Ná halfeeu steeds Massey-boere

Hanro and Hendrik-Pieter Stiglingh is die vierde generasie boere op Spitskop by Heidelberg in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

Bloedrooi trekkers en werktuie is ʼn algemene gesig op die plaas Spitskop in die Heidelberg-distrik, Wes-Kaap. Hendrik-Pieter Stiglingh en sy broer Hanro is die vierde geslag boere op die plaas wat met Massey Fergusons grootgeword het.

Ná 52 jaar is die Stiglinghs een van die oudste kliënte van Massey Ferguson in Suid-Afrika, wat deur AGCO besit word.

“Ek het op ʼn MF 1105 leer bestuur toe ek nog op laerskool was,” sê Hendrik-Pieter. “In ons grootwordjare en toe ons nog op kosskool was, kon ons naweke en tydens oestyd huis toe kom. Ek en Hanro het die trekkers gebruik om graan na die silo’s te vervoer en die grond voor te berei vir plant.”

Hanro was veral mal oor die trekkers. “Ek onthou nog hoe Hanro ʼn foto van homself in die lisensieskyfhouer van die MF 290 gesit het wat my pa gekoop het. Vrydagaande het hy met sy oorpak gaan slaap sodat hy gereed kan wees om die graan vroeg Saterdag in te bring.”

Hul pa, Hendrik-Pieter sr., ag dit sy werk om self met die MF 36-platsnyer te werk wanneer koring gesny word. Sy bandaangedrewe 4 m-model is smal genoeg om met gemak sy werk tussen die kontoere in die landerye te doen.

 

Hendrik-Pieter snr sny steeds die koring met sy platsnyer. (Foto: Verskaf)

 

Die Stiglinghs boer met koring, gars, kanola, hawer, lusern en merino’s. Hendrik-Pieter is verantwoordelik vir die diere en boekhouding en Hanro vir die graanproduksie.

Hanro sê die boerderytoestande is soms moeilik weens min reën wat hulle kry. Dit is dus belangrik om vooraf deeglik te beplan sodat die trekkers en werktuie optimaal benut word.

“Die MF 8737 S- en MF 7724 S-trekkers is besonder geskik vanweë hul presisietegnologie, krag en ekonomiese brandstofverbruik wat vir die plaas nodig is,” sê Hanro. “Die MF 8737 gebruik sowat 20 ℓ/h om ʼn 12 m-geenbewerking-planter te trek, wat hy met gemak doen.”

Die MF 7724 gebruik sowat 16 ℓ/h en laat nie toe dat ʼn 7,4 m-planter hom terughou nie. Hierdie bepaalde trekker moet ook regdeur die plantseisoen gereed staan om die bespuitingprogram uit te voer.

 

Die trekkers op Spitskop moet hul slag met ‘n planter kan wys. (Foto’s Verskaf)

 

Die MF 7724 moet ook ‘n spuit kan trek. (Foto’s Verskaf)

 

Albei hoëperdekrag-trekkers is met ISOBUS-tegnologie toegerus, wat voorsiening maak vir veranderlike kunsmistoediening. Die MF 8737 spog ook met ʼn Trimble-stelsel wat die trekker fyn in sy spoor laat trap terwyl daar gewerk word.

“Die tegnologie is uitstekend,” sê Hendrik-Pieter. “Die mono-ammoniumfosfaat (MAP) wat ons toegedien het, is volgens die vorige oesverslag deur middel van die trekker se satellietstelsel op die grond geplaas. Dit het eerstens die grondpotensiaal bepaal en waar die meeste van die kunsmis nodig was om die grondtoestande te verbeter en ons geld te bespaar.”

ʼn MF 9335- selfaangedrewe spuit is ook onlangs aangekoop om op hul kanola te gebruik, juis vir sy grondvryhoogte. “Die kanola staan ​​baie hoog, en die spuit loop maklik bo-oor sonder om die blomme af te slaan. Dit is ook baie lig op brandstof.”

 

Spitskop het onlangs ʼn MF 9335-selfaangedrewe spuit gekoop. (Foto: Verskaf)

 

Die Stiglingh-broers stap al jare lank die pad saam met die plaaslike MF-handelaar, Van Breda Agri se Caledon-tak, wat die hele Heidelberg, Overberg en ʼn deel van die Suid-Kaap bedien. “Van Breda Agri verstaan ​​landbou in die omgewing en ken ons boere persoonlik,” sê Hendrik-Pieter.

Hennie de Wet, Van Breda Agri se takbestuurder, sê weens die stygende koste in kunsmis en diesel, is dit baie belangrik om die bes moontlike prestasie uit enige stuk toerusting te verkry. “Dit gaan oor doeltreffendheid en die gehalte van die werk teen die hoogs moontlike spoed,” sê hy. “Daarbenewens is die verhouding tussen die boer en handelaar net so belangrik. Ons moet mekaar kan vertrou om saam die regte boerderybesluite te neem.”

Brendon Puttick, AGCO se streeksverkoopsbestuurder in die Wes-Kaap, sê dit is vir hom baie belangrik om so ʼn hegte en sterk verbintenis met ʼn boer te hê. “Massey Ferguson lê my ook baie na aan die hart, aangesien ek ook op ʼn plaas met die handelsmerk grootgeword het.”

 

Hendrik-Pieter en Hanro Stiglingh, boere; Hendrie Zeelie, Van Breda Agri se verkoopsagent; Hennie de Wet, Van Breda Agri se takbestuurder; Brendon Puttick, AGCO se streeksverkoopsverteenwoordiger steun almal baie swaar op die Massey Ferguson-handelsmerk. (Foto: Verskaf)

 

“Dit is nie net nog ʼn trekker nie, dit word deel van jou DNS. Soos die plaas van geslag tot geslag oorgedra word, gebeur dit ook met die handelsmerk. Ons harte, net soos die Stiglingh-broers, klop met die rooi bloed van Massey Ferguson.”

Massey Ferguson vier ook vanjaar sy 175ste verjaarsdag en het spesiaal ʼn nuwe embleem bekendgestel.

Net so is Hendrik-Pieter, Hanro en hul pa trots om Massey Ferguson se 175ste bestaansjaar te vier. “Vir 52 van daardie 175 jaar het my familie met Massey Ferguson geboer, wat nog altyd goed vir ons was,” sê Hendrik-Pieter.

 

Massey Ferguson se nuwe logo. (Foto: Verskaf)

 

Kyk dié video oor die Stiglingh-broers se liefde vir Massey Ferguson:

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.