Jongboer van die jaar begin met niks

Dit was ʼn oomblik van breë glimlagte vir Leon Theron, senior adjunkpresident van verkope en bemarking van TSAM; Jaco Minnaar, president van Agri SA; Hannes Wolvaardt, jongboer van die jaar, en prof. Carlu van der Westhuizen, beoordelaar. (Foto: Du Preez de Villiers)

Nadat die beoordelaars Hannes Wolvaardt se boerdery onder die vergrootglas bekyk het, kon hulle nie anders nie as om hom as vanjaar se Agri SA/Toyota SA (TSAM) jongboer van die jaar aan te wys nie. Volgens hulle was hy ongetwyfeld die toonbeeld van passie, harde werk en deursettingsvermoë.

Wolvaardt boer met soetrissies, tamaties en sitrus tussen Letsitele en Giyani in Limpopo. Hy het twaalf jaar gelede op 3 ha se huurgrond, geleende geld, geleende trekkers en met sy Ford Fiesta ingespring. Sy eerste oes was 6 000 bokse soetrissies. Vandag boer hy op 30 ha waarvan 25 ha onder nette is en pak 400 000 bokse soetrissies en 500 000 bokse tamaties in sy eie pakhuis uit. Sy eerste sitrusoes is nou op pad en hy gee werk aan 350 mense.

 

Die New Harvest-wenner en die Jongboer van die jaar kry elk ‘n Toyota Hilux. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Dit was ʼn taai en lang reis, maar my pa wat in 2016 oorlede is, het my en my broer geleer om hard te werk en ons doelwitte na te jaag,” sê hy.

“Ek wil ook baie dankie sê vir Agri SA, Agri Limpopo en Agri Letaba wat vir ons boere op ʼn groter front veg oor sake waarvoor ons nie kan veg nie,” het hy bygevoeg.

Daar was nege finaliste, een uit elke provinsie, en prof Carlo van der Westhuizen, hoofbeoordelaar, het gesê elkeen was uitmuntend en daar is hoop vir boerdery in Suid-Afrika.

 

Hannes Wolvaardt (middel) het vir ‘n knop‑in‑die‑keel‑oomblik gesorg toe hy sy broer Riaan en skoonsuster Jolene verhoog toe geroep het om dankie te sê dat hulle hom bystaan en dit in die begin vir hom finansieel moontlik gemaak het om te kan boer. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

New Harvest-wenner is gemeenskapsman

Daar was drie finaliste vir TSAM se New Harvest-toekenning en die wenner was Vumile Mzinzi van Ugie in die Oos-Kaap. Hy boer met geelmielies, suikerbone en aartappels op sy eie en gemeenskapsgrond en tydens oestyd gee hy werk vir 150 mense.

Mzinzi is die direkteur van die boeremeganisasiesentrum en gee ook motiveringspraatjies aan jong boere.

“Hierdie is ʼn ongelooflike motivering wat Toyota vir boere bied en ek wil baie dankie sê en ek kry baie ondersteuning van die bedryf en my mentors waarvoor ek baie dankbaar is,” sê hy.

 

Vumile Mzinzi het uitgehaal en gewys om van ʼn opkomende boer tot op kommersiële vlak te beweeg. Weerskante van hom staan Leon Theron, senior adjunkpresident van verkope en bemarking van TSAM en prof Carlu van der Westhuizen, beoordelaar. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die prys vir die Jongboer‑ en New Harvest-wenner was  ʼn 2,4 GD-6 Toyota Hilux‑bakkie.

Top‑ kommunale boerevereniging kom van ver

ʼn Splinternuwe afdeling wat deur TSAM en Conservation SA aangebied word, is om ʼn uitsonderlike kommunale boerevereniging aan te wys. Die wenner van die afdeling kry R150 000 se insette vir hul boerdery wat by die koöperasie of landbou-onderneming inbetaal word. Daar was drie finaliste en die wenner is Vooruitkyk-koöperasie van Kamieskroon wat deur Malinda Gardiner van Conservation SA aangewys is.

Vooruitkyk-koöperasie bestaan uit 28 lede en boer met spikkelbokke en Meatmaster-skape.

 

Leon Theron, senior adjunkpresident van verkope en bemarking van TSAM; Ronald Newman, Peter Shisani en Martha Gardiner, Conservation Suid-Afrika beoordelaars; Mariana Joseph, Vooruitkyk-bestuurslid; Sameul Williams, Vooruitkyk-voorsitter  en prof Carlu van der Westhuizen, beoordelaar. (Foto: Du Preez de Villiers)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet parys ·

Jip onder begin en suksesvol geraak. Baie goeie keuse gewees. As daai bakkie 300 000 km gery het dan sal ek hom vat vir die volgende 300 000 km . Maar jy moet gou maak my tyd raak min. ????

Delia ·

Daar is altyd HOOP as mens sulke verhale van deursettingsvermoë en harde werk hoor

Harley Davidson ·

Lekker skimpe van toyota om ‘n 2.4 te gee die manne verdien v8 cruisers.

Lillian ·

Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg! Welgedaan manne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.