Menslike papilloomvirus: Alles wat jy moet weet

(Foto: iStock)

Wêreldwyd is servikskanker, naas borskanker, die algemeenste soort kanker wat by vroue gediagnoseer word. In bykans 80% van alle gevalle word dit deur die MPV (menslike papilloomvirus) veroorsaak. Sedert 2014 is die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid besig met ’n landwye veldtog om skoolmeisies teen dié virus in te ent, en vandeesmaand kry dié veldtog opnuut momentum.

Luidens ’n verslag wat in Oktober 2021 deur die MPV-inligtingsentrum vrygestel is, word daar in Suid-Afrika na raming jaarliks 10 702 gevalle van servikskanker gediagnoseer, en 5 870 sterftes kan elke jaar aan dié soort kanker toegeskryf word. Die voorkoms van servikskanker in Suid-Afrika is aansienlik hoër as in die res van die wêreld – ongeveer 22,8 tot 27 per 100 000 vroue, teenoor die wêreldwye gemiddeld van 15,8.

Verreweg die meeste gevalle van servikskanker word deur MPV veroorsaak.

Volgens dr. Dirk Lombard, ’n mediese dokter van Kempton Park, is MPV-besmetting een van die algemeenste seksueel oordraagbare siektes.

“Die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer (CDC) raam dat daar in 2018 ongeveer 43 miljoen MPV-infeksies was, meestal onder tieners en jong volwassenes. Hoewel daar baie variante van die MPV is, kan sommige van hierdie variante ernstige gesondheidsprobleme soos genitale vratte en servikskanker tot gevolg hê.”

MPV word deur onbeskermde vaginale, anale of orale seks met ’n besmette persoon versprei. Dit kan ook deur velkontak tydens seks versprei word. Iemand wat MPV dra, kan die infeksie versprei selfs as daar geen tekens of simptome van die siekte teenwoordig is nie. Sommige van die simptome kan eers jare later verskyn, wat die identifisering van die eerste kontak baie moeilik maak.

Lombard sê in die meeste gevalle word MPV sonder enige simptome deur die immuunstelsel opgeklaar, maar in gevalle waar dit nie gebeur nie, kan genitale vratte en kanker ontstaan.

“Die vratte kom gewoonlik as klein geswolle areas om die geslagsdele voor en kan somtyds aardige vorms aanneem. Die diagnose is gewoonlik klinies. Sou die letsels kanker veroorsaak, kan dit die vulva, vagina, penis of anus betrek. Dit kan ook keelkanker en kanker van die basis van die tong veroorsaak. Sou kanker voorkom, neem dit gewoonlik jare om te ontwikkel, lank ná die aanvanklike blootstelling aan MPV.”

Mense met ’n verswakte immuunstelsel het ’n hoër risiko om komplikasies van die virus te ontwikkel.

Maklik om te voorkom

Lombard sê die goeie nuus is dat dit gelukkig nie moeilik is om MPV-infeksie te voorkom nie. “Die departement van gesondheid maak tans voorsiening vir die vaksinering van jong meisies. Seuns onder die ouderdom van 26 jaar kan egter ook via die private sektor in Suid-Afrika gevaksineer word.

“Vaksinering word nie gewoonlik vir mense ouer as 26 jaar aanbeveel nie. Volwassenes tussen die ouderdomme van 27 en 45 jaar wat nie gevaksineer is nie, kan egter kies om die vaksine te ontvang nadat hulle die moontlike risiko van ’n nuwe infeksie en die potensiële voordele van die vaksine met hul dokter bespreek het. Die voordele wat die vaksine vir hierdie ouderdomsgroep bied, is effens minder, siende dat die meeste seksueel aktiewe volwassenes in hierdie ouderdomsgroep reeds aan MPV blootgestel is, hoewel dit nie noodwendig die variante is wat deur die inenting geteiken word nie.”

Hoe weet ek of ek MPV opgedoen het?

Volgens Lombard is daar ongelukkig nie ’n toets beskikbaar wat iemand se MPV-status kan vasstel nie.

“Daar is egter MPV-toetse wat as sifting vir servikskanker gebruik kan word. Dit word gewoonlik slegs vir vroue bo die ouderdom van 30 jaar gebruik. Hierdie toetse word nie vir mans gebruik nie. Die meeste mense wat MPV dra, weet nie dat hulle geïnfekteer is nie. Die meeste mense ontwikkel ook nie enige simptome of gesondheidskomplikasies daarvan nie. Sommige mense vind eers uit dat hulle die virus dra wanneer hulle genitale vratte ontwikkel of wanneer ’n vrou ’n abnormale papsmeeruitslag ontvang.”

Lombard sê hoewel daar geen behandeling vir die virus self is nie, kan die probleme wat as gevolg daarvan ontwikkel, gelukkig behandel word. Genitale vratte kan met voorskrifmedikasie onder beheer gebring word, ’n abnormale papsmeer kan deur ’n ginekoloog opgevolg word, en sou daar enige vroeë tekens van servikskanker wees, kan dit aangepak word voordat enige komplikasies ontwikkel.

Ander verwante kankers kan ook suksesvol behandel word as dit betyds onder ’n mediese praktisyn se aandag gebring word.

MPV-inenting in ’n neutedop

  • Volgens die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut is die veiligheid van MPV-inentings reeds bo alle twyfel vasgestel, met miljoene mense wêreldwyd wat die afgelope 16 jaar die inentings ontvang het. Daar is geen bewyse dat die inenting tot onvrugbaarheid of outo-immuunsiektes lei nie, hoewel dié gerugte knaend op sosiale media versprei word.
  • In die Verenigde Koninkryk, waar ’n MPV-inentingsprogram al sedert 2008 bestaan, het die voorkoms van servikskanker onder meisies wat tussen 12 en 13 jaar oud ingeënt is, met tot 87% gedaal.
  • Die Suid-Afrikaanse regering is sedert 2014 besig met ’n landwye veldtog om graad 4-meisies in staatskole teen MPV in te ent. Twee dosisse word ses maande uitmekaar toegedien, met die ouers se toestemming vooraf. Die veldtog het egter tydens die Covid-19-pandemie, met baie skole wat gesluit was, ietwat ontspoor. Die plan is egter om dit vanjaar weer behoorlik op dreef te kry.
  • Die algemeenste newe-effek van die inenting is dat die arm wat ingespuit is, seer, rooi en effe opgewel kan raak. Hoewel relatief seldsaam, kan naarheid, duiseligheid, koors, hoofpyn en spierpyn ook soms voorkom.
  • Die inenting word ook aanbeveel vir seuns voordat hulle seksueel aktief raak, aangesien MPV by seuns tot kanker van die keel, anus of penis kan lei.
  • Jy kan jou kind privaat by ’n apteek of kliniek laat inent indien jy dit verkies.

Bykomende bronne: MPVcentre.net; www.westerncape.gov.za; www.cancer.gov

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Hoe meer seks maats, hoe groter kans om die virus op te tel. Kuisheid het sy voordele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.