TLU SA- jongboer-finaliste streef na winsgewendheid

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

ʼn Positiewe toekomsvisie en die wete dat daar na winsgewendheid gestreef moet word, was die blywende indrukke wat vanjaar se finaliste van TLU SA se jongboerkompetisie by die beoordelaars gelaat het.

Die kandidate beskik ook oor ʼn uitsonderlike sin vir geordenheid, rekordhouding, verslagdoening en die behoefte om navorsing te doen.

Francois Prinsloo, Nets Turvey en Nicky van der Linde staan die kans om dié titel te verower en buiten die gebruiklike oorsese reis, ook ʼn dubbelkajuit-bakkie vir gebruik tydens die volgende jaar te wen. Al drie sal ook bykomende kontantpryse in die sak steek.

 

Francois Prinsloo is een van TLU SA se Jongboerfinaliste. (Foto: Verskaf)

 

Bennie van Zyl, hoofbestuurder by TLU SA, sê wat verder uitgestaan het, is hul meelewing en gemeenskapsdiens, betrokkenheid by georganiseerde landbou en passie vir die landbousaak, asook die geesdrif om TLU SA te ondersteun vir die beginsels en die waardes waarvoor die unie staan.

“Ons jong boere is op koers na die toekoms,” sê Van Zyl. “Dit is jammer dat daar net een wenner kan wees.”

Om te bepaal waarom dié kandidate werklik jong leiers is, word daar soos volg te werk gegaan:

 

Nets Turvey is een van TLU SA se Jongboerfinaliste. (Foto: Verskaf)

 

Die beoordelaarspaneel, wat vanjaar uit sewe lede bestaan, het die finaliste op hul plase besoek en was dit eens dat die dinamika van die jonger geslag boere verblydend is en werklik hoop vir die toekoms bied.

Die paneellede evalueer elk van die kandidate onafhanklik sonder dat daar tydens die besoeke enige bespreking plaasvind oor enige van die kandidate. Verskeie relevante aspekte van die boerdery word beoordeel, soos finansiële bestuur, produksiebestuur, bemarking, risikobestuur, onderhoud, arbeidsbestuur, benutting van tegnologie en meganisasie, woordvoering, toekomsvisie, netheid en betrokkenheid by georganiseerde landbou en die gemeenskap.

Nadat die laaste kandidaat besoek is, is daar gekyk na elkeen van die paneellede se gekose wenner en ʼn bespreking het daarna plaasgevind. Die drie finaliste het vanjaar ʼn bogemiddelde indruk by die beoordelaars geskep op die onderskeie beoordelingsterreine.

 

NJ van der Linde is een van TLU SA se Jongboerfinaliste. (Foto: Verskaf)

 

Van Zyl het ook sy dank jeens die borge, Hatfield Motor Groep, Santam Landbou, Introlab en Manitou, uitgespreek, “wat met hul ruim en oop hande groot pryse beskikbaar gestel het. Dit is ook net ʼn bewys dat dit belangrik is dat ons suksesvolle boere vir die toekoms moet kweek en dat dit in almal se belang is”.

Die wenner word op 6 September tydens die Boerefees by TLU SA se kongres aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henryet ·

TLU SA- jongboer-finaliste streef na winsgewendheid… streef eerder daarna om n nasie te voed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.