Wanaanwending van NPK lei tot ernstige mielieskuld

  • Deur Dr. Gawie du Toit, grondkundige van die maatskappy Faktor2

Boere moet mooi dink voor hulle hierdie seisoen op die gebruiklike aanbevelings kunsmis toedien. (Foto: Argief)

Besorgdheid oor die toename in die koste van mielieproduksie oor die afgelope jare word oral op ʼn breë front gehoor. In die komende seisoen (2022/’23) is daar veral ernstige kommer oor moontlike ontoereikende inkomste.

Heelwat vrae en reaksie oor die skuld wat tydens mielieproduksie aangegaan word, is in omloop.

ʼn Waarnemer vra dan ook: “Hoe het ons van ʼn magtige Suid-Afrikaanse boereplaas in ʼn magtelose boereplaas verval?” Die antwoord is duidelik, skuld…”

Hierdie aanhaling verwoord talle uitsprake in dié verband.

Neem nou verder in aanmerking dat skuld in die mieliebedryf volgens Statistieke SA en etlike waarnemers tans minstens R120 miljard beloop.

Dat die prys van insetprodukte drasties toegeneem het, kan nie betwyfel word nie. Alle besprekings wentel tans net om die prysstruktuur en hoe duur die insette nou is.

Wat egter uiters belangrik is en glad nie deel van die kostebespreking is nie, is die feit dat die kwantum (hoeveelheid) van insette heeltemal uit die oog verloor word.

Die vraag moet gevra word of daar nie dalk fisies te veel insette gebruik word om ʼn voorafbepaalde oes te behaal nie – ʼn aspek wat selfs ʼn groter bydrae tot produksiekoste kan lewer.

Beskou nou as voorbeeld die misstoffaktor vir die mieliebedryf: Teen minstens een derde van die totale produksiekoste is die stikstof, fosfaat en kalium (NPK)-inset die grootste enkele uitgawe-item vir die mielieboer.

Is die vraag al ooit gevra of daar nie te veel kunsmis toegedien word om die betrokke oes te behaal wat algemeen deur raadgewers voorgeskryf word nie?

Die tradisionele uitgangspunt is mos om die grootste, blinkste en maksimum oes te behaal en daarvoor moet die meeste NPK dan ook toegedien word.

Daar word nooit deur die raadgewer oorweging geskenk aan die voedingstowwe wat ná die oes in die grond agterbly nie – daar moet net steeds aangevul word,
want die tradisionele en aanvaarde riglyne gee mos die pas aan.

Dit is egter net hier waar die kinkel in die kabel kom.

Hierdie riglyne is egter niks anders as ʼn vaste resep nie, wat beslis nie versoenbaar is met die dinamiese grond-plant-klimaatewewig om ʼn oes vir maksimum wins te lewer nie. Hierdie resep is slegs daarop gemik om maksimum oes na te jaag wat NPK-koste buite verhouding opjaag.

So word skuld jaar vir jaar verhoog, met die boer die verloorder, terwyl die raadgewer en sy firma die alleenwenner is.

Hou steeds in gedagte dat die klimaat die grootste enkele faktor vir oesbepaling by droëlandsaaiery in Suid-Afrika is – ʼn aspek wat besondere
aandag verdien waar risiko (veral onbestendige reënval) nooit uit die oog verloor moet word nie.

Om ʼn meer praktiese gestalte aan hierdie onnodige oorbesteding aan NPK te gee, beskou onderstaande twee grafieke:

 

Figuur 1

 

Volgens figuur 1 word ʼn baie belangrike biologies-ekonomiese wet getoon van dalende-meer-opbrengs. Volgens hierdie wet is dit nie moontlik dat mielieopbrengs onbeperk reglynig kan toeneem met toename in NPK-aanwending nie. Na ʼn sekere opbrengspunt, genoem die optimale opbrengs, verminder die opbrengstoename, ten spyte van ekstra NPK-inset, tot geen oestoename meer plaasvind nie, hoewel NPK steeds toegedien word.

Beskou nou hoe 7,8 ton/ha toeneem tot 9,1 ton/ha (1,3 ton per ha) met toename van 50 kg NPK/ha (0 tot 50 kg/ha), terwyl die volgende oestoename na 9,3 ton/ha (slegs 0,3 ton/ha) met 70 kg/ha (50 tot 120kg/ha) plaasvind.

Nou is die uiters belangrike vraag hoe die geldwaarde van dié betrokke oeste gaan vertoon wanneer NPK-koste en die mielieprys in berekening gebring word –  met ander woorde, hoe gaan die wins bo misstof daar uitsien?

Om hieroor uitklaring te kry, beskou nou die waarde van maksimum wins teenoor maksimum oes in figuur 2 hieronder.

 

Figuur 2

 

Volgens figuur 2 is dit duidelik dat die toename van slegs 0,3 ton/ha (9,1 tot 9,4 ton/ha) in Figuur 1 hierbo, ooreenstemmende geldwaardes lewer van R14 704/ha (9,1 ton/ha) en R13 884/ha (9,4 ton/ha). Dit is dus ʼn aardige R820/ha minder ten spyte van die maksimum opbrengs. Volgens hierdie betrokke wet van dalende-meer-opbrengs is dit onteenseglik duidelik dat maksimum oes nooit die beste wins kan lewer nie.

Selfs die kontrole (0 kg NPK/ha) met R14 040/ha het R156/ha beter presteer as die R13 884/ha van die maksimum oes van 9,4 ton/ha.

Mielieprodusente moet ernstig daaraan aandag gee dat die najaag van groot oeste geen finansiële voordeel inhou nie en slegs hul skuldlas verhoog.

Daar moet gewaak word teen die sindroom om R1 te bestee om net 90c te maak.

Bogenoemde bespreking oor die winsmotief, soos duidelik uitgebeeld deur die dalende-meer-opbrengs-beginsel, kan verdere toeligting geniet aan die hand van die volgende twee foto’s:

 

Foto 1

 

Foto 1 toon duidelik hoe mielies in ʼn grond-P van so laag as drie dele per miljoen presteer. Hierdie ‘vars’ fosfaat is teen slegs 20 kg P/ha gebandplaas, dit tesame met die nodige N en K. Hier was geen sprake van die regstelling van grond-P soos algemeen volgens die bedryf se riglyne moes geskied nie, terwyl ʼn uitstekende ekonomiese oes die resultaat was, teen ʼn lae insetrisiko.

 

Foto 2 

 

In foto 2 word opslagmielies getoon. Dit is pitte wat met die stroopproses gemors is en ná die winter ontkiem het, wat nou welig groei sonder enige bemesting.

Dit toon net eenvoudig dat daar voedingstowwe (NPK) in die grond teenwoordig is. Die vraag kan nou onwillekeurig gevra word, waar kom hierdie NPK vandaan?

Dit is nietemin duidelik dat oormaat bemesting die vorige seisoen of seisoene toegedien is, wat derhalwe in reserwe is en wag om gebruik te word. Dit toon dus dat hoogs ondoeltreffende NPK-aanwending volgens die geykte riglyne van die bedryf plaasgevind het wat koste onnodig opgejaag het.

Ons kan hieruit aflei dat die produksiekoste van mielies dus nie net verhoog weens prysverhoging in kunsmis nie. Dit word eerder teweeg gebring deur die onnodige NPK wat toegedien word om hierdie maksimum oes te behaal, soos voorgeskryf deur raadgewers wat net na hulle eie belange omsien. Hulle het geen erg aan wat dit die boer uit die sak jaag nie — ʼn uiters belangrike element wat sy koste deur die dak jaag.

Lukrake bemestingsaanbevelings lei mielieboere om onnodige NPK-insette te maak, wat aan die wortel van die kwaad lê van hul enorme mielieskuld.

Die uiteinde is dat dit ʼn ernstige gevaar vir voedselsekerheid vir Suid-Afrika inhou. Gesien teen die huidige wêreldprobleem met voedselproduksie, is die voorsiening van genoegsame bekostigbare en gesonde voedsel, van uiterste strategiese belang vir die land en is dit ʼn kleinood waarmee nie gedobbel kan word nie!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.