Misnoeë oor kwartmiljard rand aan Safda

Foto: facebook.com/southafricanfarmersdevelopmentassociation

TLU SA sê hy neem met misnoeë kennis van bewyse dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oor die afgelope vyf jaar meer as R246 miljoen aan die South African Farmers Development Association (Safda) gegee het.

Maroela Media het vroeër berig dat hierdie organisasie reeds kort na sy stigting in omstredenheid gehul is weens die ontvangs van buitensporige hoeveelheid geld.

Volgens ʼn parlementêre antwoord aan die DA het min. Thoko Didiza gesê haar departement het R246 664 290 aan Safda betaal, maar daar is geen duidelikheid oor hoe suksesvol die besteding hiervan is nie. Die ooreenkoms tussen die twee partye bevat verder ʼn vertroulikheidsklousule, wat nog meer vrae laat ontstaan oor waarvoor hierdie openbare geld aangewend is.

“Ons is redelik oortuig daarvan dat die gemeenskappe wat veronderstel was om deur hierdie geld bevoordeel te word, geensins beter daaraan toe is nie,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

“Soos met die finansiële hulp wat die regering aan die begin van die Covid-19-pandemie aan kleinboere uitbetaal het, is dit duidelik dat dié wat die geld toeken geen insig in die voedselvoorsiening van Suid-Afrika het nie. Hierdie boere voorsien maar 3% van die nasionale vraag na voedsel. Deur die grootste finansiële ondersteuning aan hierdie groepe en bestaansboere te gee, help geensins om die 68%- verstedelikte bevolking van kos te voorsien nie.

“Dit is vir TLU SA duidelik dat hierdie soort hulpverlening bloot ʼn poging is om mense afhanklik van die staat te hou. Dit is nie volhoubaar nie en gaan niemand op die lang duur bemagtig nie.

“Ons verwag dat die regering ernstig moet besin oor die toekoms van die land,” sê hy. “Die regering beweeg al hoe verder van moontlike oplossings af. Die inwoners van die land begin ook al hoe meer besef dat daar binne die beleidsraamwerk van die ANC nie oplossings is nie. Gemeenskappe sal al hoe meer hulle eie omstandighede vir die toekoms moet skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

Dit het seker maar vir salarisse, administratiewe koste en konsultasies gegaan. En ‘n sak kunsmis. En 5kg mielies. En ‘n paar houers chemikalieë. En iets wat (betekenisvol) soos droë turksvye lyk.

marius ·

Kom kyk maar hoe word die geld by die plaaslike kooperasie bestee. Daar is nou yskaste , mikro golf oonde , roomys , kos , bevrore hoender . ens ens . Dit lyk soos ‘n supermark . Daar word NIKS geboer nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.