‘Moederbees van Afrika’ laat rekord spat

Jumbo. die Boran-bul se bouvorm is iets om van te droom. (Foto: Facebook)

Die Boran-beesras het homself die afgelope naweek opnuut oortref toe ʼn splinternuwe rekord binne net twee jaar opgestel is. Die bul, Jumbo, is vir ʼn asemrowende R2,3 miljoen verkoop. In 2020 het Tarzan dieselfde rekord verbeter toe hy vir R1,7 miljoen verkoop is.

Die eer het Simeon en Jarren Hurwitz Saterdag tydens hul agtste produksieveiling te beurt geval. Hulle besit die grootste geregistreerde Boran-stoet in die wêreld en boer digby Davel in Mpumalanga en hul plaas is ongeveer halfpad tussen Bethal en Ermelo geleë.

Jumbo is die naasduurste bul wat nog ooit op Suid-Afrikaanse bodem verkoop is, maar as jy die rasse inreken wat slegs op vleisproduksie fokus, hou hy die rekord.

Die Suid-Afrikaanse rekord word deur Sebastiaan, ʼn Ankole-bul, gehou. Dié bul is verlede jaar vir R3 miljoen verkoop. Ankole-telers fokus meer op horinglengtes.

Simeon, wat aan die hoof van die Boran-stoetery staan, het aan Maroela Media gesê hulle het van twee aanlyn veilingsmaatskappye gebruik gemaak en die bieëry is reeds Vrydagmiddag oopgestel.

“Teen die tyd dat die veiling begin het, het die prys vir Jumbo reeds op meer as R600 000 gestaan.”

Daar is ook vier ander rekords op die veiling gebreek en die veilingtotaal was R18 072 600.

 

Beesras om mee rekening te hou

Die Borane het in 2011 aandag getrek toe hulle die rekord laat spat het deur die eerste bul in Suid-Afrika, Mr Million, vir ʼn grensverskuiwende R1 miljoen te verkoop. Doemprofete het dadelik voorspel dat dié uitermatig hoë prys ʼn borrel is wat wag om te bars, maar oor die afgelope paar jaar het dié ras met mening teruggekeer.

Christopher Havenga, wat al ses jaar rasdirekteur van die Boran Beestelersgenootskap is, sê die mark is oop vir enige ras en elkeen kan besluit wat hy vir ʼn Boran wil betaal.

“Die aanvraag is daar, nuwe telers kom steeds by en ons teelbeleid is duidelik,” sê hy.

“Ons het stelselmatig dié ras as die ‘moederbees van Afrika’ begin vestig en volgens streng seleksie en teling slegs die beste diere op die veilings en skoue geplaas.”

Tydens die Borane se nasionale veiling twee weke gelede was daar 60 verskillende telers en die hoogste prys vir ʼn bul was slegs R500 000, maar Havenga sê hy is tevrede.

Goeie gemiddelde pryse is belangrik, want dit dui op stabiliteit en maak dit makliker vir nuwe toetreders.

 

Simeon en Jarren Hurwitz. (Foto: Facebook)

 

“As jy kyk hoe die wêreld se bevolking ontplof, gaan mielies eendag slegs vir menslike gebruik gereserveer word. Ons sterkpunt en fokus is om met ʼn laer onderhoudsbees meer kilogramme vleis per hektaar af te haal. Hoewel ons beeste uitstekend aangepas is om op weiding te oorleef, selfs in droë en nat toestande, presteer hulle ook in voerkrale.”

Hy sê die gemiddelde daaglikse toename (GDT) wat hulle in kraaltoetse bereik het, is 1,6 kg, maar daar is heelwat uitskieters wat beter vaar. Daarbenewens is die vleis se vetverspreiding ook baie goed.

“Ons teel ook vir vrugbaarheid sodat die koeie, wat maklik in ʼn goeie kondisie kom, vinnig beset kan raak. Selfs wanneer jou kruisdiere slegs 25% Boran-bloed inhet, kom die goeie eienskappe steeds sterk deur.”

Dié ras staan vandag op meer as 260 telers en is oor die hele Suid-Afrika in elke provinsie aangepas. Daar is ook telers in Swaziland, Botswana, Namibië, Zimbabwe en Zambië.

 

Pioniersboere

Havenga is ook hoogs tevrede met die prys wat Jumbo behaal het en sê dié bul is uniek, met ʼn pragtige voorkoms. Die stukkie wysheid wat hy deel, is dat ʼn bul slegs goed is as hy ʼn nageslag kan teel wat beter is as hyself – en dit kan vandag gesien word as daar na Jumbo se nasate gekyk word.

Die Hurwitz-familie het reeds in 1993 pionierswerk begin doen toe hul oupa, dr. Barney Hurwitz, embrio’s vanaf Zambië ingebring het om ʼn kudde te vestig.

Toe die twee broers in 2009 die boerdery oorgeneem het, het hulle al bekendheid verwerf vir die streng sake- en boekhoubeginsels wat hulle gehandhaaf het. Hulle het ook vinnig ʼn hele paar vertakkings op die been gebring.

Buiten die 3 000-sterk geregistreerde Boran-stoet het hulle ook ʼn geregistreerde Afrika Droughtmaster-kudde en kommersiële beeste, altesaam ongeveer 5 000 beeste op die plaas. Hulle bedryf ook ‘n groot voerkraal en verbou gewasse op 3 300 ha.

Hulle het ook die stap gewaag om verder in die waardeketting betrokke te raak met ʼn kuilvoerkontrakteursonderneming wat oor die hele land werk. Hul skouring, wat teen die N17 gebou is, is oop vir ander maatskappye en daarmee saam is ʼn fasiliteit beskikbaar waar boeredae gehou en opleiding gedoen word.

 

Daar word ernstig sake gedoen rondom Hurwitz-boerdery se Bull Ring. (Foto: Facebook)

 

Hulle is ook die verspreiders van die Duitse Budissa-kuilvoertonnelsakke.

Simeon vertel Jumbo was ʼn embriokalf waarvan die ma en pa uitstekende genetika gehad het. Hy is vroeg tussen die ander kalwers gelos en het normaalweg op die plaas grootgeword.

“Maar eendag, uit die bloute, het die bulletjie net ontpop en ek het geweet hier is iets spesiaals. Ek het hom eenkant gesit en begin gebruik as ʼn teelbul. Hy is ingespan vir konvensionele teling en ons tap ook sy semen vir kunsmatige bevrugting. Ons het hom ook vir bemarkingsdoeleindes gebruik.

“Ek het wel heelwat van sy semenstrooitjies teruggehou, want Jumbo bly ʼn belegging en ons wil sy nageslag in ons boerdery laat voortleef.”

Jumbo is deur die bekende Cuturi-familie, eienaars van die Mutanda-boerdery in Zambië, gekoop en is op pad om die Zambiese nasionale kudde ʼn aansienlike hupstoot te gee.

Simeon sê hy vermoed die hoë pryse wat deesdae vir diere behaal word, het te doen met die skielike fokus op voedselsekerheid, “maar wie sal weet …?”.

Hurwitz-boerdery se somerveiling is op 11 Oktober en dit gaan ongetwyfeld baie ernstige stoet- asook kommersiële telers lok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Twallie ·

Ken baie boere in Limpopo wat boer met Brahmane en Simmentalers ook.

SjN ·

Laat my dink aan die eksotiese wild, wat sal die kruising so uniek maak, pryse word kunsmatig opgeblaas vir reklame en btw doeleindes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.