Vernietigende onkruid in Potch geïdentifiseer

Die Palmer amarant (Amaranthus palmeri) (Foto: CropLife SA)

Een van die aggressiefste onkruidsoorte wat nog in Suid-Afrika sy verskyning gemaak het, die Palmer amarant (Amaranthus palmeri), is op ’n mielieplaas in die Potchefstroom-distrik opgemerk.

Dié onkruid word in Engels die “Palmer pigweed” en in Afrikaans die Palmer-misbredie genoem.

Dr. Gerhard Verdoorn, bedryf- en rentmeesterskapbestuurder by CropLife, sê die plant is reeds weerstandig teen minstens ses verskillende plaaslike onkruiddoders se werking en kan onder andere nie met glifosaat bekamp word nie.

Die plant kom uit Noord-Amerika, waar dit die “careless weed” genoem word. Internasionale data toon dat dit ’n uiters skadelike indringerplant is wat in ses lande voorkom, teen 36 aktiewe bestanddele en teen nege maniere van onkruiddoderwerking bestand is.

Volgens Verdoorn is dit die eerste keer in 2018 op ʼn plaas by Douglas ontdek en met behulp van ʼn DNS-analise deur prof. Charlie Reinhardt geïdentifiseer.

Onkruidwetenskaplikes van die Landbounavorsingsraad, CropLife en die aksiekomitee vir onkruiddoderweerstand (HRAC) het spoedig ʼn identifikasiekennisgewing en ʼn nooduitwissingsplan opgestel en wyd gesirkuleer.

Die Suid-Afrikaanse onkruiddoderweerstandsinisiatief (SAHRI), verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het ook ʼn Afrikaanse gids opgestel om die plant te kan identifiseer.

CropLife het in September 2018 ʼn skriftelike beroep op die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gedoen om Palmer-misbredie as ʼn indringerspesie ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) te verklaar.

Die manlike plant produseer ‘n groot hoeveelheid stuifmeel (Foto: CropLife SA)

Dit is met verdere skriftelike kommunikasie opgevolg. ’n Konsepwet is op 24 Desember 2020 gepubliseer, maar die departement het sedertdien nog nie die regulasie formeel afgekondig om beheermaatreëls in werking te stel nie.

Die onkruid het na ander streke versprei en gedurende 2020 het navorsers dit in die Limpopo-vallei naby Pafuri en Mapungubwe, en Howick in KwaZulu-Natal bevestig.

Verdoorn het aan Maroela Media gesê dat daar ’n sterk vermoede bestaan dat die Palmer amarant met plaaslike Amaranthus-spesies soos Amaranthus hybridus verbaster het. “Hierdie plante lyk baie soos die Palmer amarant en sy plaaslike familielid en ʼn DNS-analise het bevestig dat hulle sterk weerstand teen onkruiddoders toon. Daarom doen ons ‘n beroep op boere om almal uit te wis, want slegs kenners sal die verskille kan uitken.”

“Die mees onlangse ontdekking van die Palmer amarant in Potchefstroom wek ernstige kommer, want dit beteken dat die somerreënval-graangebiede waarskynlik binnegeval gaan word, wat gewasproduksie in gevaar sal stel.

“Daadwerklike optrede is kritiek en CropLife SA doen ’n beroep op alle saaiboere en raadgewers om alles in hul vermoë te doen om die Palmer amarant en alle ander amaranthus-spesies uit te roei.

“Mielieboere loop ’n ernstige risiko om hul saailande weens hierdie onkruid te verloor as hulle nie dadelik optree en keer dat dit ontkiem nie en alle boere in die somerreënvalgebiede, veral dié wat mielies, lusern, katoen en bone verbou, moet dringend die nooduitwissingsplan raadpleeg en die onkruid met meganiese metodes, saam met die aanbevole onkruiddoders, uitwis.”

Hy sê die aanbevole onkruiddoders werk die doeltreffendste teen pas ontkiemde plantjies, maar sodra plante begin blom, word dit al hoe moeiliker om te beheer.

Sommige Palmer amarant-plante het ‘n chevron-vormige vlek op die blare. (Foto: CropLife SA)

Boere word ook gemaan om nie veevoer te koop van gebiede waar die Palmer amarant teenwoordig is nie omdat sade daarvan in die voer kan voorkom wat dus skoon gebiede sal besmet.

Verdoorn sê dit is ’n bekende feit dat baie amarant-sade nie deur herkouers se spysverteringstelsel vernietig word nie en dus in staat is om ongedeerd deur die stelsel te gaan en te ontkiem waar dit val, vandaar die Afrikaanse naam misbredie.

Dr. Maryke Craven van die Landbounavorsingsraad, wat gehelp het met die opstel van die Palmer amarant se inligtingsstukke, sê sy vrees dat indien dié aggressiewe onkruid nie vinnig onder beheer gebring word nie, dit die somergraan-landboulandskap van glifosaatverdraagsame gewastegnologie vir altyd gaan verander.

“Dit klink dalk buitensporig om te vra dat die onkruid totaal uitgeroei word, maar daar is geen ander opsie as om die spesie heeltemal uit die Suid-Afrikaanse landbousektor te verwyder nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tienie ·

Hier in PTA is ook n nuwe verpesting.

‘n Oranje skoenlapper met swart kolle op die vlerke wat op al wat n nuwe Broodboom blaar is kom eiers lê.

Binne enkele dae vreet die wurms jou Broodboom totaal en al in sy dinges in.

Nou die derde jaar wat hulle hier by my aktief is.

OW ·

Hy word genoem die luiperdmot wat eiers lê op die nuwe blaar groei van broodbome.Bestry dit met “plantcare” Sodra nuwe groei gesien word,spuit dan met genoemde produk en herhaal later indien nodig.Produk is sistemies,maw dit word deur die nuwe blare opgeneem en reën nie af nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.