Gure weer kortwiek uitvoer van appels, pere

(Argieffoto: Hortgro)

Hortgro het sy uitvoer-vooruitskatting vir die 2023-seisoen aangepas en sê hael en oorstromings vroeër vanjaar het tot ʼn 10%-daling in vergelyking met die vorige seisoen gelei.

Die verwagte uitvoervolume vir appels is 40,883 miljoen kartonne (12,5 kg/karton). Dit is ʼn daling van sowat 4,375 miljoen kartonne.

Die verwagte peer-uitvoere is nou 17,195 miljoen kartonne – wat dui op ʼn 19%-daling – oftewel sowat vier miljoen minder kartonne as ʼn jaar gelede.

Suid-Afrika se grootste appel- en peerproduserende streke het in November en Desember verlede jaar onder kwaai haelstorms deurgeloop. Die Langkloof-streek het in Maart weer ʼn haelstorm gehad en dit het ʼn uitwerking op die gehalte en hoeveelheid beskikbare pere gehad, sê Hortgro. In Junie was daar swaar reën en sterk wind oor groot dele van die Wes-Kaap, maar teen daardie tyd was die appel- en peer-oes reeds afgehandel en die vrugte in koueberging.

Onder die verskillende variëteite word ʼn aansienlike daling in die volume Golden Delicious-, Granny Smith-, Braeburn- and Cripps Pink-appels verwag. Die uitvoer van Fuji-appels, die gewildste kultivar vir uitvoer na China, sal na verwagting 12% minder wees. Dit is byna vier miljoen minder kartonne.

Suid-Afrika se grootste peer-variëteite – Triumph en Forelle – sal hierdie seisoen na verwagting onderskeidelik 8% en 15% minder wees.

Verwagte uitvoere van die Cheeky-variëteit – nog ʼn gewilde uitvoerproduk na China – sal waarskynlik 21% minder wees as in die vorige seisoen.

Hortgro sê net die uitvoer van die Celina- en Sempre-variëteit sal na verwagting nie daal nie. Dít terwyl die uitvoer van Doyenne du Comice-pere met ʼn aansienlike 54% sal afneem.

Goeie Chinese mark

Ten spyte van ʼn algehele daling in Suid-Afrika se appel- en peeruitvoere na internasionale markte, het uitvoere na die Chinese mark die teenoorgestelde neiging ondervind. Volgens Hortgro se data is net meer as ʼn miljoen kartonne appels in week 29 na China uitgevoer – ʼn noemenswaardige toename van 20% in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar. Onder al die variëteite is Fuji die meeste uitgevoer.

Suid-Afrika het in Augustus sy heel eerste besending pere aan China gelewer, met die hoofvariëteite wat insluit Forelle, Cheeky, Packham’s Triumph, Abate Fetel en Celina, met Forelle wat die meeste na China uitgevoer word.

Doeanestatistieke wys ook dat Suid-Afrika, naas Nieu-Seeland, nou China se grootste appelverskaffer is met ʼn uitvoervolume van 12 300 metrieke ton. Dit is ʼn jaar-op-jaar-toename van ʼn beduidende 64%.

Verlede jaar het Suid-Afrika se appel-uitvoere na China tot 17 200 metrieke ton toegeneem. Dit is ʼn jaarlikse styging van net meer as 40%, sê Hortgro.

Suid-Afrika se appel-oestyd is presies die teenoorgestelde van dié van China: Dit duur van Januarie tot Mei met die grootste lewering in Junie. Dié voordeel het die afgelope paar jaar tot ʼn bestendige toename in Suid-Afrikaanse appel-uitvoere na China gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.