Samewerking deur saam boer en saam slaggate vul

Binnekort is dit die gemeenskap van Marble Hall se beurt om te leer hoe werk maklike groenteverbouing. (Foto: Facebook)

Eerskomende Woensdag gaan daar in Marble Hall in Limpopo in alle erns slaggate gevul, geboer, sokker gespeel en gebraai word.

Die geleentheid word deur die liefdadigheidsorganisasie, Betereinders aangebied. Dit is in 2018 gestig om samewerking onder Suid-Afrikaners te bevorder en terselfdertyd ʼn bydrae tot die opbou van die land te maak.

Twee jaar gelede het die organisasie Laeveld Agrochem aan boord gekry om hulle met landbou-opheffingswerk te help. Die organisasies het weggespring en video’s gemaak waar grondhervormingsprojekte suksesvol was, maar die nood was dieper as dit en hulle wou graag mense bemagtig om hulleself te help.

 

Maroela Media het by Johan Erasmus, ʼn direkteur van Betereinders gaan uitvind hoe ʼn dag soos die een in Marble Hall, waartydens ʼn basiese landboukursus aangebied word, ʼn verskil in mense se lewens maak.

“Tydens die inperking het ons uitgevind dat baie mense uit radeloosheid self begin groente plant het. Betereinders het toe vir AgricultSure en Laeveld Agrochem genader, wat ʼn beginnerspak vir kleinskaalboere ontwikkel het. Binne-in is al die saad en hulpmiddels om 100 kg tot 120 kg groente op ʼn 3 m by 5 m-blok te produseer. Dit is genoeg vir eie gebruik en die res kan verkoop word,” sê Erasmus.

Laeveld Agrochem en AgricultSure se saadpakke word deur Betereinders versprei (Foto: Facebook)

Betereinders versprei hierdie pakke en doen terselfdertyd opleiding in die gebruik daarvan tydens hul sosiale uitreikdae, waartydens daar ook slaggate gevul, sokker gespeel en gebraai word.

“Ons het soortgelyke dae of projekte van stapel gestuur in plekke soos Brandvlei, Nkomazi, Mamelodi, Hammanskraal, Tembisa, Kameeldrift en Soshanguve. Kobus Hurter, die uitvoerende hoof van AgricultSure, het WhatsApp-groepe geskep waarop die kleinboere gevoeg is. Hy is voltyds besig om hulle met raad by te staan.”

Die boere wie se oeste goed lyk, kry boonop ʼn sertifikaat vir hulle harde werk.

Die groep op Brandvlei het op só ʼn kommersiële skaal begin produseer dat hulle vir hul plaaslike Spar kan lewer, verduidelik Erasmus.

Kobus Hurter, uitvoerende hoof van AgricultSure maak kleinskaalboere touwys in die fynere kunsies van groenteverbouing. (Foto: Facebook)

Een van Betereinders se stigters en direkteure is Doc Mabila, wat verskeie sokkerspanne besit en het só vir hulle die voet in die gemeenskappe se ‘sokkerdeur’ gekry. Baie kerke lewer ook geldelike bydraes en predikante raak betrokke.

Erasmus sê hulle het besef dat om net kospakkies uit te deel, nie werk nie. Hulle wil mense leer om hulleself en hul gemeenskap te help. Daarom moet daar geboer en slaggate gevul word.

Só dag word natuurlik afgesluit met ʼn braai, want dit is iets waarmee alle Suid-Afrikaners kan vereenselwig.

Marble Hall is op 6 April aan die beurt en belangstellendes word uitgenooi om ook hulle grawe saam te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Mooi werk. Die gesegde lui mos gee ‘n man ‘n vis en hy eet een dag. Leer hom om vis te vang en hy hou aan leef. Die harde werklikheid is besig om pos te vat. Die regime waarvoor daar gestem is gaan jou nie voer klee en beskut nie. Die een woord (begrip) wat hopelik by die bevolking pos gevat het is die woord, werk. Ek is eerlik ons voorouers het die bevolking afhanklik gemaak. Dit is nie ‘n rasse ding nie, dit is die harde werklikheid. Hy het werk gesoek, gekry en is betaal. Min inisiatief om onafhanklik van ‘n wergewer te wees.

Wondermaarnet ·

Dit wys net weer hoe goed ons boere opgevoed is. As daar een met rugraat was in die anc sou hulle lankal plan gemaak het met paaie en dienslewering reg deur die land.

Wondermaarnet ·

Stuur vir die munisipaliteite ‘n rekening, want hulle is te sleg om hul werk te doen en die trotse boere neem nou maar leiding. Sies aan elke munisipaliteit wat nie hul pligte nakom nie en net wil geld inoes vir dienste wat nie gelewer word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.