Riglyne vir die eerste feesseisoen sonder ʼn geliefde

Argieffoto. (Foto: Cottonbro Studio)

Kersfees word wêreldwyd as die “gelukkigste tyd van die jaar” beskryf, maar vir diegene wat dit vir die eerste keer sonder ʼn geliefde moet vier, word die pyn, hartseer en verlies wat hulle daagliks moet trotseer net verder beklemtoon.

Daar is ongelukkig ook nie vaste reëls oor hoe om daardie eerste, heeltemal verbysterende Kersfees te navigeer nadat ʼn geliefde dood is nie. Trouens, dit is dikwels ʼn warboel van skok, ontkenning, benoudheid en selfs woede.

Alida Pretorius, ʼn doodsdoula, of troosdoula soos wat sy na haarself verwys, het met Maroela Media gesels en raad vir dié wat geliefdes verloor het én die wat hul bedroefde vriende of familielede wil ondersteun, gedeel.

Hoekom vererger die feesseisoen verlies?

Kersfees is ʼn tydperk wat selfs onder normale omstandighede baie intense emosies meebring, maar dié emosies word beklemtoon wanneer verlies ter sprake is juis omdat dié tydperk aan samesyn en vrolikheid gekoppel word.

Om spesiale geleenthede soos Kersfees en verjaarsdae skielik sonder ʼn kenmerkende persoon te vier voel vir ʼn mens ook soos ʼn ontkenning van hul verlies.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Andrew Kim/Unsplash)

Alida verduidelik dat die ondraaglike pyn wat jy as bedroefde ervaar erger is omdat dit heeltemal teenstrydig is met die onvermydelik feestelike gevoel wat jou oral omring.

Boonop word daar volgens haar nie genoeg oor die dood gepraat nie.

“Ek dink ons het almal weens die Covid-19-pandemie besef hoe broos ons eintlik is. Ons lewe in ʼn tyd waar alles gerieflik en maklik bekombaar is en ek dink ons vergeet dat ons nie onverganklik is nie.

“Die dood en die goed wat daarmee gepaardgaan, is soos enige ander gebeurtenis in jou lewe, maar ons wil nie graag daarmee gekonfronteer word nie en ons gee onsself nie kans om dit werklik te beleef nie. Ongelukkig onderhandel die dood nie.”

Daarom meen Alida dis belangrik om op die volgende te let as jy of ʼn geliefde hul eerste Kersfees sonder ʼn geliefde moet vier.

Isolasie is gevaarlik

Trauma en verlies is persoonlike emosies en elkeen moet die geleentheid gegun word om dit op sy of haar eie manier en tyd te verwerk.

“Jy gaan nie al die stappe van rou binne ʼn sekere tydperk kan afhandel, of hulle mooi in kronologiese volgorde kan ervaar nie. Party dae gaan jy wakker word en sommer alles gelyk ervaar.

“Deel van dié proses is die behoefte om alleen te wees, veral wanneer dit by enige Kersfees-vieringe kom. Gun jouself alleentyd, maar té veel isolering kan gevaarlik vir jou gemoed wees.”

Daarom is dit volgens Alida belangrik vir mense wat rou om balans te vind.

Argieffoto. (Foto: Nik Shuliahin/Unsplash)

“Vir elke geleentheid of tydperk wat jy alleen wil wees, moet jy jouself dwing om in iemand se geselskap te wees of iets by te woon. Dit kan steeds binne jou gemaksone en op ʼn kleiner skaal wees. Omring jouself met mense wat jou ken en wie jy met jou gevoelens en emosies vertrou. Kry byvoorbeeld die kleinste denkbare Kersboom en versier hom met net jou beste vriendin, al is dit in stilte.”

Iemand wat graag hul bedroefde vriend of familielid in hierdie verband wil bystaan, moet volgens Alida onthou om nie die persoon (te dwing of druk om iets te doen nie, maar hulle eerder stelselmatig help terugkeer na hul normale lewe.

“Tyd verloop anders as jy rou, so jou vriend of familielid besef dalk nie hulle het twee dae laas gestort of geëet nie. Help hulle met klein vorderings soos om ʼn koppie tee op die stoep te drink of net ʼn lekker bad te vat. Daardie klein vorderings en dade sal keer dat hulle alleen is en ook stelselmatig groter take laat trotseer.”

Woede is normaal

(Foto: Pixabay)

“Woede is ʼn maklike en aanvaarbare emosie in ons samelewing. Kwesbaarheid of swakheid is ongelukkig nie aanvaarbaar nie, so natuurlik is dit makliker vir mense om uiting aan ander emosies te gee in die vorm van woede.”

Woede is volgens Alida ook ʼn normale deel van die rouproses.

“Jou bedroefde vriend of familielid gaan beslis daardie woede op jou uithaal, veral as hulle gemaklik by jou voel, maar dis nie op jou as persoon gemik nie. Die meeste woede kom uit ʼn plek van diep seer of selfs skuldgevoelens,” sê sy.

“Onthou, niemand gaan braaf genoeg wees om vir jou in jou gesig te sê nie: ‘Ek is kwaad, want my kind is dood en joune lewe nog.’ Dit klink mos kleinlik? Hulle sal veel eerder ʼn uitbarsting hê of met woede op iets reageer.”

Sy waarsku bedroefdes om wel daardie woede te verwerk. “As daai woede nie afgeskakel kan word nie, moet jy professionele hulp kry.”

Alida se grootste “moets”

As jy die een is wat rou;

  • Gee vir jou vriende of familie takies. Mense wil net voel hulle doen of beteken iets vir jou.
  • Wees eerlik met jou vriende en familie oor hoe jy op ʼn spesifieke dag voel. Sê jy wil vandag broos wees en niks met die wêreld te doen hê nie of dat jy dalk sleg voel, maar steeds kans sien vir ʼn uitstappie. As jy jou emosies kan verwoord, kan jy hulle makliker hanteer.
  • Probeer om sover moontlik by jou normale roetine te hou. Hoe meer geleidelik jy na jou “normale lewe” kan terugkeer, hoe beter gaan die geneesproses wees.
  • Skep nuwe tradisies en maak die geliefde wat jy verloor het, deel daarvan op ʼn wyse wat jou pas, hetsy deur hul gunstelingdis te maak of ʼn kers vir hulle aan te steek. Vierings soos Kersfees gaan nooit weer dieselfde wees nie, maar dit beteken nie dat dit nooit weer lekker mag wees nie.

As jy ʼn bedroefde wil ondersteun:

  • Betrek hulle by feesvierings al sê hulle heeltyd nee.
  • As jy onseker is hoe om die persoon te nader of hanteer, vra hulle watter rol wil hulle hê moet jy vir hulle vervul. Is jy hul grapjasmaatjie wat nie oor die dood mag praat nie en hulle moet opkikker, of is jy die een met wie hulle goed wil deel en rou wees? Só sal jy minder onseker wees en hulle beter kan bystaan.
  • Luister sonder oordeel en soms ook sonder om oplossings te probeer bied. Mense wil soms net afpak en hul gevoelens deel, hulle weet eintlik reeds wat die oplossings is.

Die “moenies” as jy ʼn bedroefde wil ondersteun

  • Moet nooit sê dat die persoon wat oorlede is “op ʼn beter plek is” nie, selfs as jou vriend of familielid ʼn gelowige is. “Hulle beleef dalk juis interne konflik met hul geloof weens hul geliefde se afsterwe. Jy kan eerder sê dat jy bly is hulle ly nie meer nie,” stel Alida voor.
  • Moenie die gesprek oor jouself maak of jou omstandighede met hulle s’n vergelyk nie, al het jy soortgelyke verliese ervaar. Sê eerder dat jy empatie met hul verlies het en daarom daar is as hulle wil gesels.
  • Wees eerlik en opreg as jy nie weet wat om te sê nie. Die ergste ding om te doen is om heeltemal stil en weg te bly, veral as dit jou nabye vriend of familielid is.

Moenie gesprekke oor die dood vermy of die persoon skielik anders begin hanteer nie. “Probeer om op ‘mikro-maniere’ hulle dieselfde te hanteer wat jy op enige gegewe dag sou. Jy is nog deel van hul normaliteit en dit is dikwels daardie klein goedjies en optredes wat hulle hoop gee en bewys dat hulle kan terugkeer na ʼn soort ‘normaal’ toe,” meen Alida.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.