt werk dit uitstekend, want dit is wanneer die mense hul jaarlikse bonusse kry en met verlof gaan. Jy kan dan op die gras kom sit en musiek luister en ontspan en jou familie van vier vir R200 kos gee.

“Nou het die mense ons versoek om in die middel van die jaar ook ʼn aandmark te hou.”

 

Willow Valley-melkery is ʼn uitgebreide familie-onderneming wat ook hul eie produkte verpak en versprei. Hulle het destyds met melk en sap weggespring en maak nou ook jogurt en room. Mary-Lou Yeomans sê sy het 20 jaar gelede by haar skoonpa, David Yeomans, aangesluit wat die stalletjie weer by sy seun, Chris, oorgeneem het toe dit destyds nog by die WNNR was. Vandag werk al drie haar seuns by die mark. “Ons vind dat die Boeremark ʼn plek is waar ons nuwe produkte kan beproef. Ek en my span staan elke Saterdagoggend 01:30 op en verlaat die plaas 03:00 om 03:30 hier te wees. Dan stel ons op en baie van die stalletjies kry hul melk van ons af.”  Die span is Josh Stielau, Mary-Lou Yeomans, Christopher Maloka, Gaby Stielau, Christian Kuhrau, Simon Skosana en Jabulani Mabena en die turkoois T-hemde is spesiaal vir die Boeremark se 30ste verjaarsdag gemaak. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leana ·

Neem my terug na die tyd toe ek in Pretoria gebly het en gereeld saam met my ouers boeremark toe gegaan het, goeie tye gewees. Kon nog nie weer so boeremark kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.