Bek-en-klouseer in Gauteng: China weier SA wol

Die wolbedryf verkeer onder ernstige druk weens die bek-en-klouseer uitbrekings. (Argieffoto)

Bek-en-klouseer is besig om al wyer uit die beheerde gebied uit te kring en die jongste geval is in Gauteng aangeteken.

Park Tau, die Gautengse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, het aangekondig dat daar ʼn uitbreking op ʼn plaas in die Randfontein-distrik was. Moontlike gevalle word ook in Tarlton, Fochville, Wallmannstal en Onderstepoort ondersoek.

Aanduidings is daar dat die besmette beeste op dieselfde veiling was as die besmette beeste wat verantwoordelik was vir die uitbreking twee weke gelede op ʼn plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp. Laasgenoemde geval kan toegeskryf word aan die onwettige verskuiwing van besmette beeste uit die bek-en-klouseer-siektebeheergebied in die ooste van die land.

Intussen is daar uit China aangekondig dat daar ʼn verbod op die invoer van gesplete hoefdiere en hul produkte uit Suid-Afrika geplaas is, weens die uitbrekings.

Volgens Cape Wools SA het dit ʼn massiewe impak op baie nywerhede in Suid-Afrika, wat groot volumes van bogenoemde produkte na China uitvoer. Een daarvan is die wolbedryf, wat ongeveer 80% van die 45 miljoen kg wat elke jaar geproduseer word, in die vorm van vetwol, na China stuur.

Die nasionale wolskeersel genereer sowat R6 miljard se inkomste uit uitvoere per jaar.

Maroela Media het by Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools SA, gaan uitvind wat hierdie verbod vir die wolbedryf inhou.

Hy sê hierdie wending is vir hom baie duister.

“Toe bek-en-klouseer in 2019 buite die beheerde gebied uitgebreek het, het China ook ʼn verbod op die invoer van wol ingestel. Ons het toe ʼn stelsel in plek gesit om bek-en-klouseer uit te skakel. Elke baal wol vir uitvoer na China is geïsoleer is en vir 28 dae onder 18 grade gehou. Dan het die staatsveearts elke baal geïnspekteer en gesertifiseer voor dit op die skip gelaai is. Na agt maande het die Chinese owerhede die verbod opgehef.

“Nou het die situasie homself herhaal, maar ons stelsel is steeds in plek, so dit maak nie sin dat hulle weer ʼn verbod ingestel het nie.”

Hy sê hy vermoed wel dat die Chinese hierdie keer bekommerd is oor die skaal van die uitbreking.

“Ons het nou vergaderings met die direkteur generaal van landbou en ander rolspelers belê. Ons groot taak is nou om China te laat verstaan dat ons stelsel steeds in plek is en daar geen gevaar in die uitvoer van wol skuil nie.

“Alles behoort spoedig opgeklaar te word, tensy China nuwe voorwaardes in plek sit.”

Saayman sê daar is tans R300 miljoen se wol op die water en R700 miljoen se wol wat gereed is om gelaai te word en waarvoor daar reeds betaal is.

Wolveilings is intussen uitgestel tot daar meer duidelikheid vanaf die Chinese owerhede oor die duur en presiese aard van die verbod verkry is.

Cape Wools SA voer aan dat die belangrikheid van die Suid-Afrikaanse wolbedryf nie oorbeklemtoon kan word nie, want dit ondersteun ongeveer 40 000 kommunale en 8 000 kommersiële boere, hul gesinne en hul afhanklikes, sowel as die plaaswerkers wat in die bedryf werksaam is. Dit is veral kommunale boere wat staat maak op die Chinese mark vir die verkoop van hul wol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JL ·

Swak beheer. Die naweek verby verskeie voertuie gery op N1 en N4 wat bokke, varke geslag (agter op ‘n bakkie) lewendige varke en beeste wat vervoer word tussen provinsies. Menige TMPD, SAPD en verkeerspolisie wat rondstaan onder bome by tolhekke en onbenullige aftrek van vragmoters na hulle alreeds deur die weegbrûe gegaan het. Nie een van die voertuie wat diere uit B&K gebiede vervoer is afgetrek nie.

Manie ·

Doen dieselfde, Chinese Covid tref SA, SA weier Chinese burgers.

Janine ·

“Intussen is daar uit China aangekondig dat daar ʼn verbod op die invoer van gesplete hoefdiere en hul produkte uit Suid-Afrika geplaas is, weens die uitbrekings.” Koddig! Hulle was nie so bekommerd om ‘n virus die hele wêreld in te stuur nie. Gemors.

Hennie ·

Weereens, ons voer Roy grondstowee uit en voer dit in teen belaglik pryse. Hoekom be werk ons nie die wol self en voer dit dan uit nie? Flippit man, dis hoekom ons hier vergaan van die honger. .. Dis pure onnoselheid!

piet ·

Presies, ons moet ‘n land van vervaardiging word. Sal al ons mense werk gee.

Manie ·

Die unies, minimum loon, SEB en alewige stakings en vernietiging van eiendom is seker van die hoof redes hoekom SA wat so baie potensiaal het om te kan vervaardig, nie meer as ‘n moontlikheid gesien word nie. As die dom skepsels net kan insien dat hulle almal beter af gaan wees wanneer almal werk het.

FBS ·

Wonder waar is die DBV nou. Hulle is so gou om in te meng by wild wat niks met hulle tye doen het nie maar wanneer dit by diere soos beeste, honde en katte kom is hulle nêrens te sien nie. Snaaks genoeg dit is hulle eindelike pligte om na die diere om te sien en probleme te verhoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.