Kleinbokhaar plaas mark onder druk

500 Bale, wat altesaam 167 849 kg weeg, is tydens hierdie week se sybokhaarveiling in Port Elizabeth aangebied. (Foto: Marco Coetzee)

Die derde sybokhaarveiling van die 2021-winterverkoopseisoen het vir die eerste keer hierdie seisoen afwaartse druk beleef. Volgens ‘n verslag wat House of Fibre uitgereik het, het die markaanwyser van die vorige veiling met 6,9% gestyg terwyl dit hierdie week met 4% gedaal het.

“Dit word nie noodwendig aan ʼn swakker aanvraag toegeskryf nie, maar het meer te doen met die groot hoeveelheid haar, tesame met Lesotho se aanbieding, wat te koop aangebied is,” sê , Pierre van der Vyver, hoofbestuurder van House of Fibre.

Kleinbokhaar is die swaarste getref met ʼn onverwagse prysdaling van 6,5%. Dit het ook die 28/9 mikron-aanbod negatief geraak.

“Die omstandighede kan verbeter wanneer daar kleiner hoeveelhede haar aangebied word,” sê hy.

“Hoewel daar tans ʼn verlammende droogte in die sybokhaarproduksiegebied heers, is vanjaar se produksie, verrassend genoeg, beter as verlede jaar sʼn. Waar die invloed van die droogte wel gesien kan word, is in die lae gehalte van die skoonopbrengs. Dit kan toegeskryf word aan die swak weiding en stowwerige veld.”

Die hoogtepunt van hierdie week se veiling was die topdrie bale van Martin & Hein Truter van Oudtshoorn, Sarel du Plessis van De Rust en Roelfie van der Merwe van Aberdeen wat onderskeidelik vir R880/kg, R880/kg en R879/kg verkoop is.

Tydens die vorige veiling wat op 7 September aangebied is, het ʼn rekord gespat toe David Schoeman van De Rust ʼn superstyl- 25 mikron-winterkleinbokkiebaal vir R970/kg van die hand gesit het.

Tydens hierdie week se veiling is daar 500 bale te koop aangebied waarvan 490 (98%) van die hand gesit is. Die drie grootste kopers was Samil, Stucken & Co en Suedwolle wat onderskeidelik 40,9%, 34,1% van 7,2% van die bale opgeraap het.

“Met die volgende veiling wat op 19 Oktober 2021 by die Port Elizabeth Sybokhaarbeurs aangebied word, behoort die aanbod van ʼn uitstekende gehalte kleiner te wees, maar ʼn kleiner hoeveelheid haar sal aangebied word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.