‘Verspreiding van bek-en-klouseer kan voorkom word’

Botswana het die invoer van vee verbied nadat bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal uitgebreek het. (Foto: Maroela Media)

Die veiligheidsnet wat veronderstel was om die verdere uitbreking van bek-en-klouseer te voorkom, is klaarblyklik vol gate en dit kan reggestel word deur bestaande maatreëls streng toe te pas, meen Tammy Breedt, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landbou.

“Die jongste uitbreking van dié siekte in Gauteng en Noordwes kan in alle waarskynlikheid toegeskryf word aan die onwettige vervoer van besmette diere vanuit oostelike gebiede in die land waar maatreëls en die nodige sone-omheinings nie in plek is nie.”

Die onmiddellike gevolg hiervan was dat China ’n verbod geplaas het op die invoer van gesplete hoefdiere en hul produkte, soos wol, vanuit Suid-Afrika.

Suid-Afrika voer sowat 80% van sy wolproduksie uit na China wat sowat R4,8 miljard verteenwoordig.

“Hierdie verwikkeling raak die groter Suid-Afrikaanse ekonomie direk wat probeer om die skadelike gevolge van Covid-19-regulasies af te skud, veral nou met die beëindiging van die ramptoestand.”

Breedt sê Suid-Afrika se landbougemeenskap moet al voel of die Bybelse plae hulle teister met ’n stryd teen bek-en-klouseer, bloutong, Afrika-varkgriep, voëlgriep, sprinkaan-, vlieë- en muggieplae, brande, ’n uitgerekte droogte en daaropvolgende vloede wat tot verdere verwoesting en vernietiging lei.

Streng beheermaatreëls teen bek-en-klouseer is ná die wye uitbreking van 2019 in plek gestel en geld is bewillig vir die veilige sones om toe te sien dat besmetting nie versprei nie.

“Alhoewel Suid-Afrika se nasionale regering ʼn oorsigrol oor dieregesondheid vertolk, is die verantwoordelikhede hierom afgewentel na die provinsiale departemente wat moet toesien dat maatreëls en die instandhouding van nodige omheinings uitgevoer word,” verduidelik sy. “Die jongste uitbreking dui daarop dat dit nie gedoen word nie en dit laat vrae ontstaan oor die regering se moniterings- en oorsigrol en beheer oor provinsies se uitvoering van bestaande maatreëls en die instandhouding van die veilige sones se omheinings.”

Provinsies het wel ’n tekort aan staatsveeartse wat direk verband hou met die nie-nakoming van maatreëls, maar kaderontplooiing en sy onafwendbare uitvloeisels soos onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie, speel ’n groot rol in die bestaande probleme, voeg Breedt by.

“Die feitlik insolvente Landbounavorsingsraad (LNR) het byvoorbeeld in die eerste drie kwartale van die vorige boekjaar sowat R400 miljoen terugherlei na provinsies vir die bekamping van bek-en-klouseer nadat dit aanvanklik nie gebruik is nie.”

Met die vorige uitbreking in 2019 het Suid-Afrika sy internasionale status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid verloor wat ’n swaar slag vir landbou en die veebedryf in besonder was.

“Die VF Plus sal in verdere gesprek tree met die nasionale departement om toe te sien dat uitvoering gegee word aan maatreëls wat reeds in plek is en dat die nodige instandhouding aan sone-omheinings gedoen word.”

Die departement van landbou en landelike ontwikkeling in Noordwes het intussen gesê ʼn span veeartse werk hard om seker te maak dat alle voorsorgmaatreëls toegepas word om die verdere verspreiding van bek-en-klouseer in die provinsie te voorkom. Volgens die departement is vyf plase in kwarantyn geplaas en plase wat in kontak was, is in voorlopige kwarantyn geplaas ná bek-en-klouseer onlangs in Potchefstroom.

Die departement het ook aangekondig dat ongeveer 217 vee, insluitend skape en bokke, wat op ʼn veiling in Potchefstroom verkoop is, opgespoor is in Vanderbijlpark, Westonaria en Kempton Park; Vrystaat en Ventersdorp en Potchefstroom in Noordwes. Die plase is reeds besoek.

Die departement doen ook ʼn beroep op boere om nie paniekerig te raak en hul diere teen bek-en-klouseer in te ent sonder magtiging nie. “Inentings sonder magtigings kan daartoe lei dat ingeënte diere positief toets en geklassifiseer word as besmette diere en verdere maatreëls kan teen die plaas ingestel word.”

Dit is nie toelaatbaar om beeste en varke in Noordwes teen bek-en-klouseer in te ent nie en inentings van dié aard is dus onwettig, sê die departement. “Die verkope van die entstowwe is ook onwettig. Inentings vir dié doeleinde moet geregistreer en goedgekeur word deur die nasionale direkteur vir dieregesondheid.”

Parks Tau, LUR van ekonomiese ontwikkeling, landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling in Gauteng, het intussen ʼn beroep op boere in sy provinsie gedoen om uiters bedag te wees op tekens van bek-en-klouseer.

“Alle verdagte gevalle moet dadelik aangemeld word by veeartseny-dienste vir verdere ondersoek. Boere word ook aangeraai om ekstra voorsorgmaatreëls in te stel en nie vee (insluitend) beeste, skape, varke en bokke aan te koop van verkopers wie se dieregesondheidstatus onbekend is nie en veral nie in bestaande bek-en-klouseer gebiede geleë is nie.”

Tau sê die siekte is bevestig op ʼn plaas in die Randfontein-gebied en verdagte gevalle word ondersoek in Tarlton, Fochville, Wallmansthal en Onderstepoort.

Boere kan moontlike tekens van bek-en-klouseer aanmeld by hul naaste veearts of die Randfontein-kantoor: dr. Jaison Mpofu 072 900 0869, Germiston-kantoor: dr. Duma Mpofu 071 543 3028 en Pretoria-kantoor: dr. Nadia Jordaan 072 904 2478.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tweeling ·

Die besmette diere van Ventersdorp kom vanaf Limpopo nie die ooste nie, dis onwettig oor die rooilyn vervoer, sit daai man in die tronk. Veilings is opgeskort en die boere verloor miljoene aangesien die prys op speen kalwers skerp gedaal het. Dit agv een wat dink hy is verhewe bo ander

domheks ·

Maar net nog ‘n bewys dat anc nie weet hoe om ‘n land te bestuur nie! Alles moet mos vanself regkom geen onderhoud geen instandhouding vir amper 30 Jaar nie! Kyk na sprinkaan plaag nou bek-en-klou seer. Wat is volgende??

mattk ·

Die kaders en hul ondersteuners koop ook net meer en meer beeste aan sonder dat hulle enige grond besit en dan word die laat wei net waar hulle wil “want hulle kan”. Daar is geen voorkomende optredes teen dieresiektes nie, want hulle het nie die ondervinding of die geld daarvoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.