Landbou sê aksie moet op staatsrede volg

Vanjaar is die staatsrede in Kaapstad se stadsaal gehou. (Foto: Facebook)

Die staatsrede wat gisteraand in Kaapstad se stadsaal gelewer is, het uiteenlopende reaksies uit geledere van die landbou ontlok.

Pres. Cyril Ramaphosa het na die ekonomiese heropbou en herstelplan verwys, wat die skepping van werksgeleenthede as die kern van die land se ekonomiese herstel plaas, en gesê dit word tans geïmplementeer. Hy het ook na ’n plan vir ekonomiese herstel en groei wat binne 100 dae opgestel moet word, verwys.

Hy sê verder dat die ramptoestand opgeskort sal word ná samesprekings, om seker te maak dat dit veilig is. Grootskaalse hervorming by Eskom en Transnet is ook genoem. Ramaphosa het dit ook duidelik gestel dat grondhervorming sal voortgaan.

Die Landbousakekamer (Agbiz) het die staatsrede aangeprys en gesê hulle is gereed om saam te werk vir inklusiewe groei.

“Agbiz sien daarna uit om met die regering en ander maatskaplike vennote te skakel om die volhoubaarheid en groei van die sektor, landelike ekonomie en die algehele ekonomie te verseker,” sê Theo Boshoff, Agbiz se uitvoerende hoof.

Hy het egter beklemtoon dat dié momentum nou met aksie opgevolg moet word. “Ramaphosa se 2022-staatsrede is belaai met herstelplanne vir die land se ekonomie, maar die regering se beleidsomgewing maak die uitvoering van dié planne onseker.”

Volgens Agbiz se voorsitter, Francois Strydom, is ʼn bemagtigende omgewing vir ondernemings nou van kardinale belang om beleggers te lok, wat probleme soos werkloosheid en lae ekonomiese groei sal oplos.

“Ons het al voorheen soortgelyke idees gehoor, maar die fokus op energiesekerheid deur gedesentraliseerde kragopwekking, belegging in hawe-infrastruktuur en om derdeparty-operateurs by die spoorweë te betrek, wys dat die sakesektor se bekommernisse op die hoogste vlak aangehoor word.

“Die groei-uitdaging in Suid-Afrika is beduidend en die landbousakesektor is gereed en gewillig om ʼn vennoot van die regering te word, om hierdie inisiatiewe verder as blote retoriek te neem en dit te vertaal tot aksie.”

Boshoff sê die fokus op infrastruktuur is veral opvallend en verblydend, aangesien ʼn groot deel van Suid-Afrika se landbouprodukte per pad vervoer word. “Net soos ons daarna streef om landbouproduksie uit te brei en inklusiwiteit in die sektor ’n hupstoot te gee, het ons dieselfde fokus op energie en logistiek nodig.”

 

Versiersuiker op miskoeke

 

TLU SA sê die staatsrede se woorde klink mooi, maar vra of die regering se aksie in die realiteit tot uitdrukking gaan kom.

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê Suid-Afrika se fokus moet op ekonomiese groei wees soos tereg deur die president gesê word. Daarsonder is daar nie enige kapasiteit om aandag te gee aan enige van die uiters noodsaaklike aspekte nie.

“Die regering se beleidsomgewing is egter nie een wat vertroue in die privaatsektor skep nie en die regering maak baie staat op die privaatsektor deur te sê die regering skep nie werk nie, terwyl die privaatsektor dit wel doen. Tereg voeg Ramaphosa by dat die regering die klimaat skep vir die privaatsektor om werksgeleenthede te skep, maar tans is dit hoegenaamd nie die geval nie.

“Die spreekwoordelike ekonomiese koek moet vergroot word. Vir die ekonomiese koek is die koekbakkers die ondernemers of entrepreneurs en die bestanddele is beleggings. Beleggings wat net sal realiseer indien die beleidsomgewing gunstig is om die nodige vertroue te skep.”

Hy sê oor tyd heen het die regering as gevolg van sy beleid soveel onsekerheid geskep en die gevolg is dat sy bestanddele opgedroog het. “Daar word nou met spreekwoordelike gemaalde beesmis soos kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging, korrupsie en staatsplundering gebak, in stede van koekmeel.

“Die staatsrede het nou al iets soos ’n versiersuikerlagie geword om hierdie onbruikbare en oneetbare koek te laat mooi lyk. In die lig hiervan is dit moeilik om enigsins waarde te heg aan die staatsrede, in die sin dat dit slegs retoriek geword het van ’n spel vir die paviljoen en nou word net die versiersuiker voorgehou as die pad vir die toekoms.

“Suid-Afrika stik nou al lank aan die gevolge van hierdie onbruikbare verdigsel van ’n koek en die probleme soos vervalle infrastruktuur, werkloosheid, swak opleiding in skole, die onvermoë om na die inwoners van die land se veiligheid om te sien en vele ander raak net al hoe erger.”

Hy het wel die president se erkenning van oorregulering verwelkom en so ook die koste van digitale kommunikasie, wat goedkoper sal word.

In reaksie op Ramaphosa se woorde dat landbou die potensiaal het vir grootskaalse werkskepping, het Van Zyl net gesê dat die minimum loon- skaal dié positiewe idee nek kan omdraai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Alles in die “Staatsrede” is om foute en gebreke reg te stel, oor wat nog gedoen gaan word, wat beplan word, verskonings en die herhaling van holruggeryde beloftes. Wat doen hierdie mense die heeldag lank vir 28 jare? Is daar niemand wat probleme kan raaksien en voorkomend kan optree nie? Volgende jaar is dit maar weer dieselfde gesang gesing op dieselfde ou rympie (begelei op die traporrel want Eskom het ALWEER beurt donkerte ingestel).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.