Gebruik aktiviste as barometer, sê Sappo

Diereregte-aktiviste kan groot probleme vir die landbou veroorsaak as hulle nie reg benader word nie. (Foto: Robert Jones, Pixabay)

Johann Kotzé, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Sappo), het die week gesê dat dialoog, eerder as oorlog, tussen groen aktiviste en die varkbedryf gedryf word.

Hy sê die varkbedryf, in veral Europa, gaan gebuk onder ʼn geweldige aanslag – in so ʼn mate dat hulle toenemend sukkel om mense te kry om in hul bedryf te werk. Op ʼn vraag of aktiviste al enige skade aan die Suid-Afrikaanse bedryf aangerig het, het Kotzé aan Maroela Media gesê dat Suid-Afrika nie die geweldadigheid beleef wat mens in Australië en Europa teëkom nie. Volgens hom het Sappo dit ook redelik onder beheer en dat hulle nooit só punt wil bereik nie.

“Aktivisme is nie vir my ʼn negatiewe konsep nie en ek wil myself oopstel om daaruit te leer. Ek wil agterkom wat dit dryf en verby die emosie kom sonder dat dit my oorweldig. Baie keer is daar raakpunte en dan kan ons kyk waar ons kan saamwerk.

“Ek het ook nie ʼn probleem met vegans nie, maar spek moet geproduseer word. Varkboere wil ook net soos ʼn vegan die natuur bewaar, maar vanuit ʼn ander hoek, en gereeld is aktiviste juis iemand wat nie die kompleksiteit van die bedryf verstaan nie.”

Daar is steeds ‘n reuse aanvraag na varkprodukte, soos immergewilde spek. (Foto: Phoua Vang, Pixabay)

 

Praktyke wat baie omstrede in die varkbedryf is, is die gebruik van antibiotika en die kratstelsels.

Maroela Media het by dr. Peter Evans, ʼn veearts en skakelpersoon by SA Pork gaan hoor wat die kwessie rondom antibiotika is.

Hy sê die praktyk is al meer as 70 jaar oud, waar boere deurlopend vir varke lae dosisse antibiotika ingee om enige patogene te beveg, sodat die spysverteringskanaal makliker voedsel kan opneem. “Dit werk baie goed as ʼn groeistimulant, maar die vark is deurlopend in ʼn verswakte staat weens die invloed van die antibiotika.”

Buiten die onmenslikheid is die ander probleem dat dit antibiotika-weerstandigheid onder mense veroorsaak wat die vleis eet.

“Ons boere, wat by die Pork 360-program [ʼn gehalteversekeringsmerk wat die varkbedryf meer vaartbelyn maak en dierewelstand verseker] betrokke is, mag dit nie toepas nie. Ons bedryf beweeg in ʼn ‘skoon’ rigting waar natuurlike middels gebruik moet word om varke se groei en welstand te bevorder.”

ʼn Ander praktyk wat ook uitgefaseer word, is om sinkoksied vir die gespeende varke in te gee om diarree te verminder, want dit lei tot grondbesoedeling.

Die gebruik van dragtigheids- en kraamkratte lei ook tot hewige debatte. Eersgenoemde is hokke waarin individuele sôe tydens die dragtigheidsperiode geplaas word om dominansie en bakleiery onder mekaar, wat tot ernstige misgeboortes kan lei, te verminder. Verder verseker dit dat elke sog in dié kritieke tyd, haar volle, afgemete rantsoen in haar eie voerbak kan inneem.

Minder aktiviste het ʼn probleem met kraamhokke. Dit word gebruik om sôe wat pas geboorte geskenk het, te huisves. Dit bied baie beperkte beweegspasie vir die sog, omdat studies bewys het dat tot 40% van klein varkies doodgetrap word as hulle onder die sog kan beland.

Klein varkies loop ‘n groot gevaar om deur hul ma doodgetrap te word as sy nie in ‘n kraamhok gehuisves word nie. (Foto: Wolfgang Ehrecke, Pixabay)

Kotzé sê dierewelsyn is ʼn interessante debat en daar is verskeie benaderings wat reg is. “Verskillende metodes word gevolg om pyn en ongemak onder die diere uit te skakel en wanneer een manier verkeerd bewys word, word dit gestop, solank almal net deursigtig te werk gaan.”

Die bedryf pas egter aan en met fyner bestuurspraktyke en tegnologie, soos byvoorbeeld om varke van dieselfde grootte in groepe te huisves en om elektroniese skyfies in die ore te plaas, om toegang tot kosbakke te reguleer, begin al meer posvat.

Kotzé sê boere wil net soos groen aktiviste die natuur bewaar, maar vanuit ʼn ander hoek.

Hy sê tydens omgewingsimpakstudies word varkplase se invloed op die omgewing fyn uitgewerk en beplan, soos die bestuur van wateromset. Die water wat in elk geval verlore sou gaan, word opgeweeg teenoor die gebruik daarvan in die produksie van vleis. “Die integriteit van elke stukkie vleis wat jy eet is vir ons belangrik.”

Vir die uitlaatkant van die ‘fabriek’ word daar ook verder gedink. “Die mis en miswater wat geproduseer word, is nie skadelike afval nie, dit word gesien en gebruik as organiese kunsmis om as bemesting vir die res van die plaas te dien en om grond te rehabiliteer of te verryk. Varkboere plant ook gewasse soos mielies, grasvelde of plantasies aan om hul koolstofvoetspoor te verminder.

Sappo doen toenemend meer moeite om dierewelsyn en goeie boerderypraktyke in die varkbedryf te bevorder. (Foto: Pixabay)

“Hulle dink ons maak net dood, maar dit is nie waar nie. ʼn Boer is ook ʼn bewaarder. “Varkplase word inderwaarheid deel van ʼn ekosisteem en dra by tot biodiversiteit. Dit is veral kleiner boere wat dit reg doen. Hul varke eet afvalkos en die mis word gebruik om hul gewasse te bemes.

“Aktiviste en die media moet besef dat wanneer hulle ʼn spesiale fokus plaas op een of twee siele wat dinge verkeerd doen, penaliseer hulle die hele mark en die boere wat presies volgens die regte regulasies boer.

“Ons wil almal ʼn beter Suid-Afrika hê en nadat ek met ʼn aktivis gesels het wil ek sy vriend wees, hoewel ek hom nie noodwendig oortuig het nie. Die oorwinning lê vir ons daarin dat ons ʼn dialoog het en met mekaar praat en dat ek luister wat hy sê en andersom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.