Koop ‘goeie’ insekte in ʼn botteltjie

Nadat die vlak van besmetting bepaal is, word die kartonhouertjies op strategiese plekke in die boorde geplaas en dan oopgemaak sodat die insekte kan uitklim en die witluise begin vreet. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die druk uit Europa op Suid-Afrikaanse vrugteboere om meer natuurlike en groen praktyke in hul boerderye toe te pas, word by die dag feller en aan hierdie kant van die planeet werk wetenskaplikes onverpoos om oplossings vir boere te vind.

Een antwoord hierop is om voordelige insekte, oftewel biologiese beheeragente, te “teel” om dit dan in die boorde en wingerde vry te laat om skadelike organismes op te vreet.

Witluis is ʼn voorbeeld van so ʼn skadelike organisme wat boere baie hoofbrekens besorg en het onlangs juis veroorsaak dat ʼn klomp kartonne sitrus afgekeur is.

 

Witluise gebruik hul monddele om die vrug se sap deur die skil uit te suig en skei dan ‘n taaierige heuningdou af waarop swamme groei wat die vrug bederf. (Foto: Nadine Botha, Insectec)

 

Witluisskade op sitrus. (Foto: Nadine Botha, Insectec)

 

Nuwe bedryf

Hanna Otto was ʼn boekhouer in die Tzaneen-omgewing met ʼn passie vir insekte. Sy het in 2015 in ʼn rondawel met voordelige insekte begin eksperimenteer wat op witluise parasiteer.

Haar suksesse het bekend geword en in 2020 het Destrimix 75% se aandele in haar onderneming, Insectec, gekoop. Eersgenoemde is ʼn maatskappy met verskeie sitrusboere wat op die direksie dien, met ʼn span landbouchemiese spesialiste, agronome en entomoloë wat volledige plaagbeheerdienste lewer. Insectec sou die biologiese plaagbeheerkomponent bybring.

ʼn Teelfasiliteit is in Tzaneen opgerig, maar daar is gou agtergekom dat die mark heeltemal te groot is. Hulle kon nie eers aan al hul direkteure voorsien nie.

Daar is toe ʼn tweede fasiliteit van wêreldgehalte in Letsitele gebou en middel verlede jaar is die eerste “produkte” gelewer. “Ons is verskriklik in ons skik met die nuwe fabriek,” sê Karel van Heerden, uitvoerende hoof van Insectec. “Weens die nuwe tegnologie wat hier geïmplementeer is, produseer ons drie keer meer as die een in Tzaneen. Ons probleme is nou uitgestryk en vandag loop hierdie fabriek soos ʼn geoliede masjien.”

Van Heerden sê al die insektariums in Suid-Afrika sit in die Letsitele-Tzaneen-omgewing omdat die aanvraag in die gebied so groot is en omdat dit tradisioneel sitruswêreld is “en sover my kennis strek is ons die grootste en modernste insektarium van sy soort in die Suidelike Halfrond”.

Maroela Media is onlangs genooi om ʼn toer deur die teelstasie te onderneem.

Insectec teel vier voordelige insekte, twee spesies liewenheersbesies, Cryptolaemus montrouzieri en Nephus kamburovi, en twee spesies parasitiese wespe, Anagyrus vladimiri en Coccidoxenoides perminutus. Kronologies staan die vier produkte bekend as Cryto-Tec, Neph-Tec, Ana-Tec en Cocci-Tec.

 

Die liewenheersbesie, Cryptolaemus montrouzieri se produknaam is Crypto-Tec. (Foto: Nadine Botha, Insectec)

 

‘n Volwasse Nephus kamburovi vreet aan witluiseiers. Sy produknaam is Neph-Tec. (Foto: Nadine Botha, Insectec)

 

Die piepklein wespe, Coccidoxenoides perminutus se produknaam is Cocci-Tec. (Foto: Nadine Botha, Insectec)

 

Anagyrus vladimiri se produknaam is Ana-Tec. (Foto: Nadine Botha, Insectec)

 

Om ʼn piepklein insek winsgewend te teel is egter ʼn wetenskap op sy eie. Die fasiliteit moet heeltemal verseël wees en die humiditeit, temperatuur en lugvloei moet beheer kan word.

Om te begin moet daar deurlopend genoeg kos vir dié insekte voorsien word en wat anders het jy nodig as kratte en kratte vol witluise. Hierdie organismes moet dus ook geteel word en het deurlopend kos nodig. Hoewel sitrus die eerste gedagte is wat opkom, bly dit nie lank genoeg vars nie. Die aangewese alternatief is botterskorsies omdat dit ʼn baie lang raklewe – tot vier maande – het. Daar word nou elke week 16 ton botterskorsies by die stasie afgelaai.

Hierdie vrugte moet aan baie streng vereistes voldoen, dit moet ʼn bepaalde grootte wees en mag geen chemiese oorblyfsels op hê nie. Derhalwe word dit slegs by sekere boere aangekoop, wat ʼn vaste prys regdeur die seisoen kry. By die fabriek moet dit gewas en gesaniteer word voor dit as voedsel vir die witluise voorgesit kan word. Hulle woon op die skil en steek hul suigende monddele deur die skil en suig die sap uit terwyl hulle taaierige heuningdou afskei.

 

Lezel Muller, produksiehoof by Insectec verduidelik waarom hulle elke week tonne botterskorsies slegs van goedgekeurde verskaffers aankoop. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Twee produksielyne

Daar is ʼn span wat witluise teel en ʼn span wat die voordelige insekte teel.

Witluise hou van ʼn hoë humiditeit en die uitbroeilokaal moet derhalwe op die regte temperatuur en vogpersentasie gestel word. Dan word die nuwe geslag witluiseiers op die botterskorsies geplaas wat dan uitbroei en deur sy stadiums gaan.

 

Witluiseiers broei op die botterskorsies uit wat dan as voedsel vir die voordelige insekte dien. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Dan volg ʼn fyn sinkronisasieproses. Soos wat die witluise deur hul lewensiklus gaan, van eier, kruiper tot volwassene, word die liewenheersbesies en wespe se eiers vooraf bygesit sodat hul kos gereed kan wees wanneer hulle uitbroei. Die wespe kan byvoorbeeld nie volwasse witluise vreet (parasiteer) nie, terwyl die besies hulle in enige stadium kan verorber.

Daar is kunsmatige voedsel vir voordelige insekte beskikbaar, maar vir Insectec is dit steeds die beste om witluise, wat uit die natuur gehaal is, as kos te teel.

Gehaltebeheer is van kardinale belang en die insekte moet in die regte stadium “geoes” word – dit word met die hand afgehaal en versigtig gesorteer. Hoewel die besies se manlike tot vroulike verhouding 50:50 is, moet Perminitus 1:99 wees omdat die wyfies die pesbeheer doen en mannetjies slegs vir aanteel nodig is.

 

Die wespe se papies word sorgvuldig gesorteer. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Vir die wespe se papies is die uitbroeipersentasie wanneer dit in die boorde geplaas word, weer baie belangrik.

Langlewendheid is belangrik want hulle moet aktief bly en die volgende geslag moet ook van goeie gehalte wees.

Daar word elke dag ʼn groepie insekte geproduseer, maar die insekte se lewensduur kan ook gemanipuleer word met koue om sodoende voorraad op te bou.

 

Volwasse Nephus kamburovi voor dit gebottel word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Daarna word die finale produk in papierbotteltjies geplaas. Die besies as volwassenes en die wespe as papies omdat die lewende wespe te klein is om te hanteer.

“By Insectec werk ons hard en toets en probeer ons aanhoudend nuwe dinge,” sê Van Heerden. “Dit wat ons hier doen, leer jy nie op universiteit nie. Jy kan leer om insekte te identifiseer en hulle lewensiklusse leer, maar om hulle te produseer is nie maklik nie.”

Insectec gee werk vir 86 mense, van wie baie ongeskoold is as hulle daar aankom, “maar hier word hulle alles geleer wat hulle moet weet. Ons doen vreeslik baie moeite om iets van mense te maak,” sê Lezel Muller, produksiehoof by Insectec.

 

Die finale produk word in ʼn silindriese kartonbotteltjies verpak en is reg om na ‘n boord geneem en opgehang te word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Dit kos tussen 3c en R2,67 per insek, afhangende van die spesie en die aantal wat bestel word en daar word tussen 50 en 3 000 in ʼn houertjie geplaas.

 

Natuur werk saam met chemie

Die kuns is om te weet wanneer die insekte in die boorde geplaas moet word want wind en reën het ʼn groot invloed. Die toedinging hang ook af van die grootte van die besmetting, die tyd van die jaar en die tipe witluisspesie wat teenwoordig is.

“Ons tegniese span spandeer baie tyd in die veld en kyk na weervoorspellings en raadpleeg historiese data oor vorige infestasies,” sê Nadine Botha, Insectec se tegniese raadgewer in Limpopo. “Voor die seisoen begin, sit die hele Destrimix-span saam met die boer om sy seisoen se spuitprogram uit te werk.

“Wanneer die seisoen begin, spuit die boere hard om enige peste en plae uit te wis en dan is die boorde steriel,” sê sy. “Soos die chemie se molekules mettertyd afbreek en besmettings weer waargeneem word, is daar tye tussenin wanneer die voordelige insekte geplaas kan word, oftewel die boorde geïnokuleer word. Soos pluktyd nader kom, moet die chemiese toediening afneem. Dit is dan wanneer biologiese plaagbeheer ʼn belangrike rol speel. Dan word geskikte hoeveelhede insekte in die boorde gesit om die witluise te beheer en te verhoed dat dit skade aan die amper ryp vrugte aanrig.

 

Karel van Heerden, Nadine Botha en Talitha Erasmus maak gereed om die voordelige insekte in ‘n boord te plaas. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Jy sal nooit chemie heeltemal van organiese of natuurlike plaagbeheer kan losmaak nie,” sê Van Heerden. “Dit is waarom Destrimix se landbouchemiese agronome en entomoloë ʼn volledige plaagbeheerprogram aan boere kan voorlê om al die antwoorde en oplossings te bied.

“Ons is nie bunny huggers nie; ons glo steeds in geïntegreerde plaagbestuur (IPM). Chemiese plaagbeheer gaan nie vinnig verdwyn soos Europa dit wil hê nie. Ons sal dus biologiese plaagbeheer stelselmatig infaseer en al hoe sagter op die chemie gaan terwyl ons die boere in die prosesse inlyf. Dit is die manier hoe ons ʼn boer se maksimum residu‑perke (MRL’s) kan afbring.”

Vir elke slegte gogga is daar ʼn goeie een

Insectec fokus op die beheer van witluis op sitrus, tafeldruiwe, wyndruiwe en waar ook al die organisme voorkom, maar daar is nog ʼn legio ander peste en plae wat met natuurlike predatore beheer kan word.

Otto is vandag die hoof van navorsing en ontwikkeling by Insectec en sy sê daar is nog nie eers aan die potensiaal van die bedryf geraak nie. “Ons het nog net die puntjie van die ysberg gevind met wat ons doen. Daar is so baie peste en plae waarop daar nog navorsing gedoen kan word.”

 

Nadine Botha wys hoe word die botteltjie vol papies aan ‘n tak gehang. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Daar is wel vandag reeds volledige biologiese plaagbeheer op soetrissies en blomme.

Die aanvraag uit die buiteland is groot en in die stil seisoene voer hulle van die produkte uit, maar Insectec het besluit om glad nie enige voordelige insekte in te voer nie, uit versigtigheid wat dit aan die plaaslike ekologie kan doen.

Die 16 ton botterskorsies wat per week verbruik word, is aan die einde van die voersiklus vol taaierige heuningdou, wat dan vir varkkos aangewend word.

Dit is wel van kritieke belang dat die regte aantal insekte geplaas word om die balans tussen plaag en plaagbeheer te handhaaf. Met te veel insekte raak dit te duur en met te min kan daar skade kom.

 

‘n Piepklein Anagyrus vladimirimet met produknaam, Ana-Tec  klim uit sy botteltjie nadat hy pas uitgebroei het. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Miere is ʼn groot vyand van enige organisme wat op witluise voed omdat miere die heuningdou wat witluise afskei nodig het en hulle dus beskerm en inderwaarheid met hulle “boer”.

Neem leiding met registrasie

Die registrasieproses vir biologiese plaagbeheer is nog in baie opsigte ʼn grys en onduidelike gebied, veral as dit by makrobiologiese produkte kom soos predatoriese insekte en myte. (Mikrobiologiese plaagbeheerprodukte verwys na predatoriese bakterieë en fungi.)

Insectec en ander lede van die Suid-Afrikaanse Bioproduktevereniging (SABO) is dit eens dat hulle hul produkte en prosesse moet registreer, maar dat hulle nie onder die regulasies vir chemiese produkte soos in Wet 36 van 1983, wat oor landbouplaagbeheer handel, wil val nie.

“Ons produkte is heeltemal anders is as chemiese plaagbeheerprodukte. Die metode van werking en produksieprosesse verskil en ons produkte laat geen oorblyfsels nie. Ons is egter nie teen registrasie nie, maar ons wil dit net reg registreer en dit oor die algemeen vir die bedryf makliker maak.

Van Heerden sê hy het reeds begin met die indiening van dokumente en dat hulle saam met die registrateur werk om maakpasregulasies te ontwikkel.

 

Insectec se bestuurspan is baie trots op hul nuwe aanleg. Hulle bestaan onder andere uit Lezel Muller, produksiehoof; Nadine Botha, tegniese raadgewer in Limpopo; Karel van Heerden, uitvoerende hoof; Hanna Otto, hoof van navorsing en ontwikkeling; Talitha Erasmus, tegniese raadgewer in Mpumalanga; Thembi Mobayi, produksiebestuurder vir witluise en Jone Reynolds, produksiebestuurder vir biologiese beheeragente. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Daar is wel reeds baie proewe en navorsing deur Sitrusnavorsing Internasionaal (CRI) gedoen om te bepaal hoe doeltreffend ons produkte is,” sê hy.

Hoewel ʼn boer aanvanklik nie geld bespaar deur van hierdie insekte gebruik te maak nie, kan plaagbeheer deur predatoriese insekte vir ʼn langer tydperk as chemiese produkte toegepas word omdat chemiese toediening ʼn ruk voor pluktyd gestaak moet word. Predatoriese insekte kan ook op plekke op die vrug uitkom wat die chemie nie noodwendig kan bereik nie. Derhalwe sal ‘n boer se uitpakpersentasie hoër wees en sy MRL’s laer, wat aan die einde van die seisoen meer geld in sy sak sal beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.