Byt vas met dié gesonde (mond)gewoontes

(Foto: iStock)

Borsel, vlos en mondspoel is dalk die grondslag van goeie mondhigiëne, maar dit is slegs die vertrekpunt. ʼn Skitterblink glimlag verg veel meer as om fluoriedryke tandepasta uit ʼn buisie te druk.

Die syfers is niks om oor te glimlag nie. Die Global Burden of Disease Study het bevind dat mondsiektes meer as 3,5 miljard mense wêreldwyd (44% van die wêreld se bevolking) raak, met tandbederf van permanente tande wat die mees algemeen van alle toestande is.

Wêreldwyd word beraam dat 2,4 miljard mense, insluitend 486 miljoen kinders, tandbederf het.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie lei die aggressiewe bemarking van suikerprodukte, tabak en alkohol tot die groeiende verbruik van ongesonde produkte. Die Oral Cancer Foundation sê op sy beurt dat 450 000 nuwe gevalle van mondkanker elke jaar wêreldwyd aangemeld word.

Tandbederf en periodontale siektes kan bakterieë in die bloedstroom laat beland en tot ander, dikwels ernstige, gesondheidskwessies lei:

  • Hierdie infeksie van die binneste voering van jou hartkamers of kleppe vind plaas wanneer bakterieë of ander kieme van ʼn ander deel van jou liggaam, soos jou mond, deur jou bloedstroom versprei en aan sekere areas in jou hart heg.
  • Kardiovaskulêre siekte. Sommige navorsing dui daarop dat hartsiektes, verstopte are en beroerte gekoppel kan word aan die inflammasie en infeksies wat mondbakterieë kan veroorsaak.
  • Swangerskap- en geboortekomplikasies. Periodontitis word verbind met premature geboorte en lae geboortegewig.
  • Sekere bakterieë in jou mond kan in jou longe beland, wat longontsteking en ander respiratoriese siektes veroorsaak.

(Foto: iStock)

Maak dié Nasionale Mondgesondheidsmaand ʼn punt daarvan om dié tien nuttige wenke toe te pas:

  • Maak daardie afspraak! As jy geneig is om draaie om die tandarts te hardloop as gevolg van ʼn fobie, finansies of verwaarlosing, maak jy ʼn groot fout. Besoek jou tandarts minstens elke ses maande om probleme soos tandbederf, tandvleissiektes en kanker vroegtydig in die kiem te smoor.
  • Sit handjie by. Kinders behoort die tandarts vanaf eenjarige ouderdom te besoek, en totdat die kleinding sy of haar eie veters kan vasmaak, behoort ma of pa handjie by te sit as borseltyd aanbreek.
  • Die twee bestanddele wat die borrels in gaskoeldrank sit, fosforsuur en sitroensuur, kalwe die oppervlak van jou tande weg. Dit maak die tandemalje sagter en meer vatbaar vir gaatjies. Drink eerder water, en geur dit met skyfies suurlemoen, fyngemaakte bessies of kruisementblare.
  • Suiker is ʼn groot sondebok as dit by tandbederf kom. Dit vuur bakterieë en suur in jou mond aan, wat veroorsaak dat plaak vorm wat die emalje en tandvleis wegvreet. Keer tandbederf deur soet smulgoed te beperk en borsel ná elke maaltyd of peuselhappie.
  • Smoor daardie stompie. Die nikotien en teer in sigarette verander nie net jou tande in onooglike skakerings van geel en bruin nie, dit vreet ook jou tandvleis weg. Rook skep ʼn teëlaarde vir bakterieë en plaak. Dit beskadig voorts weefsel asook die been wat die tande in gelid hou, en verhoog uiteindelik jou risiko vir tandverlies. Die sowat 7 000 chemikalieë in sigarette kan voorts tot mondkanker lei. E-sigarette (“vapes”) is eweneens skadelik.
  • Belê in die regte tandeborsel. Gebruik ʼn tandeborsel met sagte hare. Dit behoort twee tot drie maande te hou. Sodra jy gebuigde hare opmerk, is jou tandeborsel net geskik om jou skoene mee blink te poets.
  • Borsel só. Hoewel almal weet dat ʼn mens jou tande ten minste twee keer per dag moet borsel, is tegniek net so belangrik soos frekwensie. Hou die tandeborsel teen ʼn hoek van 45 grade, en gebruik sagte, kort, sirkelbewegings. Borsel elke tand 10 tot 15 keer, maar wees versigtig om nie te hard te borsel nie. Dit kan jou tande beskadig en jou tandvleislyn laat kwyn.
  • Plaak kan ook op jou tong opbou. Dit veroorsaak nie net slegte asem nie, maar kan ook tot ander mondgesondheidsprobleme lei. Borsel jou tong liggies elke keer wanneer jy jou tande borsel.
  • Vlos en spoel. Vlos minstens een keer per dag om daardie hardnekkige stukkies spinasie die deur te wys. Mondspoel doen veel meer as om jou asem vars te laat ruik. Dit verminder die hoeveelheid suur in die mond, maak moeilik bereikbare areas in en om die tandvleis skoon, en hermineraliseer die tande.
  • Kraakvars kos. Kitskos is gerieflik, maar allermins tandvriendelik. Smul aan kraakvars groente en vrugte wat propvol gesonde vesel is. Vermy pap verwerkte kos, hou op om kos in klein stukkies te sny, en kry daardie kake aan die beweeg!

Bykomende bronne: Mouth Healhty, WebMD, Healthline en Dental Health.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

En hier sit ek en eet n pak ghost pops chips en haal my sigaret uit om te gaan rook, terwyl ek die berig lees… hmmmm keuses-keuses!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.