Kansa maan vroue: Toets nou vir servikskanker

Foto ter illustrasie. (Foto: National Cancer Institute/Unsplash)

Servikskanker is die tweede algemeenste gediagnoseerde kanker onder Suid-Afrikaanse vroue en een uit 40 vroue loop die risiko om dit te ontwikkel. Dit is egter ook veel minder ingrypend as dit vroeg opgespoor word.

Daarom het die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) sy toewyding tot die bewusmaking van servikskanker opnuut bevestig met die viering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se “Elimineer servikskanker”-veldtog.

Dié veldtog is in 2020 deur die WGO van stapel gestuur om servikskanker as ʼn openbare gesondheidsprobleem wêreldwyd uit te skakel. Lande en organisasies regoor die wêreld steun hierdie beweging met die bekendstelling van plaaslike veldtogte.

Lorraine Govender, Kansa se nasionale bestuurder vir gesondheidsbevordering, verduidelik dat die organisasie opgewonde is om bewustheid rondom servikskanker te kweek deur onder meer die bekendstelling van ʼn nuwe reeks inligtingsvideo’s en klankgrepe wat die belang van papsmere bevorder. Die klankgrepe is in Xhosa, Zoeloe, Sesotho, Engels en Afrikaans beskikbaar en word deur Siemens Healthineers geborg.

Sy het ook klem gelê op die belang van gereelde siftingstoetse en moedig vroue tussen die ouderdom van 18 en 69 jaar aan om ʼn afspraak by hul plaaslike kliniek of ʼn Kansa-sorgsentrum te maak.

“Papsmere help om abnormale selle op die serviks (onderste baarmoeder) te identifiseer wat veroorsaak word deur menslikepapilloomvirus (MPV) en wat tot kanker kan lei. Sou die uitslag op ’n abnormaliteit dui, kan Kansa help met ’n verwysing binne die openbare gesondheidsorgsektor of na ’n mediese praktisyn.”

Dr. Manala Makua, hoofdirekteur van vroue- en reproduktiewegesondheid by die nasionale departement van gesondheid, het ook ʼn beroep op alle Suid-Afrikaanse vroue gedoen om saam die stryd teen servikskanker voort te sit. Volgens haar is die eerste stap om te begin met die ondertekening van toestemmingsvorms vir jong meisies om met die menslikepapilloomvirus-enstof (MPV) ingeënt te word.

Sy sê daar word tans net meer as een miljoen vroue jaarliks vir servikskanker getoets, terwyl daar meer as vyf miljoen behoort getoets te word. “Dit is baie belangrik dat vroue bewus is van die veranderinge wat in hul liggame plaasvind. Servikskanker is hoogs behandelbaar as dit in die vroeë stadiums gevang word en behandeling moet so gou as moontlik begin vir die beste resultate. Moenie wag nie, servikskanker kan jou dalk onverhoeds vang,” het Makua gewaarsku.

Volgens die departement van gesondheid se beleid vir die voorkoming en beheer van servikskanker kan vroue van 30 jaar en ouer drie gratis papsmere in hul leeftyd (op ouderdom 30, 40 en 50) by openbare gesondheidsklinieke kry. As vroue abnormale simptome ervaar, kan hulle ʼn papsmeer by plaaslike regeringsklinieke aanvra. Vroue wat MIV-positief is, kom in aanmerking vir ʼn papsmeer wanneer hulle gediagnoseer word en elke drie jaar daarna indien hul negatief vir servikskanker toets.

Besoek www.cansa.org.za vir meer inligting of kontak die naaste Kansa-sorgsentrum by 0800 22 66 22.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Hoe “vang” mens kanker? Moet dit nie eerder lees”opgespoor” wees nie? Vra maar net, want vir my klink dit net nie reg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.