Piquanté-rissies floreer op meer grondmikrobes

Piquanté rissies vind baie baat by biostimulante. (Foto: Verskaf)

Die tegnologie om verhoogde mikrobiese aktiwiteite in grond te bewerkstellig het nóg ʼn suksesstorie in Zambië om te vertel.

ʼn Biostimulant-maatskappy, Bontera, wat passievol oor volhoubare landbou en ʼn gesonde omgewing is, kon ʼn boer in die suide van Zambië se piquanté-rissie-oes verhoog deur sy chemiese insette en kunsmis minder te maak en sy ondergrondse mikro-aktiwiteite te verhoog.

Maroela Media het by Gerhard Coetzer, besturende direkteur van Bontera Suid-Afrika, gaan uitvind hoe die vurk in die hef steek. Hy sê sy maatskappy het heelwat boere in Suid-Afrika wat suksesvolle stories het om te vertel, maar dié een in Zambië is besonders.

“Ons het begin deur vir hulle grondontledings te doen,” sê hy, “wat kyk na die beskikbare voedingstowwe, asook die mikrobiese aktiwiteit in die grond. Gebaseer daarop, en ook op die kunsmis wat in die gebied beskikbaar is, het ons ʼn bemestingsprogram uitgewerk. ʼn Groot deel van die bemestingsprogram het uit ons produkte bestaan.

“Daarna het ons ook na sy chemiese spuitprogram gekyk en baie van die middels in die standaardprogram uitgehaal. Die nuwe spuitprogram is bymekaargesit met die doel om met mikrobiese biostimulante die plante te ondersteun en in plaas van om die chemiese middels as roetinebespuiting te beskou, het ons dit gehou vir indien daar wel ʼn probleem ontstaan,” sê Coetzer.

Aan die einde van die seisoen is daar gewys dat die opbrengs op die blokke waarop die boer Bontera se aanbevelings gevolg het, heelwat hoër was as op die blokke waar hulle die standaardprogram gevolg het.

Hy sê die boer kon nou meer bereik en ʼn beter produk vir verbruikers lewer, terwyl die impak op die omgewing verminder is en toekomstige gewasproduksie ook ʼn beter kans gegun word. “Die boer kon gemiddeld 18,9 ton soet piquanté-rissies per hektaar oes, met aansienlik verminderde chemiese insette. Sy aangrensende lande – waar die Bontera-program nie gevolg is nie – het minder as 15 ton per hektaar gelewer.

 

Gerhard Coetzer is besturende direukteur van Bontera Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

 

“Om ʼn beter môre na te streef, het ons ons ‘om beter te doen in die lewe’ gedefinieer as om meer met minder te bereik, terwyl ons verseker dat vooruitgang volhoubaar en nie ten koste van ander is nie.

“Ons streef na ʼn toekoms waar die landbou floreer sonder om op skadelike chemikalieë staat te maak, deur waterverbruik te verminder en ʼn harmonieuse vennootskap met die omgewing te bevorder. Ons toewyding lê daarin om gewasse met hul natuurlike mikrobiese strukture te ondersteun en om sintetiese ingrypings vir uitsonderlike gevalle uit te hou, eerder as deel van ʼn roetinepraktyk,” sê Coetzer.

“Boere is die basis van ons samelewing, en natuurlik is die primêre doel in landbou om ʼn betroubare en deurlopende voedselbron vir die bevolking te voorsien, maar ons moet verby hierdie noodsaaklike diens kyk. Ons moet kyk na hoe om beter te doen, vir onsself en vir ons kinders. Die kern van ons filosofie lê in die beginsel om mense se lewens te verryk, wat beteken om verder te gaan as winsmarges.”

Coetzer sê daar is egter baie uitdagings wanneer dit by die inwerkingstelling van nuutskeppende oplossings soos hierdie kom. Regulatoriese liggame kan soms traag wees om nuutskeppings en nuwe praktyke te aanvaar, wat die spoed van vordering belemmer. Produkregistrasie is ook beperk tot konvensionele chemiese reëls en bevorder ʼn konserwatiewe mentaliteit wat minder geneig is om nuwe, meer herstellende, meer volhoubare landboupraktyke te aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.