Bestuur jou somerweiding met ʼn bierblikkie

Drukbeweiding kan ingewikkeld wees, maar prof Kevin Kirkman het dit in eenvoudige terme tydens die Aldam veeskool verduidelik. (Foto: Maroela Media)

Vir ʼn beesboer wat die maksimum uit sy somerweiding wil haal en om iets vir die droëer wintermaande oor te hou, is daar ʼn paar slim idees wat toegepas kan word.

Prof. Kevin Kirkman, dekaan van navorsing aan die departement van landbou-ingenieurswese en -wetenskap aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, het tydens die Aldam‑veeskool die ingewikkelde bestuur van weiding in eenvoudige terme aan boere verduidelik.

Hy sê drukbeweiding kan ʼn risiko vir jou gras se voortbestaan inhou, maar as dit fyn bestuur word, sal ʼn boer die vrugte daarvan pluk, veral op die Hoëveld waar gehalte weiding regdeur die jaar beperk is.

“Wanneer jou beeste tydens die reënseisoen tussen kampe roteer word, kan jy die veilige graslengtes met ʼn ‘Long Tom’-bierblikkie meet. Indien die gras dieselfde lengte as ʼn bierblikkie is wat regop staan, is dit gereed om bewei te word. Wanneer die gras so lank is soos ʼn bierblikkie wat plat lê, is dit tyd om die beeste na die volgende kamp te jaag.”

Hy sê daar is  ʼn omgekeerde eweredigheid tussen die gehalte en die volume gras in jou kampe. “Hoewel die volume van gras wat langer as ʼn bierblikkie is, hoog is, neem die voedingswaarde af tot op die punt waar dit saad skiet. Gras wat weer korter is as ʼn bierblikkie, se volume is noodwendig laer, maar die gehalte is hoog.” Hy waarsku egter dat dit nie veilig is om die gras laer as dit te bewei nie weens die gevaar van oorbeweiding.

“ʼn Boer moenie sy beeste skuif omdat dit Maandag is nie. Tydens droë periodes in die reënseisoen kan die gras stadiger groei en gehalte verloor en dus moet die diere ook nie volgens ʼn skedule roteer word nie. Jou bierblikkie moet bepaal wanneer die diere na die volgende kamp geskuif word.

“Tydens die somerreënseisoen, veral op die Hoëveld, is dit ook belangrik om weiding vir die winter oor te los. ʼn Paar kampe moet derhalwe uitgelos word, sodat die gras kan uitgroei om volumes op te bou vir die droë rusperiode wat volg.”

Hy sê die weidingsbeginsel wat tydens die winter geld, is om droë materiaal te verwyder, sodat die gras se gehalte op sy beste is as dit in die somer weer uitgroei. ʼn Boer sal wel bykomende lekke moet gee omdat die voedingswaarde dan te laag is.

“Die kritieke beginsel wat geld, is dus die tydige beweging van jou vee, sodat jy die weiding tot jou beskikking optimaal kan benut.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.