Organisasie gestig teen bek-en-klouseer

Die rooivleisbedryf tree nou daadwerklik op teen bek-en-klouseer. (Foto: Willie Ferreira)

ʼn Dringende inligtingsessie is vroeër die week gehou waarby rolspelers in die rooivleisbedryf betrek is, om saam te besin oor hoe die bek-en-klouseer-krisis hanteer gaan word.

Een van die uitkomste was om ʼn operasionele organisasie te stig wat die krisis by die horings gaan pak.

Die byeenkoms wat op Nampo Park buite Bothaville gehou is, was deur ongeveer 315 individue bygewoon, wat volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) duidelik wys dat bek-en-klouseer ʼn prioriteit vir alle rolspelers binne die rooivleisbedryf is.

Bek-en-klouseer bedreig die uitvoer van rooivleis, wat ʼn lewensaar vir die bedryf en die land se ekonomie is.

Volgens kenners word die probleem vererger omdat boere nie meer ʼn uitbreking wil rapporteer nie, want die staat kan nie meer soos voorheen die besmette diere van kant maak en dan die boere daarvoor vergoed nie.

Die besmette beeste word nou onder kwarantyn geplaas, maar dan gee ʼn boer vir alle praktiese doeleindes sy boerdery aan die staat oor.

Die beheerde gebied word ook nie voldoende gemoniteer nie en opportuniste slaag daarin om hul diere uit die gebied te neem.

Die krisis raak inderwaarheid nou so ernstig dat dit politici se aandag getrek het, wat reeds kritiek teen die skuldige partye gelewer het.

Kry almal bymekaar

Die doel van die byeenkoms was om insette van bedryfsrolspelers, die regering, veterinêre praktisyns, voerkraaleienaars, veilingsagente en produsente te verkry.

Die RPO, SA Voerkraalvereniging (SAFA), Nasionale Opkomende Rooivleisprodusente-organisasie (Nerpo) en die Rooivleisslagpalevereniging (RMAA) was onder die betrokkenes. Daar is onder die vaandel van die Rooivleis en lewendehawe primêre kluster vergader, wat ten doel het om belanghebbendes aan die primêre kant van die bedryf te verenig.

Maroela Media het by Dewald Olivier, uitvoerende hoof van SAFA en woordvoerder van die primêre kluster, gaan uitvind wat die plan vorentoe is.

Hy sê die skakeling en bespreking was konstruktief. “Daar is besluit dat ʼn dokument deur die Rooivleisbedryfsdiens (RMIS) en die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF) binne die daaropvolgende 72 uur opgestel gaan word. Insette sou ook deur ʼn verteenwoordiger van die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) gelewer word.

 

Onverdeelde visie

Die RMIS is ʼn nuwe organisasie wat sy werksaamhede op 5 November gaan afskop en “dit gaan ʼn organisasie wees wat gaan werk waar die tekkie die teer tref,” sê Olivier.

“Daar is reeds geld bewillig uit die statutêre heffings, asook vanaf AgriSETA.”

Hy sê die vier primêre klusterlede, SAFA, RPO, Nerpo en RMAA, gaan hul bedryfsverskille opsy skuif en elk ʼn verteenwoordiger aanstel, saam met ʼn onafhanklike voorsitter. Daar gaan ook veeartse en ander spesialislede dien en daar gaan volgens streng wetenskaplike beginsels gewerk word om bek-en-klouseer te bekamp.

“Ons gaan ook ʼn vertrouensband met die staat bou en hul hand versterk en dan stelselmatig van hul verantwoordelike oorneem.

“Ons gaan al ons hulpbronne saamvoeg om ook funksies soos verbruikersopvoeding, transformasie en die skepping van marktoegang te bied.”

Distrikslandbou-unies gaan ook met hul uitgebreide kameranetwerke op plattelandse agterpaaie, help om foto’s en nommerplate en die rigting van beweging van verdagte voertuie wat diere vervoer, te verskaf.

 

Ongewilde voorstelle

ʼn Voorstel om nasionale veilings op te skort, is dadelik verwerp.

Daarna is ʼn voorstel ter tafel geplaas om weer ʼn verbod op veilings in Limpopo te plaas, maar dr. Mpho Maja, die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se direkteur van dieregesondheid, het dit onomwonde gestel dat dit nie ʼn oplossing is nie en dit ʼn groot invloed op die lewendehawebedryf kan hê.

ʼn Voorstel om deur inenting ʼn bek-en-klouseervrye-status te verkry, is gemaak, asook inenting deur voerkrale. Maja het die voor-die-voet-inenting-voorstel geopponeer en gesê dit sal ʼn groot invloed hê op uitvoermoontlikhede, want ingeënte beeste is nie gewild in die buiteland nie.

Volgens Olivier was Maja wel te vinde om private veeartse te betrek om die staat te help met die monitering van die beheerde gebied en om inentings uit te voer as dit by die punt kom, maar Olivier sê om 1,5 miljoen beeste slegs in Suid-Afrika se voerkrale in te ent, gaan ʼn ontsaglike groot taak wees.

 

Drastiese korttermynplanne

Die vergadering het die oortreding van die Wet op Dieregesondheid streng veroordeel en het by die nasionale departement van dieregesondheid gepleit dat die individue wat skuldig is aan die vervoer van diere uit die beheerde gebied, asook die kopers van sodanige diere, daadwerklik vervolg moet word.

Olivier voel egter dat dit tyd geword het vir meer drastiese optrede. “Ons voel baie sterk dat diere wat positief toets dadelik van kant gemaak moet word, natuurlik op menslike wyse. Ons sal selfs die dierebeskermingsvereniging uitnooi om te kom kyk.

“Hoeveel daar implikasies sal wees, soos dat die eienaars ons kan dagvaar, sal hulle as misdadigers nie maklik aksies van stapel stuur nie.

“Die onwettige handel in besmette diere raak nou die bedryf se probleem wanneer daardie diere in die waardeketting beland. Ons kan dit nie meer bekostig nie.”

ʼn Voorbeeld is dat Karan Beef, met sy 210 000 beeste, wat elke dag 56 groot skakel-vragmotors se voer in hul voerkrale gebruik, nie vir ses maande kan stilstaan as daar een bees is wat met bek-en-klouseer besmet is nie.

Die vergadering het ook voorgestel dat die beweging van diere tot die minimum beperk moet word en ook slegs in noodsaaklike gevalle.

Die vergadering het vee-eienaars aangemoedig om aan basiese kuddegesondheidsprotokolle te voldoen en wanneer nuwe diere ingekoop word, dié diere se gesondheidstatus vooraf vas te stel.

Indien dieregesondheid nie gewaarborg kan word nie, moet die diere in kwarantyn gehou word, apart van ander diere, vir die voorgeskrewe tydperke soos in wetgewing vervat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.