Vrystaat Landbou se Jong boer-wenner ‘kry uit wat hy insit’

Doug en sy vrou, Megan, hou die gesogte trofee vas. (Foto: VS Landbou)

Doug Osler van die plaas Fourieshoek in die Fouriesburg-omgewing het gisteraand met die louere weggestap as Vrystaat Landbou se 25ste Jong boer van die jaar.

Die afgelope 16 jaar is hy deel van ’n familieboerdery waarin hy 25% aandele besit. Osler (39) is in beheer van die appelproduksie en -pakhuis van Lone Tree Farms en sien toe dat meer as 100 ha se appelboorde deurlopend topproduksie lewer. Hy beplan ook om sy boorde nog verder uit te brei.

Osler glo wat jy insit sal jy uitkry en dat uitdagings en terugslae as ʼn leerkurwe dien en dat dit ook bydra tot die ervaring wat hy as ’n “unieke beroepskeuse” beskryf.

Verder is harde werk, aandag aan detail en ’n sterk geloof die pilare waarop hy sy boerdery-onderneming bou.

Benewens sy betrokkenheid by georganiseerde landbou as lid van Fouriesburg Landbouvereniging is Osler ook voorsitter van Highveld-vrugteproduseerders en dien hy ook as direkteur in die produsenteraad van Hortgro Pome. Hy glo dit is baie  belangrik om deel te wees van georganiseerde landbou sodat jy op ʼn sterker voet  met die regering en internasionale rolspelers kan onderhandel. As ʼn enkele boer is dit nie moontlik om op daardie vlak ʼn invloed uit te oefen nie. Daarbenewens glo hy dat ʼn boer sy gewig op plaaslike vlak agter die boerevereniging moet ingooi om te help met gemeenskapveiligheid en patrollies. Vir hom kan ʼn boer nie in isolasie voortbestaan nie.

Doug Osler in sy appelboord. (Foto VS Landbou)

Osler is in 2010 getroud met Megan en is die pa van twee dogters, Leah en Anna.

Hy glo daarin om ’n werksomgewing te skep waarin almal bereid is om te help, te leer en te groei. Wedersydse respek vir mekaar is volgens hom die kernfaktor. Dit is ook vir hom belangrik om sy werknemers met probleme by te staan, hetsy werksverwant of persoonlik.

Osler stap onder meer weg met ʼn kontantprys van Vrystaat Landbou en geskenkbewyse van Kynoch en Brand New SA. Hy dring ook outomaties deur na die Toyota SA / Agri SA Jong boer van die jaar.

Doug Osler saam met die beoordelaars in sy pakhuis. (Foto VS Landbou)

Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en hoof van die Departement van Landbou aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), word finaliste beoordeel onder meer ten opsigte van toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.

Fourie is van mening dat die huidige geslag jong boere oor leierskap en innovering beskik en sê dat hy hoopvol is oor die toekoms van landbou in die hande van sulke knap jong mense.

Die ander finaliste was Annalea van Niekerk, ’n beesboer van Reitz; Jimmy Roberts, ’n vee-, saai- en wildboer van Hertzogville; Louis de Jager, ’n veeboer van Wepener; en Nant Yzel, ’n saaiboer van Marquard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet parys ·

Wonder of daar al n jongboer van die jaar was wat van onder af op sy eie stoom begin boer het sonder dat hy deel van n familie boerdery was .

SjN ·

Dit het ontaard in n klug, ry op die roem en suksesse van die voorgangers, onmoontlik om dit te bereik sonder n reeds bestaande infra struktuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.