Van vee tot visvang by Nampo Alfa

Skougangers kan verwag om spogdiere by Nampo Alfa te sien. (Foto: Du Preez de Villiers)

Nampo Alfa beloof om vanjaar vir veeboere, jagters, hengelaars en buitelug-geesdriftiges ʼn opwindende en bedrywige ekspo aan te bied. Dit sal die tweede Nampo Alfa wees wat middel Oktober op Nampo Park, net buite Bothaville, sal plaasvind.

Verlede jaar kon oud en jonk na vuurwapens, toegeruste nutsvoertuie en buitelugtoerusting gaan kyk, terwyl daar gevat en getoets kon word. Organiseerders aan die veekant sê daar gaan ʼn wye verskeidenheid kampioendiere ten toon gestel word.

“Hierdie is ʼn praktiese ervaring,” sê Dirk Strydom, Graan SA se hoof van Nampo, bemarking en navorsingskoördinering. “Dit is in die buitelug, so jy kan ʼn visstok voel en gooi, jy kan skote afvuur op die skietbaan en ons gaan ʼn baan uitlê waar jy kan ervaar hoe ʼn voertuig ry.

“Al die groot handelsname en kundiges met wie jy regtig wil praat oor toerusting wat jy kan voel en ervaar, sal daar wees,” sê hy. “Met bykomende uitstallers en die hengelbedryf wat vanjaar aangesluit het, beloof Nampo Alfa om ʼn vee-, jag-, buitelug- en visvanggeleentheid soos geen ander in die land te wees nie.”

Nampo Alfa bied verskeie besienswaardighede, soos praktiese demonstrasies wat 4×4-voertuie, veldnutsvoertuie, kampeerbenodigdhede en die nuutste jag- en visvangtoebehore. Verder wink ʼn eksklusiewe skietbaan vir deelnemers om self ʼn verskeidenheid skiettoerusting te beproef. Wapens van verskillende kalibers kan op verskillende afstande afgevuur word, met streng veiligheidsprotokolle wat toegepas sal word en beskermende toerusting wat voorsien word.

Die Suid-Afrikaanse vee- en wildsektor groei gesond en vorm ʼn onmisbare pilaar van die plaaslike ekonomie. Daarbenewens het die Alfa-vee-ekspo, wat voorheen in Parys aangebied is, oor vier jaar ʼn toonaangewende skou geword, maar kon logieserwys  ʼn volgende vlak betree deur verlede jaar met die bekende Nampo-handelsmerk hande te vat.

Die bestuur van Nampo Alfa wys ook daarop dat rolspelers binne die veebedryf tegnologiese vooruitgang, objektiewe metings en die beste praktyke in die lewendehawesektor kan ondersoek, terwyl die geleentheid geskep word om waardevolle sakenetwerke te vestig en ondersteuning te vind. Dit sluit nie net plaaslike rolspelers in nie, maar ook belanghebbendes reg oor die vasteland van Afrika.

Die veeprogram bestaan uit twee hoofkomponente, ʼn vleisbees- en kleinveeprogram, waartydens verenigings en telers hul onderskeie rasse gaan uitstal en bevorder, om sodoende samewerking en deelname te verbeter.

“Die 2023-ekspo sal hierdie tradisie voortsit, met ʼn bedrywige veeprogram wat vir oud en jonk aangepas is.”

Ander trekpleisters is ʼn skattejag, motorfietsvaardigheidsdemonstrasies, praktiese rykursusse, ruweterreinkaravaandemonstrasies, ʼn hengel-toutrek-kompetisie, hengelbesprekings deur kundiges, Formule 1- en hengelsimuleerders en boogskietdemonstrasies.

Strydom sê Nampo Park se sterk infrastruktuur, wat genoeg parkering, kiosks, veefasiliteite en meer insluit, is weer gereed om 2023 se Nampo Alfa aan te bied en groeigeleenthede te fasiliteer. “Ons sien daarna uit om weer so ʼn uitsonderlike ekspo op Nampo Park aan te bied.”

Kaartjies is binnekort by Ticketpro te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.