TLU SA wys Springbokvlakte-jongboer aan

Daniël Opperman is onlangs as TLU SA se Jongboer van die jaar aangewys. (Foto; Verskaf)

Vanjaar se TLU SA Jongboer van die jaar, Daniël Opperman, boer by Tuinplaas, 45 km suid van Naboomspruit en aan die suidwestelike kant van die Springbokvlakte.

Opperman is tydens die jaarlikse TLU SA-kongres in Pretoria met hierdie eretitel bekroon, maar sy sukses het nie oornag gekom nie. Opperman het nie ʼn plaas geërf nie en bowendien wou hy net helikopter in die lugmag gaan vlieg toe hy die einde van sy skoolloopbaan bereik het. Omstandighede het hom egter in ʼn tegniese loopbaan gestuur.

“Ek het ná skool my ambag as elektrisiën in verkoeling voltooi en in dié bedryf begin werk, maar het vir my helikopterlisensie gespaar, wat ek toe mettertyd verkry het en begin het om kommersieel te vlieg,” vertel hy.

“Deesdae hou die boerdery my baie besig, maar ek vlieg nog vir ontspanning en om my lisensie geldig te hou.”

 

Daniël Opperman, sy vrou, Alani, saam met Niel en Liam. (Foto: Verskaf)

 

Hy het egter nog ʼn droom gehad en dit is om te boer. Vyf jaar gelede is dit bewaarheid toe hy vir Barry Streicher, ʼn bekende Toyota-handelaar in Limpopo, begin boer het. Weldra het hy saam met Streicher se dogter, Belinda Streicher le Roux,  ʼn maatskappy gestig toe dié grond in die mark kom. “Sy is verantwoordelik vir die finansies en ek vir die boerdery, sê hy.

Hy het onlangs nog ʼn stuk grond gekoop.

“Die sukses van boerdery lê daarin dat jy jou met die regte mense moet omring en ek het vir George Barnard, ʼn ander boer ontmoet wat altyd tyd vir my gemaak het om my te leer. Oom Barry was my ander mentor.”

Opperman boer hoofsaaklik met aartappels en sy ander gewasse is ertjies, groenboontjies en witboontjies vir inmaak. Hy het aan die begin van die jaar met ʼn rooi brahman-stoet begin en het reeds ʼn paar geregistreerde diere. “Die stoet is nog in sy babaskoene, maar hy groei mooi,” sê hy.

 

Aartappel-strooptyd op Smaldeel. (Foto: Verskaf)

 

“Boerdery is nie ʼn werk nie, dis ʼn roeping, maar dit moet soos ʼn onderneming bedryf word, en dit is harde werk.”

Opperman en sy vrou, Alani, en hul seuns Niel (7) en Liam (4) woon op Naboomspruit omdat dit veiliger is. Hy is 40 jaar oud en ʼn lid van die Crecy-boerevereniging en lid van TLU.

Strawwe kompetisie

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê dit was besonder moeilik om vanjaar se wenner aan te wys. “Elke jongboer wat ingeskryf het, kon gewen het. Dit is hoe hoog die standaard was en hoe beïndruk ons was met dit wat ons gesien het,” sê hy.

“Opperman is ʼn waardige wenner en as jy my vra moet van die ouer boere en die ander jongboere ʼn draai op sy plaas gaan maak vir so ʼn bietjie inspirasie!”

Riaan Rossouw van die Nigel-boerevereniging en Clemens Senekal van die Suikerbos-boereunie was onderskeidelik tweede en derde.

Glo vas en bly nederig

Opperman het hy besluit om vir die Jongboer van die jaar-kompetisie in te skryf om hom deur ʼn moeilike tyd te dra.

 

Daniël Opperman glimlag breed as hy met sy trekker in die groentelande werksaam is. (Foto: Verskaf)

 

“Dit was iets lekker wat ek kon doen in ʼn tyd wat nogal moeilik en uitdagend was. Dit is altyd lekker om erkenning te kry en dit gee ʼn mens ook weer moed.”

Vir Opperman is dit ʼn baie spesiale voorreg om met die titel weg te stap.

“In alle eerlikheid, ek het ʼn knop in my keel en ek is sprakeloos. Dit is ʼn ongelooflike voorreg en eer om as TLU SA se Jongboer van die jaar aangewys te word.”

Opperman het ʼn baie besielende boodskap vir sy medeboere.

“Deesdae moet ons mekaar opbeur en ʼn jong boer moet vir hom ʼn ordentlike vrou vind. My vrou het ook teëspoed met kanker gehad, maar sy was deurentyd my rots en steunpilaar.

 

Liam en Niel Opperman is baie trots op hul pa se boontjies. (Foto: Verskaf)

 

“Tweedens moet jy jouself met goeie mense en mentors omring. Myne is George Barnard. Hy sien altyd kans om my te help ten spyte van sy boerdery wat hom besig hou. As jy elke dag met goud werk sal dit op jou hande afsmeer.

“Die heel belangrikste is om op jou knieë te bly. Glo en bid, want dit gaan nog met ons beter gaan,” voeg hy by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.