Varkpes in Noordwes bevestig

(Argieffoto: Laura Anderson/Unsplash)

ʼn Uitbreking van Afrika-varkpes is in die Potchefstroom-omgewing in Noordwes bevestig.

Die departement van landbou en landelike ontwikkeling in die provinsie sê die uitbreking is bevestig deur monsters wat ʼn private veearts op die plaas in die Wilgeboom-omgewing geneem het.

Volgens die departement was die plan aanvanklik om die besmette varke af te sonder van die diere wat nie besmet is nie. “Volgens die plan sou die gesonde varke by ʼn abattoir geslag en ontbeen en met hitte behandel word voor dit gebruik sou word,” lui ʼn verklaring van die departement.

Dié proses van ontbening en hittebehandeling sou die virus doodgemaak het sodat die vleis geskik is vir gebruik.

Kort voor die einde van verlede maand het die veeartsenyowerhede egter inligting ontvang dat die siekte versprei het na die ander varke en vrektes voorgekom het en moes die gebeurlikheidsplan aangepas word.

“Die situasie op die plaas het stadigaan vererger omdat die aanvanklike plan ook ʼn broodnodige geldelike inspuiting vir die plaas, wat die afgelope maand al in kwarantyn geplaas is, sou beteken. Varke wat volwassenheid bereik en nou nie verwyder kan word nie, veroorsaak ook uitdagings met voldoende ruimte,” sê die departement.

“Die provinsiale rampbestuursentrum is gevra om te help omdat die situasie in ʼn krisis begin ontaard het.”

Die departement sê hy het onderneem om te help om enige besoedeling of skade aan die omgewing te beperk en daar is ooreengekom op ʼn spesifieke perseel waar van die oorskot ontslae geraak sal word. Toestemming is gegee dat die karkasse na Gauteng geneem sal word.

Die Suid-Afrikaanse Varkprodusentevereniging het ook ingespring om die plaas tydens die uitbreking te help.

Die plaas word as beheermaatreël steeds in kwarantyn gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Nou begryp ek die skielike toename in wangedrag op die paaie rondom Potchefstroom…
Baie dankie vir die gewaardeerde uitklaring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.