Griep, verkoue en korona: Wat is die verskil?

Daar is duidelike verskille tussen ʼn gewone verkoue en die koronavirus, maar die verskil tussen die koronavirus en griep is veel kleiner. Dr. Hantie Nienaber, ʼn algemene praktisyn by die mediese sentrum @Health in Centurion, verduidelik hoe om die verskillende siektes se simptome van mekaar uit te ken.

Verkoue

“Verkoues is gewoonlik infeksie van die neus en soms die sinusse. Dit kan deur verskeie virusse veroorsaak word, maar dit is nie ʼn influensavirus soos griep nie,” sê sy.

Algemene simptome van ʼn verkoue sluit in dat jou keel seer is, jou oë traan, jy nies gereeld en jou neus loop, of is toe. Om te hoes is dikwels nie ʼn teken van ʼn verkoue nie.

Nienaber sê dit is nie nodig om ʼn dokter te gaan spreek vir ʼn verkoue nie, maar dat jy eerder net medisyne kan drink om die neus en sinusse op te droog.

Griep

“Griepsimptome is soortgelyk aan die koronavirus se simptome en word deur die influensavirus veroorsaak.”

Simptome hiervan sluit gereeld lyfseer, koors en moegheid in en kan jou longe, boonste lugweë en hele liggaam beïnvloed. Om te nies en hoes is nie algemene simptome van griep nie.

“Dit is op die oog af baie moeilik om te onderskei tussen die koronavirus en griep – albei ontstaan skielik en albei laat jou baie siek voel,” sê Nienaber.

Koronavirus

“Die koronavirus gaan direk in die longe in en tas dit aan. Die belangrikste simptoom gaan ʼn benoude hoes wees wat dik slym in die longe veroorsaak,” sê Nienaber.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is die volgende simptome vir die koronavirus aangemeld:
• ʼn Hoë koors is die mees algemene simptoom
• Droë hoes (in 68% van gevalle)
• Moegheid (38% van gevalle)
• Die produsering van slym (33%)
• Kortasem wees (19%)

Sy sê jy moet ʼn dokter gaan spreek wanneer jy agterkom jy is kortasem. “Om kortasem te wees beteken dat jy opstaan, jou klere aantrek en dan dadelik weer moeg is.

“Mense kan verwag om op die vyfde dag ná die virus opgedoen is eers simptome te begin voel. Teen die agtste dag sal jy baie siek voel en ná dag agt sal jy weet of dit ʼn ernstige geval is of nie.”

Nienaber sê mense moenie hulself laat toets vir die koronavirus voordat hulle nie simptome toon nie omdat die resultate dan heel waarskynlik negatief sal wees.

“Selfs al toets jy negatief kan jy nog steeds die virus hê, maar eers wanneer die simptome begin wys (sowat ná die vyfde dag) sal jy positief toets. As jy gesond is, moenie jouself laat toets nie, wag eers vir die simptome,” sê sy.

Sy sê talle gesonde mense gaan nou dokter toe om getoets te word en word dan onbewustelik aangesteek met die virus by iemand wat dit wel het, daarom is dit uiters belangrik dat Suid-Afrikaners vir eers tuis bly en hulleself isoleer.

  • Maroela Media het inligting by hierdie berig bygewerk en dit gewysig sedert die plasing daarvan.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Net so as almal wil laat toets gaan labratoriums nog langer vat om die toetse te doen en meer mense kan aan gesteek word.
El wens net dat mense ‘n slag die waarheid moet glo, en nie fopnuus en of stories nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.