Vee veilig in Namibië ná Kongokoors-uitbreking

Die bontpootbosluis wat Kongo-koors aan mense oordra, kan vee ook aansteek. (Foto: Du Preez de Villiers)

Kommer het by Suid-Afrikaanse veeboere geheers toe daar vroeër die week berig is dat Krim-Kongo hemorragiese koors (KKHK) in Namibië uitgebreek het, wat tot die dood van een persoon gelei het. Die slagoffer is eers in ʼn kliniek in Gobabis behandel waarna hy na Windhoek se sentrale hospitaal verskuif is waar hy dood is.

Kongokoors, soos dit in die omgangstaal bekendstaan, word hoofsaaklik deur drie spesies bontpootbosluise in die genus Hyalomma veroorsaak. Dit word tussen mense oorgedra deur kontak met bloed of liggaamsvloeistowwe. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê dit het ʼn sterftesyfer van tussen 10% en 40% en word as een van die tien gevaarlikste virussiektes beskou.

Die eerste simptome is koors, duiseligheid, nekpyn en -styfheid, hoofpyn, rugpyn, seer oë en ligsensitiwiteit, soortgelyk aan ʼn grieptoestand. ʼn Paar dae daarna begin die pasiënt gewoonlik inwendig te bloei en noodlottige multi-orgaanversaking kan later intree.

Tans is daar geen veilige en doeltreffende entstof vir mense beskikbaar nie.

Dié siekte kan ook dodelik vir vee wees, wat in die meeste gevalle slegs draers is wat mense kan aansteek en daarom moet veeboere hierdie bedreiging nie ligtelik opneem nie. Bosluisbeheer soos gereelde dip is dus van kardinale belang.

Maroela Media het by die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in Namibië gaan hoor wat die veebedryf te doen staan.

“Eers as meer as een mens aangesteek word sal ons daaraan aandag gee,” sê Danie van Vuuren, LPO se administrasiebestuurder, “maar in dié stadium is dit nog glad nie vir ons ʼn bekommernis nie. Ek weet ook nie van een geval waar vee voorheen daardeur geraak is nie.

“Gewoonlik bring ʼn mens dit van elders af in en dan word dit vinnig gestop, so ons glo hierdie is ook ʼn geïsoleerde geval.”

KKHK is endemies in Afrika, Asië, die Midde-Ooste en in die Balkanlande.

Namibië het sedert 2016 ses KKHK-uitbrekings aangeteken, met ʼn totaal van drie sterftes, het die departement van gesondheid gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.