Skoolseun word wolskeer-entrepreneur

Cloete Oosthuizen is net 19 jaar oud, maar het al vir hom ʼn stewige onderneming opgebou nadat hy drie jaar gelede besluit het om sy tuisskoolloopbaan vinniger af te handel sodat hy sy passie kan uitleef en begin geld verdien.

Oosthuizen het op die plaas Diamantvallei, 20 km oos van Pretoria grootgeword waar hy saam met sy oupa, Hendrik, die seun van dr. HF Verwoerd, geboer het. “Ek het nog altyd ʼn liefde vir landbou en boerdery gehad en wou van kleins af in daardie rigting gaan. My oupa het ook baie bygedra tot my passie.

“Die skape op die plaas het my geprikkel om ʼn loopbaan in skaapskeer te ondersoek en op 16 het ek die geleentheid gekry om ʼn skeerkursus te loop.

“Dit was ʼn uitdaging, want nie enige boer wou hê dat jy op sy skape oefen nie. Die instrukteur sou ook net die kursus aanbied vir ʼn minimum van ses leerlinge. Boonop moet jy dan ‘n boer kry wat genoeg skape het sodat ses mense opgelei kan word. Ek kon toe ʼn paar vriende oorreed en het ʼn boer in Kokstad gekry wat bereid was om ons te help.

“Gelukkig het ek tuisonderrig ontvang en kon ek maklik ʼn week of twee afvat om ʼn skeerkursus te gaan loop en om ondervinding op te doen.”

ʼn Loopbaan wink

Met die kwalifikasie in die hand het Oosthuizen en ʼn vriend begin om die kleiner boere in sy omgewing se skape te skeer. Hulle het dit vir die eerste twee jaar volgehou. Hy sê dit is waar sy liefde vir skaapskeer behoorlik posgevat het.

Sy ander oupa, Cloete Oosthuizen, het hom weldra in kontak geplaas met ʼn wolbeampte van BKB wat hom die groen lig gegee het om hul kleiner kliënte se skape te skeer. Boonop sou hulle die wol oorneem sodat dit deur BKB se proses na die wolveilings toe kan gaan.

“Ek het toe skeermasjiene tweedehands aangekoop, want dit is baie duur.

“Ek het agtergekom dat daar ʼn tekort aan skaapskeerders in my streek is. My onderneming, Vlymskerp-skaapskeer, het dus so tussen die skoolwerk deur mooi gegroei en só groot geword dat ek skool vinniger klaargemaak het en voltyds begin skeer het.” Weldra het daar meer personeel bygekom.

In die eerste jaar het Vlymskerp 700 skape geskeer en die tweede jaar 4 000. In die derde jaar het hulle nog ʼn spanmaat bygekry en toe so 8 000 geskeer. Verlede seisoen het hulle 23 000 skape geskeer.

Aanvanklik moes hulle self die wol klas en het so 12 minute geneem om die proses vir een skaap af te handel. Toe het hulle klassers bygekry waarna dit na vyf minute afgeneem het. Vandag neem dit vir ʼn Vlymskerp-skeerder net drie minute om ʼn skaap kaal te kry.

Lisa Vierbergen is Vlymskerp-skaapskeer se hoofklasser. Hier gooi sy die vag in een behendige beweging op die woltafel oop. (Foto: Du Preez de Villiers)

Kleiner boere se geriewe is maar beperk en Oosthuizen moes al onder ʼn boom op ʼn plastiekseil skeer. Hy het weldra geleer om baie seil saam te ry. Gelukkig het die meeste boere ʼn skuur met ʼn sementvloer.

Oosthuizen het van die begin af besluit om nie met handskêre te skeer nie en slegs elektriese masjiene in te span. Op kleiner plase kan elektriese toevoer dus ook ʼn probleem wees, maar gelukkig kan die meeste boere hul skape in kampies tot naby die huis jaag, waar daar meer geriewe is.

Verlede jaar het Oosthuizen sy eerste kommersiële boere gekry wat meer as ʼn duisend skape skeer en tans werk hy oor die hele Gauteng en Mpumalanga. Die meeste kommersiële boere het ʼn ingerigte skeerstoor waar hulle op ʼn verhewe platform (raised board) skeer sodat die klassers vinniger en makliker die wol kan wegneem.

Kompetisies is belangrik

Oosthuizen neem ook aan kompetisies deel. In 2018 het hy tweede gekom in die interskole-kompetisie. In 2019 het hy aan die kwalifiserende kompetisie in Ermelo deelgeneem en na die SA’s by Bloemskou deurgedring. Daar het hy die junior-afdeling gewen en toe deurgedring na die opeklas teen die hardebaardskeerders.

Wolskeerders kan op internasionale vlak meeding. Die twee toppresteerders by die nasionale kompetisie dring deur na die wêreldkampioenskappe. (Foto: Verskaf)

Die volgende jaar het Covid-19 ongelukkig ʼn stokkie daarvoor gesteek.

Vandag is daar sewe mense in sy span, drie klassers en vier skeerders. Hulle is almal Afrikaners met boonop een vrou wat nie skrik vir een van die mees fisieke werksuitdagings wat daar bestaan nie.

“Skaapskeer is ʼn baie uitputtende werk en dit gaan rof aan die begin, maar jy moet deurdruk. Gelukkig raak jy vinnig daaraan gewoond,” sê hy. Oosthuizen het besluit dat skaapskeer sy manier is om oefening in te kry sonder om die gimnasium te besoek.

Cloete Oosthuizen en sy span het onlangs ʼn skeerdemonstrasie by die landbou-subekspo van Sakeliga Kragdag gehou. Hy verduidelik die proses aan die toeskouers terwyl Eddie de Beer korte mette van die skaap se wol maak. (Foto: Du Preez de Villiers)

Aangesien skaapskeer ʼn seisoenale werk is en slegs werk van Augustus tot April kan verskaf, is Oosthuizen versigtig om te veel mense in diens te neem. Tydens die vier af-maande in die winter moet hulle dus ander werk doen.

Dit gebeur af en toe dat ʼn skaap raakgeskeer word, veral as hy skielik begin skop.

Derhalwe moet Oosthuizen sy mediese kissie oral saamry met wondsprei vir kleiner wonde wat dit baie vinnig laat genees. In die seldsame gevalle waar die wond groot is, sit hy vinnig self steke in.

Oosthuizen het ook vroeg geleer om sy ooreenkomste met die boere te bevestig, want byna elke plaas se omstandighede verskil. “Die meeste boere vat self die wol verder na die wolmaatskappye. Vir ʼn boer wat meer as 300 skape skeer, vra ek R18 per skaap. Hulle het ook eenvormige kuddes met mooi wol en ons kan vinnig werk en dieselfde metode volg met elke skaap.”

Marius Lizmor, ʼn klasser en Lisa Vierbergen, die hoofklasser, wys hoe die afrandsels, soos die swakker loks- en penswol eers verwyder word om dit in ʼn aparte baalsak te gooi voor die vagwol in ʼn ander sak gesit word. In die agtergrond staan Lee de Beer, ook ʼn klasser, gereed om die volgende skaap vir die skeerder aan te gee. (Foto: Du Preez de Villiers)

Met die kleiner boere is daar verskillende ooreenkomste. Oosthuizen kan die skape skeer en kommissie vra indien hy die wol na die wolmakelaars toe neem, of die boere kan slegs die skeerkoste betaal en self die wol verder neem.

Hulle het gewoonlik gemengde kuddes en dan moet Oosthuizen en sy span die skape eers sorteer sodat hulle nie deurlopend hulle ritme moet verander nie. “Ons begin dan eers met die wolskape, en dan die kruisrasse en dan die res wat ʼn uitdaging is om te skeer en te klas.”

Oosthuizen se gunstelingskaap is ʼn merino want hulle wol is die beste, sê hy, en die boere wil ook hê dat hulle wol puik geklas word.

Die wolveilings in Port Elizabeth stuur ook elke keer vir Oosthuizen ʼn verslag sodat hy kan sien hoe sy wol gevaar het. “Ons het al R120 per kilogram op die veiling gekry,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miskruier ·

As mens WIL werk sal jy altyd werk hê, trots op jou seun.

Sewes ·

Julle Jongmense Gee weer moed vir die Toekoms hier aan die Suiderpunt van Afrika. Jou Groot Oupa Is Trots op Jou.
Sterk Staan. Doen so Voort.

Lionel ·

@Sewes – hier is geen toekoms aan die suidpunt van Afrika nie (en nog minder vir Afrikaanssprekende mense)… Dis net so goed jy sê dis moontlik om die Titanic te red terwyl hy reeds sink. In ons geval is die Titanic = SA

Lionel ·

@Sewes – elke liewe jongmens wat verder as sy/haar neus kan dink maak reg om te emigreer, want hier is geen toekoms vir jou nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.