Saai gryp in teen ANC-grondgrypers

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. (Foto: Anja van der Merwe)

Die debakel rakende Ivan Cloete, wat ’n derde keer van sy plaas in die Wes-Kaap afgeskop is om vir ’n voormalige ANC-parlementslid plek te maak, het wyd plaaslik en in die buiteland opslae gemaak. Dit is ongelukkig nie ʼn geïsoleerde geval nie.

In Mpumalanga is daar tans 39 swart boere wie se verblyfreg beëindig is om vir ANC-kaders plek te maak. Hulle is baie min tyd gegee om hul verblyfplek te ontruim, en geen alternatiewe heenkome is tot dusver vir hulle aangebied nie. Hulle het intussen saam met AfriForum begin werk om hul eie regsaksie teen die regering van stapel te stuur.

In die Oos-Kaap is Vuyani Sigana ná nege jaar van sy plaas afgeskop om vir ’n welvarende ANC-kader, wie se sakeondernemings en verskeie ander plase reeds uit staatsprogramme voordeel trek, plek te maak. Vuyani se beeste moet op padskouers wei terwyl hy wag om ’n alternatiewe plaas te kry. ’n Buurman van Vuyani se melkery gaan tot niet omdat iemand met ’n ANC-lidmaatskapkaart uit die bloute sy plaas met die seën van die departement oorgeneem het.

Verskeie ander suksesvolle swart boere in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Mpumalanga aan wie die staat plase as “huurders” en “toesighouers” in die herverdelingsprogram toegeken het, is summier van hul grond afgeskop om dit aan polities verbinde persone te gee.

“Hierdie swart boere het met groot opoffering en byna geen hulp van die staat nie hul boerderye en die staatsplase ontwikkel. Die verwagting was om ʼn langer huurkontrak te kry, maar helaas sit hulle nou op straat,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Saai tree vir ’n aantal van hulle op, en vind dat die grondsakedepartement, wanneer regstappe gedoen word, bloot aan die slagoffers nuwe plase gee waarop daar reeds ander begunstigdes gevestig is. Die probleem word telkens net na ’n volgende slagoffer aangeskuif. “Ons het nou reeds wyd met boere in die Transkei- en die Tzaneen-omgewing oorleg gepleeg en daar is van hulle wat graag hul grond wil koop uit vrees dat die staat hulle gaan uitsmyt,” sê hy.

Saai is bekommerd dat die betrokke departement regtig ook geen benul het wat op die staatsplase gebeur nie, dat hul administrasie so chaoties is dat hulle nie toegang tot hul eie rekords het nie, en dat hulle onder die indruk is dat daar op 700 staatsplase niemand is teenoor wie die staat ’n kontraktuele verantwoordelikheid het nie.

In gesprekke wat Saai sedertdien met ambassades gehad het en in digitale vergaderings met buitelandse landbou-unies en projekgroepe, gons dit oor die skreiende boelietaktiek wat die ANC teenoor opkomende boere openbaar, net om mense uit die partypolitieke binnekring te bevoordeel.

“Ons het hier nie met arm mense te doen nie. Die ‘veterane’ wat hardwerkende swart boere se plase gekry het, gaan deur geen deursigtige keuringsproses nie. Hulle het almal reeds ’n verskeidenheid van ander plase en ondernemings. Dit is nie ’n nuwe klas suksesvolle swart boere wat hier geskep word nie, maar bloot nog ’n voerplek vir dieselfde ou bende trogvreters wat Suid-Afrika in die huidige jammerlike toestand laat beland het,” sê De Jager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Groen Ghoen ·

Sjoe…so kom die waarheid oor grondverdeling op die lappe. Maar moenie bekommer nie: Sodra die SAL weer vlieg, die 80% bankrot munisipaliteite funksioneer, die rou riool uit die Vaalrivier is, Eskom likied is, die staatsdiens weer werk en die slimstad gebou is, sal alles weer goed gaan.

Kompas ·

Leer die regering nie uit die foute wat Zimbabwe gemaak het nie?

Sylvia ·

Sou baie graag nou begin hoor na al die “samesprekings en gesprekke met ambassades en digitale vergaderings” dat daar daadwerklik opgetree word. Ons is beslis uitgelewer aan die ongelooflike baie samesprekings, gesprekke, optogte ensovoorts, maar niks verander regtig nie, inteendeel ons land “boer” met spoed van lig agteruit…

Anoniem ·

Die ANC volg presies dieselfde beleid as Zimbabwe waar boere se plase onteien is en aan voormalige “vryheidsvergters” gegee is. Dalk moet ‘n klompie van ons oud soldate wat hul lewens vir volk en vaderland op die spel geplaas het van die staat se onbenutte grond begin beset. Hulle is nooit vir hul opoffering vergoed nie. Dis sal mos regverdig wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.