Case IH neem voortou met data-slim trekkers

Outonome trekkers wat heeltemal onafhanklik werk en ten volle beheer oor werktuie neem, sal nie in die afsienbare toekoms op die mark beskikbaar wees nie, maar die tegnologie beweeg vinnig in daardie rigting.

Hierdie neiging kry betekenis as jy na die eienskappe van Case IH se jongste Magnum- en Steiger-modelle kyk. Hierdie gedugte trekker- en werktuigvervaardiger het eerstens besluit om hulle AFS ConnectTM-datakommunikasiestelsel as standaard saam met die twee kragreuse bekend te stel. Dit vorm nou ʼn integrale deel van die trekkers en die twee reekse is sommer herdoop na Magnum AFS ConnectTM en Steiger AFS ConnectTM .

Arno du Plessis, Case IH se hoof van taktiese bemarking; Johan van Niekerk van Kojo-boerdery; Tyson Zunckel van Zunckel Farms en Jacques Taylor, Case IH se besturende direkteur staan voor die nuwe Case Magnum AFS Connect tydend dié kragreuse se bekendstelling. (Foto: Du Preez de Villiers)

Met hierdie “pakkette” het Case IH ook die voortou in die mark geneem as dit kom by die akkuraatheid van bewerking en die kragtigheid en gemak van afstandstoegang, -monitering en -beheer. “Ons trekkers kan nou binne ʼn grasie van minder as 2,5 cm werk, wat beter is as alle mededingers, sê Esmond Coen, hoof van Case IH Ag Solutions.

Die op- en aflaai van data deur AFS ConnectTM word nou ook geag as die vinnigste op die mark en die aantal funksies en moontlikhede is verstommend. Volgens Coen sluit die funksies alles in waaroor ʼn boer kan droom, van die aanduiding van die masjien se ligging, die werkstatus en wat dit benodig soos brandstof of onderhoud. Data van die bewerkte oppervlakte, of variërende toedieningshoeveelhede word ook in reële tyd aangeteken en oorgedra en jy kan selfs kyk hoe lyk jou winsvooruitsigte soos die trekkers deur die lande beweeg.

Daarbenewens bied die afstandbeheer wat die boer of tegnikus toegang tot die trekker gee die mees omvattendste om foute betyds op te spoor en te herstel om staantyd tot die minimum te beperk.

Tans word reeds 70% van die land deur hul RTK (Real-time kinematic positioning)-seinnetwerk gedek en hulle onderneem dat dit 100% teen die einde van die jaar sal wees.

Die Case AFS Connect Farm-app is ook twee weke gelede bekendgestel.

 

Magnum AFS ConnectTM

Case IH se sewende generasie vlagskipreeks, die Magnum™ AFS Connect™, het eindelik in Suid-Afrika aangekom. Dit sluit die Magnum 280, 310, 340, 380 en die nuwe grootseun, die Magnum 400 in.

 Dit is na drie dekades sedert die eerste Magnum-trekker die lig gesien het. Sedertdien is daar 150 000 Magnum-trekkers vir boere en ander gebruikers regoor die wêreld gebou.

Case IH het nie net aandag aan die datategnologie gegee nie. Die kajuit is ook opgeknap met ʼn nuutontwerpte deur, ʼn kajuitbinneruim met ʼn nuwe draaibare sitplek, verbeterde lugversorging, verwarming- en ventilasiestelsels, ʼn nuwe Multicontroller®-armleuning vir meer operateursgemak en instrumentasie soos die nuwe AFS Pro 1200-skerm. Daar is ook meer as genoeg krag- en laaipunte vir ander toebehore.

ʼn Nuwe rem- en stuurstelsel is ook ingesit.

Case IH se nuwe Magnum AFS Connect (Foto: Verskaf)

Buite die kajuit is die ligte en kameras verbeter in daardie volgende stap om meer beheer aan die masjien oor te dra en nader aan die “Autonomous Concept Vehicle®” te beweeg.

Die Magnum 400 is toegerus met ʼn swaar 21/5 PowerDrive-ratkas. Alle modelle beskik oor ʼn 8,7 ℓ FPT Industrial Cursor 9, sessilinder turbo-aangedrewe en onderverkoelde enjins. Die Magnum 400 bied ʼn standaard kraglewering van 298 kW, wat tot op ʼn maksimum van 324 kW gedruk kan word.

Die Magnum 340, 380 en 400 modelle kan ook met ʼn agterste Rowtrac-rusperband toegerus word. Dié modelle kan ʼn agterste hefvermoë van tot soveel as 11 700 kg handhaaf, terwyl die hefvermoë van die opsionele voorhef 4 090 kg is. Tot en met ses afstandskleppe is aan die agterkant en drie aan die voorkant beskikbaar.

 

Steiger AFS ConnectTM en Quadtrack AFS ConnectTM

 Die Steiger hou die Guinness World Records se 24-uur ploeg-wêreldrekord waarin ʼn STX 500 in 2005, 321,17 hektaar met ʼn 20 skaarploeg kafgedraf het.

 Die amptelike trekkertoetsprogram van die VSA, Nebraska Tractor Tests, het ook bevestig dat Case IH Steiger- en Quadtrac-trekkers die kragtigste en brandstofdoeltreffendste trekkers in die bedryf is.

Die ouboet in die modelreeks, die Steiger 600, is ook die grootte trekker wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is. Hy lewer 447 kW en kan in ʼn allemintige 499 kW uitsit tydens pieklewering.

Case IH se nuwe Steiger AFS Connect (Foto: Verskaf)

Beide die nuwe Steiger- en Quadtrack’s beskik oor groter brandstoftenks sodat meer hektaar gedek kan word voor hulle hervul moet word. Basiese onderhoud, soos die olievervanging hoef eers na 600 uur gedoen te word, wat die bedryfskoste verlaag en toerusting in die lande te hou.

Die reeks wat nou in Suid-Afrika bekendgestel is, sluit 12 modelle in met enjinkrag wat wissel van 298 kW tot 447 kW. Die Steiger se wielmodel is in enjingroottes van 298 kW tot 447 kW beskikbaar, insluitend drie spesiale skraper-weergawes, terwyl die Quadtrack in modelle van tussen 335 kW en 447 kW beskikbaar sal wees.

En soos enige goeie trekkerbouer is daar eers met boere regoor die wêreld gesels en insette gekry voordat met die ontwikkeling begin is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Baie baie indrukwekkend . Is daar beskerming om te keer vir “hacking” en hoe gereeld en deur wie gaan dit op datum gehou word? En moet asb nie se dit kan nie
gebeur nie. Groete

Kobus ·

Goeiedag Johan. Baie dankie vir jou vraag. Groot en prominente maatskappye soos Case IH sal van dieselfde klas wolkbediensers as ander groot maatskappy gebruik maak. Derhalwe sal hulle databeskerming van die bestes wees wat daar beskikbaar is.
Groete, Kobus nms. Maroela Media

Ou Baardbek ·

Ja kyk, my span osse bekyk die “ding uit die buitenste ruimte” baie wantrouig aan!! So met die omdraai mis hulle sulke groot hpoe van veragting, of so lyk dit altans!! :-))

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.