Wes-Kaap se landboubegroting moet bedryf help floreer

(Argieffoto: Jo Raubenheimer)

Die Wes-Kaap se begroting van altesame R1,018 miljard wat vandeesweek in die provinsiale wetgewer ter tafel gelê is, moet die provinsie se groeistrategie ondersteun en werksgeleenthede help skep.

Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaap se LUR vir landbou, sê ondanks uitdagings soos vertragings en ondoeltreffendheid by hawens, verhoogde geopolitieke onsekerheid en beurtkrag, het die landbou- en landbouverwerkingsektor van R63 miljard in 2018 tot R104 miljard verlede jaar toegeneem. Dit is gemiddelde jaarlikse groei van 11%.

Van die sleuteltoewysings sluit in:

  • R196,2 miljoen vir die bevordering van die volhoubare gebruik en bestuur van natuurlike hulpbronne. R40,3 miljoen hiervoor word begroot vir ekologiese infrastruktuur, R38,5 miljoen vir die beskerming van riviere en R38 miljoen vir steun weens vloedskade.
  • R216,4 miljoen vir die ondersteuning van produsente.
  • Die departement se uitbreiding- en raadgewende dienste kry ʼn toewysing van R35,4 miljoen en R16,7 miljoen word aangewend vir planne om voedselsekerheid te verbeter.
  • R57,8 miljoen vir dieregesondheidsdienste om dieresiektes te verhoed en te beheer.
  • R97,8 miljoen om landbouproduksie deur navorsing te verbeter, met ʼn spesifieke fokus op die mitigasie en aanpassingsopsies vir boere wat betref klimaatsverandering.
  • R30,6 miljoen om produksie-ekonomie en bemarkingsdienste aan agri-ondernemings te lewer.
  • R48,2 miljoen vir onderwys, opleiding en landbouvaardigheidsontwikkeling.

Die opknapping van die Sanas-geakkrediteerde provinsiale veeartsenylaboratorium is afgehandel en dit heropen ook Maandag sy deure. Die laboratorium word bestempel as ʼn sleutelrolspeler in die bevordering van bioveiligheid in die Wes-Kaap se landboubedryf.

Meyer sê die provinsie streef na ʼn inklusiewe, diverse en veerkragtige provinsiale ekonomie wat teen 2035 in werklike terme met tussen 4% en 6% kan groei.

“Agri-produsente, werkers en ondernemings het seisoen ná seisoen gewys dat dit die moeite werd is om in landbou te belê. Ons is vasbeslote om hierdie begroting te gebruik om verder in die groei en ontwikkeling van die sektor te belê,” sê Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.