Nampo Kaap: Landbouleiers bespreek groen energie

Die amptelike bekendstelling van Son SA ‘n jaar gelede by Sakeliga KragDag buite Pretoria (Foto: Agri X/Facebook)

Leiers van Agri Wes-Kaap, Saai en TLU SA sit môre koppe bymekaar om ʼn uitweg vir beurtkrag in die landbou te vind, asook ander energieverskaffingsopsies te ondersoek. Hierdie paneelgesprek vind om 17:00 in die Kokkedoor-ateljee in Struisbaai plaas en val saam met Nampo Kaap wat tans in Bredasdorp, 32 km daarvandaan, aangebied word.

Paul Swart, die burgemeester van die Kaap Agulhas-streek; Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri SA; dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai; en Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, is deur Son SA, ʼn jaar oue organisasie met die doel om private energieverskaffing meer vaartbelyn te maak, uitgenooi om ʼn landboublik op die saak te werp.

Die gesprek gaan deur Herman Roos, Son SA se direkteur van landbou en ʼn tabakboer in Brits, gelei word.

Die R1,2 miljard-landbouenergiefonds wat deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, bekend gestel is, gaan onder die loep geneem word, veral of dit werklik tot voordeel van landbou gaan wees en die mense op voetsoolvlak gaan bereik.

Daar gaan gekyk word na die uitwerking wat beurtkrag op landbou het, rakende gewasproduksiekoste, oesverliese en hoe dit aan die einde die verbruiker se sak gaan raak.

Die vraag of beurtkrag daartoe bydra dat misdaad in landelike gebiede toeneem, gaan bespreek word, asook watter bykomende vereistes aan boere gestel word.

Die algehele gevoel onder boere oor beurtkrag en wat op grondvlak bespreek moet word, gaan ook aandag geniet.

Die rol van ʼn burgemeester se verantwoordelikheid buite die dorp in die landelike gebiede gaan ook bespreek word.

Son SA se projek val saam met Nampo Kaap se tema, “Groen evolusie-revolusie”, en sy stalletjie is in die middel van die skouperseel opgerig. Die bekende joernalis en aanbieder van Nuuspod, Izak du Plessis, saai vanaf dié standplaas uit. Skougangers kan ook na nuutskeppings gaan kyk soos ʼn voorstelling van die “boere-ferrari”, ʼn batteryaangedrewe bakkie wat tans in Suid-Afrika gebou word. Juan Tomlinson, uitvoerende hoof van Son SA sê die battery maak nie van lituimtegnologie gebruik nie en kan dus nie brand nie. Dié nuwe battery is ook die helfte ligter as ‘n soorgelyke litiumbattery.

 

Die boere ferrari kan ongeveer 400km ver op ‘n enkele lading ry en herlaai vir slegs 10 minute op driefase-krag of 4 ure op gewone huiskrag. (Foto: Verskaf)

 

Die boere ferrari se prototipe in wording. (Foto: Verskaf)

 

“Son SA poog om alternatiewe oplossings te verskaf om die druk van beurtkrag te verlig en om te verhoed dat daar ooit ‘beurtkos’ sal wees,” sê  Tomlinson.

“Bykomend tot die inisiatief vir alternatiewe energie is ‘Be the change’ gestig om bystand aan maatskaplike projekte te bied, om ʼn verskil te maak. Vir ons eerste geldinsameling het ons dr. Theo de Jager uitgenooi om ʼn ‘Ontbyt met Theo’ te geniet. Dit vind Saterdag van 09:00 tot 11:00 by die Catchcook-restaurant en Beach Bar, ook in Struisbaai, plaas.”

 

Dr Theo de Jager in die ateljee by Nampo Kaap. (Foto: Verskaf)

 

Hy sê daar gaan ʼn buffetete voorgesit word, terwyl daar oor die bedrywige Struisbaai-hawe uitgekyk word. Altesaam 30 tafels is beskikbaar teen R5 000 vir ʼn 10-sitplek-tafel.

Die maatskaplike projekte wat “Be the change” beplan, behels die oprigting van onder meer sonpanele en groentetonnels vir skole, kinderhuise en ander hulpbehoewende instellings.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.