Oorkom verwerping

(Foto: Anete Lusina/Pexels)

Deur Ilze Lammers

Die vrees vir verwerping is werklik en oorheers talle mense se lewens. Reeds van kindsbeen af is dit ʼn gevoel wat jou sal definieer. Ons almal wil behoort – ongelukkig baiekeer ten koste van onsself.

Baie mense probeer selfs met al wat ʼn gier of geit is tred te hou, net om nie uitgelaat te voel nie. Dit blyk of dit in ʼn internasionale tydverdryf ontwikkel het. Ons ervaar almal op een of ander manier verwerping en probeer daardie gevoelens te verwerk en verstaan.

Wat is verwerping?

Die oorsprong van die werkwoord “verwerping” is afgelei van die Latynse konsep vir reprobation en verwys na optredes wat misluk, asook om iets goed te keur.

Verwerping is ongelukkig ʼn daaglikse deel van ons lewe en word geïdentifiseer as ʼn gevoel, eerder as ʼn enkele persoon se aksie of reaksie. Verwerping gaan eerder oor hoe jy die situasie interpreteer en hoe jy dit ʼn volgende keer beter kan verstaan en hanteer. Jy kan immers nie veel doen aan ʼn ander persoon se optrede nie, maar wel oor hoe jy dit hanteer. Daarmee saam kan jy ook die korrekte keuses uitoefen vir hierdie gevoelens wat jy ervaar. Dit is belangrik om nie alle situasies persoonlik op te neem nie. Dit is die meeste van die tyd ʼn sameloop van omstandighede.

Die intense gevoelens wat verwerping meebring, word gewoonlik na lewensveranderende situasies, byvoorbeeld ʼn egskeiding, ervaar. Sommige mense lyk of hul dit beter as ander hanteer. Die vraag sou wees of dit inderdaad die werklikheid is en of hulle moontlik voorgee. Om voor te gee, is uitputtend en nie volhoubaar nie. Dit is moeilik om voor te gee en is geen oplossing om hierdie gevoelens van verwerping te hanteer nie. Probeer die verwerping verstaan en gee jouself grasie om jouself te vind. Dit is noodsaaklik om te verstaan dat verwerping nie ʼn aksie vanaf ʼn ander party is nie, maar wel ʼn gevoel aan jou kant. Besef dat negatiewe situasies nie jou eindbestemming is nie.

Dit is immers ʼn gesonde houding om te aanvaar dat verwerping deel van die lewe is. Om te erken dat dit belangrik is om maniere te vind om te herstel, te aanvaar en aan te beweeg, is noodsaaklik vir jou geestelike gesondheid. Die volgende paar wenke kan jou help om jou gevoelens te hanteer en nie dadelik verwerping te ervaar nie.

  • Kritiek: Leer om kritiek te aanvaar en ʼn beter weergawe van jouself te wees.
  • Selfgeldend: Bly sterk en oefen om selfgeldend te wees.
  • Vermy boelies: Moenie boelies toelaat om jou verwerp te laat voel nie.
  • Energievrate: Pasop vir mense wat jou energie droog suig en nooit iets teruggee nie.
  • Verantwoordelikheid: Aanvaar dat jy ook foute maak en moenie ander persone daarvoor blameer nie. Moet ook nie verskonings maak vir alles wat dan sou skeefloop nie. Neem verantwoordelikheid vir jou dade.
  • Self-liefde: Waardeer jouself en onthou dat jy jouself moet liefhê. Dit is immers in God se wet vervat.
  • Vriend/ vriendin: Vind ʼn vertroueling met wie jy jou diepste geheime kan deel.
  • Staan jou man: Staan op vir jouself, sonder om te baklei. Doen dit met waardigheid om sodoende impak te maak en jou punt tuis te bring.

Elke persoon het sy eie raamwerk van verwerping en van wat hulle aanvaarbaar maak vir die samelewing. Jy het ook jou eie waarneming van wie vir jou aanvaarbaar is. Jy self het ʼn stel reëls waarteen jy ander opweeg. Dis deel van ons menswees. Ons strewe natuurlik daarna om nie te oordeel nie en mekaar lief te hê soos onsself. Dit bly steeds ʼn struikelblok vir elkeen van ons.

Passiewe verwerping beteken iemand ontken of ignoreer jou. Dit impliseer dat iemand nie eens belangrik genoeg geag word om as mens erken te word nie. Die kinderspeletjie waar een van die maats onsigbaar speel, is ʼn goeie voorbeeld. Die pret en plesier verander gou in chaos wanneer dit nie meer lekker is as hy of sy geïgnoreer word nie. Passiewe verwerping is soms veel erger as om net ʼn persoon se bestaan te ontken. Hierdie passiewe verwerping skep die gevoel van intense magteloosheid en lei na die soeke van enige aanvaarding (positief of negatief) en sodoende kan die verkeerde keuses uitgeoefen word.

Aktiewe verwerping gebeur as daar reguit, op die man af, vir jou gesê word dat jy nie aanvaarbaar is nie en jy ook so behandel word. ʼn Voorbeeld van aktiewe verwerping kan wissel van oënskynlike onskuldige opmerkings, soos jou pa wat van jou sê: “Hierdie kind is so vol draadwerk!” of aksies wat doelbewus of onbewustelik ʼn persoon uitskuif, soos ʼn vriendin wat vir almal plek hou behalwe vir jou, tot ernstige gevalle soos die man wat jou slegsê en jou fisiek aanrand. Dit het tot gevolg dat die persoon voel dat daar iets met hom/ haar verkeerd moet wees. Die gevoel van gebrokenheid en onaanvaarbaarheid heers in jou gemoed. Soveel te meer skep dit die behoefte om nog harder te werk vir aanvaarding. In die meeste gevalle word hierdie soeke na aanvaarding dan verwar met ʼn mate van liefde en sodoende kan die persoon maklik misbruik word.

Jou ingesteldheid teenoor verwerping bepaal hoe mense oor jou dink, voel en selfs reageer. Mense reageer onbewustelik op dit wat jy uitstraal. Selfs jou denke word beïnvloed en veroorsaak ʼn minderwaardige verwagting van jouself.

(Foto: Steve Johnson/Pexels)

Wenke vir die hantering van verwerping:

  • Moenie dit persoonlik neem nie! As jy ʼn persoon is wat verwerping as iets uiters persoonlik ervaar, oorweeg dit om met ʼn berader of terapeut hieroor te praat. Dit is nie iets waaroor jy skaam of bang moet wees nie. Almal benodig ʼn omvattende gids in die lewe van tyd tot tyd.
  • Vind ʼn manier om jou gedagtes skoon te maak, negatiewe gevoelens te oorkom en jou balans te herstel na verwerping.
  • Fokus op die positiewe aspekte wat jy in die plek van die negatiewe aspekte wil hê.
  • Gebruik verwerping om te leer en sodoende te groei, in plaas daarvan om jou te laat onderkry.
  • Soek professionele hulp as jy lank na verwerping depressief voel en dit nie kan verwerk nie.

Aanvaarding ten alle koste?

Daar kan soms aanvaar word dat verwerping jou sterk maak en kan motiveer vir die positiewe. Helaas nie, verwerping is nie iets wat jou emosioneel sterker maak nie. Jy raak dit ook nie gewoond nie. Dis belangrik dat jy die gevoel van verwerping reg moet verwerk. Hoe vinniger jy dit aanvaar en probeer om dit te oorkom, hoe makliker blyk dit te wees.

Ons oordeel ook baie vinnig en kragtig oor ons uiterlike voorkoms. Baie mense probeer hulle uiterlike verander waar moontlik. Party mense kan nie eens na ʼn refleksie van hulself kyk nie. Hulle is skaam en verwerp hulself. Die goue reël is om nie jou lewe met ʼn ander te vergelyk nie. Elkeen se behoeftes en lewens verskil.

Perfeksie is ongelukkig onbereikbaar, maar omdat dit die verwagting is, is daar geen selferkenning by jou as jy wel “perfek” optree nie. Moenie so streng met jouself wees nie. Jy is jou eie grootste vyand of jou eie beste vriend!

Die seer van verwerping is nie altyd net op jouself gerig nie, maar kan ook wees wanneer iemand naby aan jou, soos ʼn kind, verwerping ervaar. Ons voel vir hulle onthalwe seergemaak. Ons deel in hierdie verwerping en magteloosheid en kweek ʼn gevoel van beskerming teenoor iemand, ongeag die situasie.

Daar is natuurlik ʼn fyn lyn van oordeel en verwerping deur jou teenoor ander. Wees bedag hierop en maak seker dat jy nie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Wees gevoelig vir ʼn ander se persepsie ten opsigte van jou handelinge teenoor hulle. Sosialemedianetwerke speel ʼn groot rol en die internet vergeet nooit. Daar bly altyd ʼn geskiedenis van enige aksie en of reaksie wat jy al gehad net. Sosialemedianetwerke speel ongelukkig ook ʼn groot rol in die aanmoediging van ondeurdagte en kwetsende opmerkings. Wees doelbewus versigtig en tree met omsigtigheid op teenoor sosialemedianetwerke. Kuberafknouery is ʼn werklikheid. Wees versigtig – dit grens soms selfs aan laster.

Vrees vir verwerping is werklik. Om dit te probeer vermy of daaronder te ly, gaan jou net ongelukkig en depressief maak. Werk aan jou vermoë om dit te aanvaar en gesond te verwerk en aan te beweeg. Elke situasie is uniek. Gebruik verwerping om te verbeter. Dit is soms selfs ʼn oproep om jou lewe te heroorweeg en te groei in sekere situasies. Besef dis tyd om te laat gaan en dat jy genoeg tyd vir jouself gegun het om die verwerping te verwerk en daaroor te treur. Indien jy ervaar dat jy nie oor hierdie verwerping kan kom nie, is dit tyd vir jou om professionele hulp te soek. ʼn Professionele persoon kan jou help om aan te beweeg en heling te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sarah ·

Passiewe verwerping, nou ken ek die oorsprong van my eie verwerping wat ek altyd ervaar het was soos n donkerte in my lewe vir n baie lang ruk, amper my hele lewe!
Maar Nie meer nie!!
Ek het myself baie meer aanvaar en as mense my nie behandel soos ek graag sal wil, verstaan ek dit nou Baie baie beter.
ek het eenkeer selfs twee keer n stem hoor se
Sarah dit is hulle issue en Nie Joune.
Wowww
Wat n Vrymaking vir my as Persoon!
I Luv People en ek Sien Mense Nou in n Heeltemal ander Lig, as om die heeltyd verwerp te voel oor Ander se optredes.
Nou is ek even meer bedag om te kan idenfiseer wat ander se optredes veroorsaak.
I am Free indeed.
En nou is ek in staat om ander se Goeie punte vir hulle uit te lig. No matter what!!!
Ek is n Nuwe mens
en ek Verstaan mense Beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.