Strooier bring omwenteling in presisieboerdery

Die werktuig is ontwikkel deur die vindingryke span by Albertinia Ingenieurswerke. (Foto: Verskaf)

Die AI 270M-misstrooier beskik oor ongeëwenaarde kenmerke wat ontwerp is om produktiwiteit en akkuraatheid op landerye en in die veld te optimaliseer. Dít volgens Albertinia Ingenieurswerke, wat sê dié nuwe baanbrekerswerktuig is ontwerp om doeltreffendheid en presisie in misverspreiding te herdefinieer.

Die werktuig wat ontwikkel is deur die vindingryke span by Albertinia Ingenieurswerke, gesetel op Albertinia naby Mosselbaai in die Wes-Kaap, beloof om veral in gebiede met uitdagende terrein boere se hande te sterk.

Met ʼn vragvermoë wat tot 27 kubieke meter mis per vrag kan versprei, kan boere nou kosbare tyd en brandstof bespaar. Die AI 270M se uitsonderlike strooiwydte van tot 20 m maak dit ʼn puik werktuig vir presisieboerdery, sê die maatskappy. Dit verseker eweredige misverspreiding selfs op uiterste hellings.

ʼn Belangrike kenmerk van die AI 270M is die gebruik van laaiselle vir verbeterde presisie en kalibrering. Hierdie laaiselle pas die digtheid van die inhoud dinamies tydens werking aan, wat noukeurige toediening van mis verseker. Die onderneming sê anders as sy mededingers, dryf die AI 270M se hoë-wringkrag-hidrouliese motor ʼn unieke enkelkettingstelsel (en dubbele draaiers) aan. Dit skakel die behoefte aan ʼn ratkas uit, sodat klippe wat in die stelsel beland nie skade aanrig nie.

Die ingenieurswerke op die dorp. (Foto: Verskaf)

Verder skakel die AI 270M moeiteloos met trekkers via die Isobus-beheerstelsel wat intuïtiewe beheer vanaf die trekker se paneel moontlik maak en vinnige en maklike kalibrering bevorder. Ontwerp met duursaamheid en toeganklikheid in gedagte, word dié moderne strooier van dik, hoëgehalte staal vervaardig. Boonop gebruik dit ʼn versterkte onderstel en dit loop op ekstragroot flotasiebande.

Albertinia Ingenieurswerke het die AI 270M ontwerp en vervaardig om instandhouding en herstelwerk maklik te maak en minimale stilstandtyd en maksimum produktiwiteit op die plaas verseker.

ʼn Belangrike kenmerk van die AI 270M is die gebruik van laaiselle vir verbeterde presisie en kalibrering. (Foto: Verskaf)

Odendaal Koen, eienaar en produkontwikkelaar by Albertinia Ingenieurswerke, het die onderneming se verbintenis benadruk om uitsonderlike waarde vir geld te bied deur produkte regstreeks aan klante te verkoop.

“Ons prioritiseer direkte verkope om die beste moontlike diens en ondersteuning te verseker. Of dit nou herstelwerk of instandhouding is, ons span is geredelik beskikbaar om te help, wat die betroubaarheid en doeltreffendheid van ons toerusting waarborg.”

CD du Toit, ʼn leierboer, het weer eens gehelp met die ontwikkeling en toets van die strooier.

  • Die prys van ʼn AI 270M-misstrooier begin by R1,6 miljoen (BTW uitg.) en R1,84 miljoen (BTW ing.). Vir boere wat veelsydigheid soek is die AI 135-veeldoelstrooier beskikbaar teen R900 000 (sonder BTW) en R1,035 miljoen (BTW ingesluit).
  • Vir meer inligting oor die AI 270M en ander innoverende oplossings van Albertinia Ingenieurswerke, besoek co.za of kontak die span by 028 735 1471.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.