Die storie van Paul Kruger se spioene

(Foto verskaf)

Kodename soos “Derfla” en “Snave”, formele inswering, geheime posbusse – dit klink soos iets uit ʼn James Bond-fliek. Maar inderwaarheid was dit deel van die ZAR se geheime diens se storie meer as 120 jaar gelede – ʼn storie waarvan min mense weet en nog minder wil glo. Tog laat dit die meeste wat die geheim te hore kom verstom.

Vir brigadier-generaal dr. Gerhard Kamffer, wat diep in die argiewe gaan delf het om agter die kap van dié byl te kom, was die opspoor van geheime korrespondensie ʼn hoendervleiservaring. Hy het ook in 1998 sy doktorsgraad aan die PUK (deesdae die Noordwes-Universiteit) verwerf oor dié onderwerp.

In die geheime minuteregister wat vanaf  7 Desember 1895 tot 23 Mei 1900 in gebruik was, is daar 1 781 inskrywings gemaak wat verband gehou het met die geheime diens. In sy navorsingsproses het hy meer as 600 skriftelike verslae en dokumente deurgewerk, wat deur 120 betaalde geheime agente vanaf 1894 tot 1900 in diens van die ZAR ingestuur is.

“Min mense wil glo dat Paul Kruger ʼn geheime diens gehad het. Die waarheid is dat Kruger hom met ʼn klomp briljante Hollanders omring het – dit was ʼn groot deel van sy sukses,” sê Kamffer.

So het staatsekretaris WJ Leyds die saadjie vir ʼn geheime diens in 1886 reeds by president Kruger geplant. Die saadjie het ontkiem totdat dit in 1895, na aanleiding van die Jameson-inval, amptelik wortel geskiet het. Met die Jameson-inval het Cecil John Rhodes probeer om ʼn opstand te bewerkstellig onder die uitlanders sodat hy kon ingryp en die Transvaalse regering kon oorneem. Die inval en sy diplomatieke nasleep het die vooruitsigte op ʼn militêre konfrontasie tussen die ZAR en Brittanje aansienlik vergroot.

“Die politieke klimaat rondom die Jameson-inval het die vraagstuk van staatsveiligheid van die ZAR al hoe meer op die voorgrond gebring. Daarom is die eerste twee geheime agente, JW Howcroft en GW Taylor, waarskynlik al in 1894 deur staatsprokureur Ewald Esselen aangestel,” vertel Kamffer.

Van die 120 geheime agente wat Kamffer kon identifiseer was seker 40% Engelssprekend. Dit maak sin, omdat hulle baie makliker inligting by die Britte sou kon kry by plekke soos kroeë, sonder om agterdog te skep.

Take van geheime amptenare

Advokaat Ewald Esselen. (Foto verskaf)

Die primêre taak van die geheime diens was om geheime planne teen die staat te openbaar. Agente moes oor verskeie relevante sake gerapporteer het, soos die politieke klimaat, politieke organisasies, politieke aktiviste en die verspreiding van vuurwapens. Party van hulle moes ook die spoorlyne monitor.

Van die belangrikste eerste vrugte wat die geheime diens afgewerp het was die bydrae wat die inligting, deur hulle versamel, gelewer het tot die oprigting van forte. Die geheime agente moes ook hul ore op die grond hou vir inligting oor ʼn moontlike komplot om Paul Kruger te vermoor.

Die geheime diens is eers deur Esselen bestuur. Na sy bedanking in 1895 het Gerrit Jacobus van Niekerk as kommissaris van polisie die geheime leisels oorgeneem. In 1896 is Daniel Egnatius Schutte in dié pos aangestel.

Maar 1898 het ʼn wending gebring, toe Jan Smuts staatsprokureur geword het en kort daarna president Kruger se seun, Tjaart, as hoof van die geheime diens aangestel het. Smuts het ook vir ʼn voorskot van £1 000 gevra omdat dit nou “hoogst noodzakelijk is dat ik zoo veel mogelijk uitvindt van de plannen enz. van onze vijanden”.

Ontmoet topagent JP De La Court Schröder

Schröder was een van Kruger se beste spioene, met sy volledige verslae – kaarte, foto’s en al – en interpretasie van inligting wat hy ingewin het. Hy het militêre opleiding in Duitsland ontvang en aan verskeie veldtogte dwarsoor Suid-Afrika deelgeneem. Hy was ook ʼn joernalis vir die Daily Telegraph – ʼn handige dekmantel vir sy spioenasiewerk.

Vanaf Januarie 1898 tot November 1898 was hy in Natal, waar hy tussen Durban, Pietermaritzburg, Biggarsberg en Ladysmith rondbeweeg het. Gedurende hierdie tydperk het hy op ʼn weeklikse basis 43 verslae in totaal aan die kommissaris van polisie se kantoor gestuur.

Afgesien van die feit dat Schröder se verslae gereeld aan die uitvoerende raad voorgelees is, het Piet Joubert as kommandant-generaal, FW Reitz as staatsekretaris en Jan Smuts as staatsprokureur,  ook van die verslae persoonlik onder oë gehad.

Dit het beteken dat Schröder se verslae onvermydelik ʼn invloed op die besluitnemers, veral ten opsigte van die militêre situasie in die ZAR, gehad het.

Op 9 Augustus 1899 het hy byvoorbeeld met hierdie woorde die onvermydelikheid van die Anglo-Boereoorlog neergepen: “Maar het is een feit, dat een Engelsche legerkorps binnen zes weken op onze grensen sal geconcentreerd worden, aangesien de Britsche Regeering, meent dat de rechten van Engeland op oorlogskosten onbetwistbaar zijn.”

Oorlogswolke pak saam

In die paar weke voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, was die risiko hoog dat agente van die Kruger-regering, wat buitelands gespioeneer het, ontmasker kon word. Dit is logies dat die Britse kant hulle spioenasiepogings ook verskerp het.

Veral ʼn gebied soos Betsjoeanaland, waar ʼn offisier soos kolonel Baden-Powell baie op spioenasie ingestel was en teen-spioenasie bedryf het, was die risiko om gevang te word hoog. Baden-Powell het later verklaar dat “spy-catching was one of my duties”.

Dit was juis uit die Mafeking-gebied wat ʼn geheime agent soos Hugh Henry Fraser, alias Hugh Henry, gedurende September 1899 gekla het dat hy nie sy werk behoorlik kon doen nie, omdat hy so dopgehou word.

(Foto verskaf)

In die ongeveer ses weke voor die uitbreek van die oorlog is geheime agente strategies korrek geplaas op die verskillende fronte waar die ZAR bedreig is. Teen September 1899, ʼn maand voor die uitbreek van die oorlog, het verslae teen ʼn tempo van vyf per dag die geheime diens se hoofkantoor bereik.

Geheime agente was ook binnelands, in Johannesburg en Pretoria, besig om take uit te voer, soos om naamlyste saam te stel van prominente persone wat die land verlaat en binnekom. In die Kaapkolonie het geheime agente hulle veral daarop toegespits om vas te stel wat koloniale Afrikaners se houding sou wees indien die Boeremagte die kolonie sou binneval.

Die geheime diens sterf ʼn natuurlike dood

Tjaart Kruger (Foto verskaf)

Aan die begin van die Anglo-Boereoorlog, in 1899, was geheime agente daarmee getaak om nuusberigte en pos te sensor, verdagte Britse onderdane in Johannesburg en Pretoria dop te hou, toesig oor verdagte persone op kommando te hou, en verdagte persone oor die landsgrense by grensposte dop te hou. Hulle moes ook posstukke en berigte deur Lourenco Marques na die buiteland smokkel, inligting oor moontlike sabotasiepogings in Johannesburg insamel en Britse spioene identifiseer.

Tog het kommando’s reeds uit noodsaak verkenners begin ontplooi, wat geheime agente se werk tot ʼn mate oorgeneem het. Volgens Kamffer het betaalde geheime agente waarskynlik nie ingepas binne die kultuur van die kommando-opset nie. “Verder het van die Boere-offisiere moontlik nie die nodigheid vir die insameling van operasionale vlak inligting ingesien nie.”

So is die geheime diens se funksies teen middel 1900 dus deur die verkennerskorpse oorgeneem. Die bekende Krugersdorpse prokureur Danie Theron se “Wielrijders Rapportgangers Corps” het gedurende September 1899 tot stand gekom met sowat 100 jong mans wat deur Theron gewerf is. Die doel met die korps was om ʼn onderlinge rapportryersdiens tussen die verskillende afdelings en seksies binne die leër daar te stel.

Die geheime dienskommissie spioeneer verder

Dr Leyds(Foto verskaf)

Al is die geheime diens ontbind, was daar steeds ʼn behoefte aan spioenasie tydens die oorlog. So het die geheime dienskommissie ontstaan, nadat generaal Louis Botha vir JJ Naudé ná die inname van Pretoria versoek het om daar agter te bly en hom op ʼn gereelde basis van inligting te voorsien.

Om as ʼn dekmantel te dien, het Naudé by kommandant Zeederberg se “Rydende Polisie” aangesluit. Later is hy as koster van die NH of G Kerk in Pretoria aangestel, ʼn pos wat hom handig te pas gekom het as spioen.

Hierdie geheime diens, hoewel baie kleiner in omvang as die geheime diens wat vanaf Mei 1894 tot Junie 1900 bestaan het, was uit nood gebore. Verkenners en die verkennerskorpse het die nodige inligting op die gevegsfront verskaf, terwyl Naudé se geheime diens die nodige inligting oor die situasie agter en weg van die gevegsfront vanuit Pretoria verskaf het.

Hierdie spioenasiediens van Naudé het ʼn groot aantal bedrywighede in Pretoria aan die gang gehad. Van hulle belangrikste take was om spioene van buite van huisvesting, kos en inligting te voorsien en hulle geleide deur die stad te doen by hulle aankoms of vertrek.

In Pretoria is Naudé veral deur vroue bygestaan en ondersteun. Johanna Brandt en haar ma, mev. Van Warmelo, was bobaasspioene en het hulself die ‘kappiekommando’ genoem. Berigte is op allerlei maniere uitgesmokkel, soos om met suurlemoensap te skryf wat deur die leser verhit moes word, waarna dit leesbaar was. 

 Was die geheime dienste suksesvol?

Die ZAR se verskeie geheime bedrywighede voor en tydens die oorlogsjare lees soos ʼn spanningsverhaal. Die geheime diens, verkennerskorpse, en die geheime dienskommissie het ʼn belangrike rol gespeel om die Kruger-regering deurlopend op hoogte te hou van komplotte wat gesmee is, die politieke klimaat wat in Suider-Afrika geheers het en die bewapening van die Britse magte in die streek.

In die praktyk het geheime agente daarin geslaag om organisasies te infiltreer en teeninligting te bedryf. Daarvoor verdien “Derfla”, “Snave” en al die res om onthou en vereer te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Blits

Baie dankie vir jou belangstelling in Gerhard se boek. Die inligting van die artikel is gebaseer op ‘n praatjie oor sy verhandeling en persoonlike navorsingsnotas, die boek oor die onderwerp uit sy pen behoort eersdaags op die rakke te wees. Hou Maroela Media se boeke-afdeling dop vir meer inligting hieroor.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens Maroela Media

Chris ·

Ons land het ‘n ryk geskiedenis mbt intelliigensie bedrywighede. Ons intelligensiediens was wereldwyd hoog aangeskryf en is baie kere genader om saam met ander lande saam te werk. Ons intelligensiediens het ook wye skakeling met ander lande se dienste op voortdure basis gehad. Dit was nie net op die uitruil van intelligensie nie maar ook tegniese kennis is gedeel. In somminge gevalle is ons diens genader om met die ontwikkeling van toerusting te help. Toe kom 1994.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.