Hooidag trek groter skare ná inperking

Van die lede van die Balfour-boerevereniging is Derick Kuün, oud-Bloubul-kaptein en beesboer van Skaaphoek, Danie Bester, ʼn veelvuldige pryswenner en wêreldbekende soja- en mielieboer van Rietbult, Gert Kriek, voorsitter van die Hooidag-komitee van Leeubank, en Derick Kuün sr. van Rietfontein. (Foto: Du Preez de Villiers)

Balfour-boerevereniging het sy spesialisboeredag vir almal wat hooi maak, weer na twee jaar se inperkings aangebied en dit was ʼn dag om te onthou. Die meeste toerusting nóg is bymekaargebring en ʼn rekordgetal boere en kontrakteurs het na die demonstrasies van staatmakers en die nuutste neigings gaan kyk.

Tolsnyers, snyer/kneusers, hooiskudders, kragharke, balers, selfloopplatsnyers, baalhanteerders en ander toerusting wat tydens hooi maak gebruik word, van ʼn wye verskeidenheid vervaardigers was teenwoordig.

 

Die John Deere W260-selfloopplatsnyer het vanjaar vir die eerste keer sy verskyning by die Hooidag gemaak. Met sy 500R-tolsnyer kan hy ook heel vernuftig gras sny en tegelykertyd ʼn windry maak. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Balfour Hooidag word op PJ Kriek en seuns se familieplaas Palmietfontein gehou, wat ongeveer halfpad tussen Balfour en Devon geleë is. Dié demonstrasie-geleentheid is die eerste keer in 2011 met 65 boere gehou en het vanjaar sy tiende verjaarsdag gevier.

Maroela Media het die dag bygewoon en kon by Gert Kriek, voorsitter van die Hooidag-komitee, hoor hoe ingenome en verlig hy was dat sake na twee jaar se onderbreking net van krag tot krag gegaan het.

“Die belangstelling en besoekers het aansienlik toegeneem, wat ons baie opgewonde maak,” sê Kriek. “In 2019 was hier 1 050 mense en vandag het ons 1 330 besoekers verwelkom. Boonop was hier baie meer uitstallers en demonstrasies van nuwe masjiene as ooit tevore. Ons kan sien hoe die masjiene en tegnologie uit die buiteland steeds verbeter en ons plaaslike vervaardigers hou ook by.”

 

Argo se Landini Solis trek die Morra-kraghark met gemak verby die skare. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Hooidag bied belangstellendes die gulde geleentheid om tydens die demonstrasies  ʼn ingeligte besluit te neem oor hulle aankope vir die seisoen.

“Hooimaaktoerusting is ʼn nismark en elkeen wat besoek afgelê het, is hier met ʼn doel. Omdat dit op ʼn weeksdag geval het, was hier ook nie ander mense wat bloot vir ʼn uitstappie gekom het nie.”

Sowat 55 boere van die Balfour-boerevereniging het ook die dag bygewoon.

 

Orbach Agri se 12 m-kraghark maak ʼn netjiese windry, terwyl dit deur New Holland se Turbo Super TT75-trekker getrek word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Balfour-boerevereniging is by die 80 jaar oud en die helfte van hulle bestaan uit jong boere. Die jong manne leer baie by die senior boere wat graag hul kundigheid na die jonger geslagte oordra.”

Dawie Brits, TLU SA se Jongboer van die jaar 2021, is die voorsitter van dié boerevereniging en boer met sojabone, mielies en hoenders.

 

Die Vermeer BPX9010-voerstrooier kan ʼn ekstra baal agter aanhaak en voer 12 meter wyd strooi. Dit word deur die Case Puma 210 getrek. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Hattat-trekker het vanjaar vir die eerste keer sy spiere by die Hooidag gebult. Dit word in ʼn voormalige Massey Ferguson-fabriek in Turkye gebou en het ʼn egte Perkins-enjin met onderdele en dienste wat al jare lank in Suid-Afrika beskikbaar is.

Die invoerder is Pacific Storm Properties wat modelle met enjingroottes van 35 kW tot 81 kW, met  oopstasies en kajuite, invoer.

 

Randal Swart van Pacific Storm staan by die 399-model met ʼn 81 kW. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

JC Blignaut, tegniese en klantondersteuningsverteenwoordiger van Jupidex, sê die Kayhan Ertugrul-blokkiesbaler is vanjaar vir die eerste keer by die Hooidag gedemonstreer en word van Turkye ingevoer. Sy opteller is ʼn gawe 1, 93 m breed. “Wat ek baie van hom hou, is sy gidsbalke wat ʼn groot homp gras kan platdruk sodat dit steeds egalig kan deurvloei, sonder om probleme in die baalkamer te veroorsaak.

“ʼn Ander voordeel van dié baler is dat hy breekboute vir beskerming het en op sy stamper self het hy ʼn veiligheidspen wat voor die stamper instamp as enigiets van die stamper af agtertoe verkeerd loop. Sodoende word die duur onderdele soos die naalde en binders ook beskerm.

“Ons kan bale van 300 mm tot 1350 mm lank maak, wat tussen 20 en 35 kg weeg.”

 

JC Blignaut, tegniese en klantondersteuningsverteenwoordiger, Divan van Rooyen, klantondersteuningverteenwoordiger, Anthony Jacobs, segmentleier van die Noord-Kaap, Davel Kirstein, nasionale verkoopsbestuurder, en Christopher Loubser, segmentleier. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Kubota se BF 3255-baler is al vyf jaar in Suid-Afrika, maar is vanjaar vir die eerste keer by die Hooidag gedemonstreer. Hy kan met gemak teen vier km/h tot agt km/h sy werk doen, afhangend van watter materiaal en hoeveel daar op die land lê.

“Ons het dit al reggekry om teen tot 12 km/h te werk, sê Jan Schoeman, Kubota se werktuigspesialis. “Die beperkende faktor van enige baler is sy opteller en ons s’n is 2,2 m breed, wat een van die breedstes in die bedryf is. Verder is die vloei van materiaal tot binne in die baalkamer van kritieke belang en ons sʼn is ontwerp om die kortste pad te vat sodat dit vinnig en egalig kan deurvloei.”

Schoeman sê Kubota het 10 jaar gelede Kverneland oorgekoop en in die meeste lande oorsee word al die Kverneland-werktuie reeds met Kubota-kleure geverf. Kubota het hier en daar veranderinge aangebring om die produkte vir hulle die moeite werd te maak.

 

Die Kubota-manne wat die stalletjie beman het, is Piet Vorster, streeksbestuurder, Hennie Strydom, tegniese bestuurder, Jan Schoeman, werktuigspesialis, Shaun Mans, produkbestuurder, Cameron Watts, produkbestuurder, en Kevin Geldenhuys, verkoopsman. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

AFGRI, die verspreider van onder meer Kuhn, Amazone, Falcon, Rovic Leers en John Deere-masjinerie, het vanjaar tydens die Balfour Hooidag se tiende verjaarsdag, 100 jaar oud geword. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

ʼn Massey Ferguson 7618-trekker trek ʼn 4160VB-baler wat ʼn lekker stewige ronde baal uitgooi. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Agco se luukse Fendt 720 Vario-hoëwerkverrigting-trekker het baie aandag getrek. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Claas se selfaangedrewe Jaguar-kuilvoerkerwer kan dié tapkar, wat deur ʼn Claas 630 Arion getrek word, baie vinnig en akkuraat volmaak. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.