Die wêreld bars uit sy nate oor vetsug-getalle

(Foto: Siora Photography/Unsplash)

Vetsug is wêreldwyd ʼn toenemende probleem met 39% mans en 40% vroue bo 18 jaar oud wat as oorgewig geklassifiseer word. Sowat 13% van hierdie mense het vetsug.

Daar word geskat dat 2,7 miljard mense teen die jaar 2025 oorgewig sal wees, 1 miljard mense sal aan vetsug ly en 177 miljoen volwassenes sal ernstig deur vetsug geraak word.

Tydens ʼn onlangse teen-vetsug-seminaar deur die globale farmaseutiese maatskappy Novo Nordisk het ʼn reeks kenners en akademici die uitwerking en behandeling van vetsug bespreek.

Terwyl vetsug so algemeen voorkom, lê ʼn groot struweling opgesluit in gewigsverlies en om dié ekstra gewig af te hou.

ʼn Onlangse studie het getoon dat die meerderheid van mense wat oorgewig is minstens een keer in hul lewe ʼn ernstige poging aanwend om gewig te verloor. Terwyl amper 40% van die mense dit regkry om sowat 5% van hul liggaamsgewig te verloor, kan slegs 29% van hulle dit regkry om hul gewig vir minstens twee jaar te beheer.

Wat weet ons van vetsug?

Baie navorsing en wetenskaplike studies is reeds oor vetsug gedoen. Hier is ʼn paar vinnige feite oor vetsug:

  • Vetsug is een van die wêreld se grootste gesondheidsprobleme en strek oor verskeie lande en inkomstegroepe.
  • In Suid-Afrika is 70% vroue, 31% mans en 13% kinders oorgewig.
  • In 2017 het 4,7 miljoen mense weens vetsug gesterf. Dit is vier keer meer mense as wat in motorongelukke dood is en vyf keer meer as die getal sterftes weens MIV/vigs.
  • Vetsug verhoog die kanse op siektes soos beroerte, hartsiekte, diabetes en sekere kankers.
  • Een van die hoofoorsake van vetsug is die tekort aan fisieke aktiwiteit en oormatige hoë-energie-voedselinname.
  • Die tekort aan die inname van slaai speel ʼn groot rol in vetsug.
  • Vetsug kan in sekere gevalle geneties wees weens die hormoon ghrelien, wat veroorsaak dat ʼn mens nie versadig raak nie.
  • Hormone speel ʼn groot rol in jou gewig, jou eetlus en die manier waarop vet geberg word.
  • Spanning kan lei tot gewigstoename en ooretery.
  • Mense het sowat 150 minute lange matige oefening per week nodig om ʼn gesonde uitwerking op hul geestelike en fisieke gesondheid te hê.

Beskou vetsug as ʼn siekte

Daar is wêreldwyd druk om vetsug as ʼn siekte te bestempel. Die Wêreldvetsugfederasie (World Obesity Federation) beskou vetsug as ʼn mediese toestand wat veroorsaak word deur ʼn oormaat liggaamsgewig in die vorm van vet. Die vet kan tot ernstige gesondheidsprobleme lei.

Dié federasie meen vetsug moet as ʼn siekte beskou word aangesien dit ʼn kroniese, herhalende toestand is wat deur verskeie faktore soos ʼn oormaat kos, ʼn sittende leefstyl, asook genetiese en hormonale faktore meegebring kan word.

Die federasie sê voorts die toenemende getal mense met vetsug maak dit een van die belangrikste probleme ter wêreld vir openbare gesondheid. In Suid-Afrika is vetsug vyfde op die lys van risikofaktore wat vroeë dood veroorsaak – selfs bo wanvoeding en ondervoeding.

Behandeling

Baie min doeltreffende behandeling is beskikbaar om vetsug te hanteer, maar ʼn holistiese benadering word algemeen gebruik om gewig te reguleer deur middel van ʼn gesonder dieet en meer fisieke beweging.

Vetsug is ʼn komplekse siekte en elke behandeling sal van mens tot mens verskil. ʼn Geregistreerde dieetkundige, sielkundige en fisiekebeweging-afrigter kan deel vorm van ʼn holistiese benadering om dit te takel.

Voorgeskrewe medikasie kan ook vir vetsug gebruik word, maar dit moet altyd saam met ʼn gesonde dieet en fisieke aktiwiteit gebruik word vir die gewenste resultate.

Wat kan ons doen?

ʼn Groot struikelblok om vetsug te oorwin, is die stigma wat daarmee gepaardgaan. Mense met vetsug weet dikwels nie hoe hul ongesonde leefstyl hul lewe in gevaar stel nie, of hulle is te skaam om hulp te vra.

Novo Nordisk het daarom ʼn webwerf, naamlik Truth about Weight, bekendgestel om mense oor vetsug in te lig en die siekte te help bekamp.

Truth about Weight beoog om die stigma rakende vetsug en gewigsverlies af te breek en beklemtoon dat vetsug soos enige ander siekte gehanteer moet word. Besoek https://www.truthaboutweight.global/za/en.html vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Dit is nogal ‘n probleem, uitdaging om te oorkom. Ek word klassifiseer as oorgewig. My BMI is nie soos voorgeskrewe norme nie. Volgens my lengte is ek oorgewig. Ek lei glad nie aan hoë bloeddruk nie. My suiker, cholestrol en al die ander vlakke wat getoets kan word is normaal. Ek was al baie swaarder as wat ek tans is. Ek het geleer daar is net een dieët, en dit is eet minder en drink minder alkohol.

Elize ·

‘n Mens eet om te lewe nie lewe om te eet nie. So maklik soos dit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.