UV en ZZ2 gooi hulpbronne saam

ZZ2 en die Universiteit van die Vrystaat het saam ‘n maatskappy, FreeFarm Innovation gestig. (Foto: ZZ2 Facebook)

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het saam met ZZ2, ʼn boerdery wat geen bekendstelling nodig het nie, ʼn maatskappy, FreeFarm Innovation, gestig. Met hierdie “voertuig” het hulle hul vaardighede en hulpbronne saamgegooi om landbou te bevorder.

Verskeie geleenthede waar navorsing ʼn rol kan speel om landbouprodukte te verbeter en te kommersialiseer, is geïdentifiseer en sal deel vorm van die bedrywighede van FreeFarm Innovation.

Prof. Corli Witthuhn, viserektor: navorsing en internasionalisering aan die UV, sê universiteite is belangrike rolspelers om die gaping tussen teorie en praktyk te oorbrug, deur te verseker dat funksionele kennis geskep word.

“Die UV ondersoek voortdurend betekenisvolle vennootskappe om die verbetering van plaaslike en wêreldwye gemeenskappe en nywerhede te ondersteun. Daarom is ons opgewonde oor die vennootskap met ZZ2 in die ontwikkeling van nuwe oplossings en praktyke vir die landbousektor.

“Ons sien daarna uit om ons topnavorsers en studente by verskeie projekte onder die sambreel van FreeFarm Innovation te betrek. Bykomende velde van samewerking sal onder meer grondkunde, bemarking, logistiek, watergehalte, produksiestelsels, plantteling, entomologie, chemie en veekunde insluit,” sê sy.

Die voordele wat die vennootskap vir die twee partye inhou, is verrykend.

Witthuhn sê die UV is een van die oudste, mees gerespekteerde hoëronderwys-instellings in Suid-Afrika en bring ervaring, topklas-navorsers, fasiliteite, tegnologie en kennis na dié vennootskap. Dit word versterk deur ZZ2 se gevestigde, betroubare en suksesvolle sake- en netwerkstruktuur binne die landbousektor, plaaslik én wêreldwyd.

Die aanvanklike oorweging vir die vennootskap is die ontwikkeling van doeltreffende bemestingprodukte en -strategieë.

“Verder word ons doelwitte ook ondersteun deur ʼn werknemeropleidingsprogram met behulp van ZZ2 se akademie,” sê sy.

“Die waardes van die universiteit bepaal dat daar nie aan gehalte ingeboet sal word nie en dit strook met ZZ2 se fokus op die gehalte van sy vars produkte.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Uitstekende goeie nuus.Waar die Staat gesterf het wat navorsing in landbou betref het die privaatsektor oorgeneem om voedsel voorsiening te verseker.ZZ2 is van wêreld gehalte en saam met UV kan dit net beter wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.