O, Hertz! Kyk so na jou ore

Foto ter illustrasie. (Foto: Mark Paton/Unsplash)

Deur Maryna Eksteen

Gehoor speel ʼn integrale rol in ons alledaagse lewens en wanneer ons gehoor op een of ander manier negatief beïnvloed word, kan dit ons lewens onherroeplik verander. Gehoor maak dit moontlik om betrokke te raak, te luister, te lag en baie van die dinge te geniet wat jou lewenskwaliteit help vorm. Ter viering van Wêreldgehoordag verduidelik dr. Marinda Uys by die Oorinstituut se tak in Queenswood meer oor hoe ons beter na ons gehoor kan omsien.

Uys het in 2004 haar studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi waar sy as oudioloog en spraakterapeut gekwalifiseer het. In 2006 het sy haar meestersgraad in oudiologie verwerf en in 2012 het sy haar studie met ʼn doktorsgraad in oudiologie afgerond. Sy nog altyd graag in die mediese veld werk en het besluit om oudiologie haar spesialisarea te maak.

Volgens Uys is dit van kardinale belang dat mense gereeld hulle oudioloë besoek vir oorondersoeke. Vroeë identifikasie van  gehoorverlies is baie belangrik, veral by babas en kleuters. “Normale gehoor is ʼn voorvereiste om spraak en taal reg aan te leer.” Voorkoming is beter as genesing en indien ʼn gehoorprobleem vroeg genoeg gediagnoseer kan word, kan ʼn kind spraak en taal amper normaal aanleer.

Navorsing toon dat kinders met hoë-frekwensie gehoorverlies akademies swakker presteer as kinders wat normaal kan hoor. Volgens Uys kan kinders soms net ’n wasprop of middeloorinfeksie hê wat tydelike gehoorverlies veroorsaak. Dié tydelike gehoorverlies kan met gereelde gehoortoetse opgetel en uitgeskakel word.

Dit kan soms gebeur dat volwassenes eers op ʼn later stadium in hul lewe met gehoor begin sukkel. “Daar is ’n nou verband tussen gehoor en prosessering, en daar is selfs al navorsing wat toon dat daar ’n verband tussen gehoorverlies en demensie is.”  In eenvoudige taal: as jy nie goed hoor nie, word daardie gedeelte van jou brein nie behoorlik gestimuleer nie en begin jou brein se prosessering van die boodskap verswak. Vir diegene wat reeds met gehoorapparate leef, is dit ook belangrik om gereeld vir gehoortoetse te gaan. Dit klink heel vreemd, maar indien hulle gehoor verswak of verander moet hulle huidige gehoorapparate verstel en aangepas word sodat dit weer reg is volgens die nuutste gehoortoets se resultate. Uys stel voor dat mense ongeveer elke 18 maande vir gehoortoetse moet gaan.

Daar is verskeie waarskuwingstekens wat ons op gehoorverlies attent kan maak. Een van die eerste tekens is wanneer mense sukkel om spraak te hoor wanneer daar agtergrondgeraas teenwoordig is en ʼn persoon sukkel om byvoorbeeld ’n gesprek te voer met ’n groep mense in ’n restaurant. Verdere tekens is onduidelike spraak, die drang om toestelle se klank harder te sit (televisie of radio), uitdagings om te hoor oor die foon, ʼn gesuis in die ore (Tinnitus) of wanneer mense begin lippe lees.

Gehoorverlies kan kommunikasie beïnvloed en sosiale isolasie veroorsaak, omdat mense eerder sal onttrek as om aan ʼn gesprek deel te neem. Dit kan lae selfbeeld skep onder mense en dit kan lei tot depressie. Bo en behalwe vir die emosionele uitwerking kan gehoorverlies ook veroorsaak dat mense moontlik hulle werk kan verloor. Daar is natuurlik ook finansiële implikasies omdat ʼn mens gehoorapparate moet aankoop.

Hier volg ’n paar wenke wat jy kan volg om beter na jou gehoor om te sien:

  • Moenie musiek op ʼn maksimum volume luister nie.
  • Gebruik oorfone wat goed in jou ore pas.
  • Gebruik geluiddempende oorfone (dit skakel omgewingsgeraas uit en verhoed dat jy die behoefte het om dit waarna jy luister nog harder te sit), wanneer jy oorfone gebruik. By die gimnasium moet jy byvoorbeeld vooraf ’n maksimum volume bepaal en daarby hou (moenie dit waarna jy luister aanhou harder sit omdat die geraas in die gimnasium hard is nie).
  • Vat gereelde luisteronderbrekings. Die volume van klank kan jou gehoor beskadig, maar ook die tyd wat jy aan klank blootgestel word.
  • Maak seker jy dra gehoorbeskerming wanneer jy weet jy gaan aan harde klank blootgestel word soos byvoorbeeld skietgeluide.
  • As jy in konstruksie werk, is dit ook belangrik om gehoorbeskerming te dra. Afhangend van hoe hard die geraas is waar jy werk moet daar gewoonlik gehoorkonserveringsprogramme in plek wees, so dis belangrik om seker te maak dis in plek en dat dit aan die vereistes voldoen.

Volgens Uys kan persone met gehoorverlies van gehoorapparate, kogleêre inplantings en ook BAHA (been-geankerde gehoorstelsels) gebruikmaak. Sy moedig mense aan om nie gehoortoetse te vrees nie, maar om eerder seker te maak dat gehoortoetse wel gedoen word. Vandag se gehoorapparate is baie klein en dit kan skaars gesien word.

Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder by Solidariteit, is Wêreldgehoordag van kardinale belang. “Ons vier hierdie dag by Solidariteit om bewusmaking te bewerkstellig om gehoorverlies te voorkom, maar ook om gesonde praktyke in plek te sit om na ons gehoor om te sien.

Wees paraat en maak sommer vandag nog ʼn afspraak by jou naaste oudioloog. Jou gehoor is elke dag belangrik; nie net op Wêreldgehoordag nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.