Nisboere se susterreeks sien die lig

Rozanne McKenzie en Wilson B. Nkosi gesels met die heuningboer, Mmabatho Portia Morudi (links) tydens die eerste episode van Niche Farmers. (Foto: Du Preez de Villiers)

Daar heers groot opgewondenheid oor Nisboere se susterreeks, Niche Farmers, wat pas bekendgestel is. Die eerste episode is tydens ‘n spoggeleentheid, oos van Pretoria, aan die gaste vertoon.

Die reeks sal vroeg in Augustus vir die publiek te siene wees en op e.TV en eExtra uitgesaai word. Dit sal kykers in Suid-Afrika, Nigerië, Ghana, Kenia, Uganda, Namibië, Botswana, Malawi, Zambië, Angola, Mosambiek, Tanzanië, DRK en Kameroen bereik.

Maroela Media het die geleentheid bygewoon en met dr Christo van der Westhuizen, uitvoerende hoof van Brand et al, wat die vervaardiger van beide programme is, gaan hoor hoe die Nisboere-konsep die lig gesien het.

In teenstelling met Nisboere, het hy elke woord in Niche Farmers se draaiboek geskryf. “Dit is min dat ek die teks vir ons programme skryf en hoewel ek geen familie in die landbou het nie, is hierdie vir my ʼn hartsaak.”

Hy sê die idee is agt jaar gelede gebore toe hy vir Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem, ontmoet het. Laeveld Agrochem is ook weereens die hoofborg.

Die twee breine agter Nisboere en Niche Farmers is dr. Christo van der Westhuizen en Corné Liebenberg. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Nisboere en Niche Farmers gee nuwe betekenis aan die begrip boer. Landbou is nie net graan, rooivleis of vrugte nie,” sê Van der Westhuizen.

“Nis beteken spesialis en jy kan ʼn klein of groot nisboer wees – iets wat ons wil vestig. Ons fokus nie op gemengde boerderye nie.

“Met Nisboere probeer ons ook ʼn antitese skep vir programme wat net op groot of megaboere fokus. Ekonomiese werklikhede as sulks bepaal dat dit nie vir almal moontlik is om ‘n groot plaas te gaan koop nie. Megaboere praat die heeltyd van ekonomie van skaal, jy moet meer en meer grond kry om te oorleef, maar wat is die jukstaposisie daarvan? Wat kan ons doen wat presies andersom werk, waar jy ʼn hoër ekonomiese waarde kan koppel aan ʼn boerdery wat op ʼn kleiner skaal bedryf word?”

Hy voer aan dat dit ʼn geleentheid vir mense bied wat wel wil boer, maar nie die finansiële vermoë het om iets baie groters te begin nie.

“Nisboere en Niche Farmers is ‘n bepaalde konsep om aspirantboere te begeester om iets in ʼn klein ruimte, soos ʼn enkelmotorhuis te begin en dan stelselmatig uit te brei.”

Hy noem voorbeelde soos akwaponika, saffraan- en perlemoenplase en heuningboere wat die span reeds besoek het.

Hy sê ʼn program soos Nisboere het nie ʼn raklewe nie. “Ons het reeds ses seisoene van 16 episodes elk geskiet en daar is steeds ʼn onuitputlike bron van temas. Die gemiddelde mens eet slegs nege voedselsoorte in sy lewe, maar daar is ongeveer 50 000 landbouprodukte op aarde.

“Daar gaan ʼn verskil in aanslag met Niche Farmers wees. Ons maak ʼn reeks vir swart boere wat meer insluitend is vir ander talentvolle, begerige mense, wat hou van die aarde en daarvan hou om met hul hande te werk en strategies te dink oor hierdie dinge.”

Liebenberg is een van die bekende gesigte op Nisboere wat die plase besoek het en hy is net so opgewonde oor Niche Farmers. Hy sê dié jongste breinkind gaan ook plase besoek, maar die program gaan meer in die ateljee afspeel sodat daar meer kennis en inligting oorgedra kan word.

Die twee gesigte van die reeks is Wilson B. Nkosi en Rozanne McKenzie, beide ervare televisie-aanbieders.

Baie besonders is dat die program se temalied, “Together we rise,” deur Nkosi geskryf is. Tydens die bekendstellingsgeleentheid is die lied deur die internasionaal bekroonde Mzansi-Jeugkoor opgevoer. “Die lied se boodskap is om mekaar te help, om hoop te bring in ‘n dikwels-hopelose wêreld en dit is presies waaroor Niche Farmers gaan,” sê hy.

Liebenberg sê toe hulle sewe jaar gelede begin het, was dit ʼn droom. “Ons het nie besef dat dit so vêr gaan ontwikkel nie – daar is geskiedenis gemaak en as dit gaan uitspeel soos ons verwag, gaan dit baie Suid-Afrikaners se lewens verander. Dit was altyd ons plan om met Afrikaans te begin en dan ook ʼn reeks in Engels bekend te stel.

“Ons het ʼn droom om die land weer stabiel te kry. Ons het ons tande geslyp in Afrikaans en nou gaan ons ʼn wyer gehoor bereik.”

Nisboere gaan wel steeds voort.

Die akteur, Anton Schmidt gesels met Philip Venter en Corné Liebenberg, die twee aanbieders van Nisboere. (Foto: Du Preez de Villiers)

Phillip Venter van Laeveld Agrochem is die ander bekende gesig op Nisboere. Hy sê ook dat ons land ʼn program soos Niche Farmers broodnodig het.

“Daar moet rigting in landbou kom sodat daar werk geskep kan word om ekonomiese groei te stimuleer. Dit is min dat [ontwikkelings]projekte werk, want daar is nie behoorlike opleiding of kennisoordrag nie. Niche Farmers gaan oor idees deel.”

Van der Westhuizen het ʼn probleem met die woord, produsent, “want dit klink soos iemand wat tafels maak. Ek hou meer van die woord, boer.”

Hy sluit af met ʼn besondere stukkie wysheid. “Daar is ʼn negatiewe politieke konnotasie aan die woord boer.

“In die program dekonstrueer ons die begrip – hoe meer swart boere ons inbring, hoe meer gaan dit verander. Swart boere het geen bagasie nie en as daar samewerking is, veral tussen wit en swart mense, gaan ons ʼn beter gevoel hê oor die woord, boer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.