Sampioene: Gesonde superswam

‘n Verskeidenheid sampioene. (Foto: iStock)

Hoe kleurvoller jou bord kos, hoe gesonder, nie waar nie? Wel, daar is beslis uitsonderings. Ofskoon sampioene dalk vaal en vervelig voorkom en uit 90% water bestaan, staan dié swam sy gesondheidskoene vol en verdien ’n ereplek in enigiets van sop tot slaai – rou, gekook óf gebraai.

In antieke Egipte was sampioene uitsluitlik vir koninklikes beskore. Hiërogliewe van duisende jare gelede toon dat die Egiptenare geglo het dat sampioene onsterflikheid bring. En in 400 v.C. het Hippokrates, wat allerweë as die vader van moderne medisyne beskou word, die medisinale waarde van sampioene in sy geskrifte genoem.

Hulle het beslis ’n punt beetgehad, want die 4% eetbare én smaaklike soorte sampioene (uit die geskatte 50 000 spesies) hou verskeie gesondheidsvoordele in.

Wit sampioene. (Foto: iStock)

Vyf voedsame voordele

  • Piesangs word dikwels geprys oor hul kaliumrykheid, maar sampioene bevat self ’n stewige dosis van dié mineraal. Een koppie gaar portobello-sampioene bevat byvoorbeeld meer kalium as ’n mediumgrootte piesang. Kalium is noodsaaklik vir elektrolietbalans en spiersametrekking, en is ’n gewilde happie om ná ’n strawwe oefensessie te herstel. Kalium werk ook laer bloeddruk in die hand en bied beskerming teen beroerte, osteoporose en nierstene.
  • Ontmoet Agent Anti-inflammatories! Sampioene bevat selenium, ’n kragtige antioksidant wat kanker, kardiovaskulêre siektes, kognitiewe agteruitgang en skildkliersiektes voorkom. Die antioksidante in sampioene is boonop nuttig om veroudering teen te werk, aangesien dit kognitiewe agteruitgang en oksidatiewe selskade voorkom.
  • Verskeie navorsingstudies het bevind dat sampioene ’n belangrike probiotiese rol speel om ons ingewande gesond te hou. Dit dien as voedsel vir ons liggaam se goeie dermbakterieë, wat help met vertering, gewigbeheer, die voorkoming van kolonkanker en neurologiese siektes, asook die handhawing van ’n gesonde immuunstelsel.
  • Sampioene is ryk aan B-vitamiene soos riboflavien, niasien en pantoteensuur. Riboflavien is noodsaaklik vir energieproduksie en hoe ons liggaam vet metaboliseer, terwyl niasien help om makrovoedingstowwe (proteïen, koolhidrate en vette) in die liggaam te metaboliseer. Pantoteensuur help weer met hormoonproduksie en steun die senuweestelsel. Sampioene wat onder UV-lig gekweek word, is ’n uitstekende bron van vitamien D.
  • ’n Langtermynstudie in Spanje wat in 2021 gepubliseer is, het bevind dat kos wat ryk is aan polifenole (soos sampioene, koffie, kakao en rooiwyn) beskermend kan wees teen kognitiewe agteruitgang en kan help om Parkinson- en Alzheimer-siekte te voorkom. ’n Ander studie het op sy beurt bevind dat sampioene selfs die risiko vir depressie verminder.

Tussen 1% en 3% van sampioenspesies is giftig. Een van die soorte wat die meeste sterftes wêreldwyd veroorsaak, is Amanita phalloides, ook genoem “Death cap”. (Foto: iStock)

 Het jy geweet?

  • Net soos mense neem fungi of swamme suurstof op en stel koolstofdioksied vry. Presies die teenoorgestelde as plante.
  • Anders as plante wat sonlig vir fotosintese nodig het, is sampioene ontbinders wat al hul voedingstowwe uit die grond opneem en nie sonlig vir groei benodig nie. Indien sampioene wel aan UV-strale blootgestel word, produseer dit vitamien D, net soos in die menslike liggaam.
  • Portobello-, knopie- en wit sampioene is almal dieselfde spesie wat op verskillende stadiums van volwassenheid geoes word.
  • Daar is meer as 75 spesies sampioene wat in die donker gloei! Dié verskynsel word veroorsaak deur ’n chemiese reaksie bekend as bioluminesensie.
  • Tussen 1% en 3% van sampioenspesies is giftig. Een van die soorte wat die meeste sterftes wêreldwyd veroorsaak, is Amanita phalloides, ook genoem “Death cap”. Dit proe glo heerlik, maar voor jy jou oë uitvee, lê dit jou lewer en niere lam.
  • Armillaria ostoyae, algemeen bekend as die heuningsampioen, word beskou as die grootste en oudste organisme op aarde. Die sampioen (dis eerder ’n ondergrondse fungi-netwerk) beslaan 3 726 563 m2 van die Malheur Nasionale Woud in Oregon in die VSA, en is na raming ongeveer 8 650 jaar oud.
  • Sampioene is oor die algemeen ’n baie bekostigbare bestanddeel om byderhand te hou, maar eksotiese soorte soos die Yartsa Gunbu-sampioen kan tot £80 500 (sowat R1,6 miljoen) per kilogram kos, en vir Europese wit truffel sal jy tot £6 445 (bykans R130 000) per kilogram moet opdok!

Bykomende bronne: eatingwell.com; webmd.com; goodhousekeeping.com; healthline.com; bbcgoodfood.com; medicalnewstoday

Jy kan tot £6 445 (bykans R130 000) per kilogram vir Europese wit truffel opdok. (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Gewone knoppiesamioene het ook nou eweskielik onbekostigbaar geword vir gewone mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.