Vrektes aangemeld ná varkpes-uitbreking by George

(Argieffoto: Verskaf)

Minstens 45 varkvrektes is reeds in die George-omgewing in die Wes-Kaap aangemeld ná ʼn nuwe uitbreking van Afrika-varkpes in die distrik. Die uitbreking is verlede week onder kleinboere aan die buitewyke van Groeneweidepark aangemeld.

Dit is die vierde uitbreking van varkpes in die Tuinroetegebied sedert 2022. Vantevore is uitbrekings ook in KwaNonqaba en Mosselbaai aangemeld. Albei is opgelos. ʼn Uitbreking in Thembalethu in 2022 bly egter steeds ʼn bron van kommer, sê die Wes-Kaapse departement van landbou.

Sowat 250 varke is steeds in die geraakte gebied.

“Die gebied is onder kwarantyn geplaas en inwoners word gevra om geen varke of varkprodukte uit die gebied te neem nie om die verdere verspreiding van die siekte te verhoed.”

Daar is in hierdie stadium geen entstof of behandeling vir Afrika-varkpes nie, met goeie bioveiligheidsmaatreëls wat as die beste manier bestempel word om die varkbedryf te beskerm.

Verskeie maatreëls kan die verspreiding van die siekte help beperk. Dit sluit in:

  • die veilige verwydering van karkasse
  • die beperking van varke se beweging sodat hulle nie die siekte kan opdoen en verder versprei nie
  • die sanitering van hande, skoene, klere en toerusting voor en ná kontak met ʼn vark
  • die behoorlike gaarmaak van vleis voor dit aan varke gevoer word
  • bevestiging dat varke gekoop is van kuddes wat vry is van Afrika-varkpes

Afrika-varkpes is spesifiek aan varke en raak geen ander dierespesies of mense nie.

“Varke wat by abattoirs geslag word, het die nodige vleisinspeksies ondergaan. Varkvleisprodukte in supermarkte is ook veilig vir menslike verbruik.”

Die departement het ʼn beroep op varkeienaars gedoen om bioveiligheidsmaatreëls te verskerp om hul kuddes teen die siekte te beskerm en die naaste kantoor van die staatsveearts te kontak sou hulle enige kommer hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jannie ·

En daar styg varkvleispryse deur die dak. Nou met die hoendersiektes en varksiektes is daar nie eintlik vleis keuses vir ons arm mense nie.
Sal maar soja moet eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.