Selfbesering: elke sny vertel ʼn storie

(Foto: Eric Ward/Unsplash)

Deur Tia Bosua Gruenenfelder

ʼn Vyftienjarige dogter in skoolklere kom sit in my kantoor. Sy trek skaam-skaam aan haar trui en lyk ongemaklik. Na die bekendstellingspraatjies kom die vraag – hoekom is jy vandag hier? “Want ek cope nie tannie. Alles is te veel. My lewe val uitmekaar. Ek voel net as ek sny.” ʼn Jong ma, met drie klein kindertjies, se naels is in die lewe in afgekrap en sy het sere op haar arms. My vraag is weer – hoekom is jy vandag hier? “Want ek kan nie ophou skuldig voel oor wat ek my kinders alles aangedoen het nie, ek straf myself, kyk hoe lyk ek.”

Ek het onlangs na ʼn Ted Talk van Lleyton Delzell, waar hy gesels oor selfbesering, geluister. Die tendens neem toe. Hy vertel dat een uit vyf dogters hulself op een of ander stadium beseer en onder seuns neem dit nou ook toe. Selfbesering word al meer algemeen en sosiaal aanvaarbaar – dit word ʼn opsie om die seer te hanteer, opgekropte emosies aan te spreek en jouself te straf. Dit klink amper absurd as ʼn mens dit so op papier lees, maar dit is ʼn realiteit.

Wat kan ons onder selfbesering verstaan?

Selfbesering is die opsetlike besering van jou eie liggaam. Dit kan ook beskryf word as selfleed, selftoegediende geweld of selfbeserende gedrag. Die selfleed is ʼn doelbewuste toedien van weefselskade deur die persoon self. Dit word amper nooit gekoppel aan selfdoodneigings nie, aangesien die einddoel verskil. Selfbesering is nie oorwegend ʼn geestesversteuringsprobleem of ʼn aandagsoekende probleem nie. Dit is ten diepste ʼn selfregulerende hanteringsmeganisme vir ʼn persoon met ernstige emosionele pyn, spanning en wanhoop. In sommige gevalle kan dit ook ʼn mate van selfstraf bevat. Die oorhoofse rede is om emosionele lyding en spanning te verlig deur dit met fisiese pyn te vervang.

Selfbesering, spesifiek onder jong mense, is ʼn fenomeen wat voorkom omdat jongmense nie verstaan hoe hulle voel nie en nie die nodige hulpbronne het waarop hulle kan staatmaak om hulle met hul warboel van emosies te help nie. Soveel mense soek antwoorde – en kry dit dikwels by vriende en op sosiale media, waar selfleed as ʼn goeie oplossing voorgehou word.

Hoe manifesteer selfbesering in persone?

Daar is ʼn magdom van wyses wat aangewend word deur persone wat selfleed toepas. Die volgende is van die bekende maniere, maar dit hang werklik van die persoon se eie vindingrykheid en graad van geweld wat hul wil toedien af.

  • Sny vel met skerp voorwerp
  • Prik hom/ haarself met naalde
  • Byt liggaamsdele
  • Maak wonde in lyf met gepaste voorwerp
  • Krap die vel af
  • Selftoediening van brandwonde
  • Hare en ooghare uittrek
  • Selfslaan deur jou eie hand of deur die gebruik van voorwerpe
  • Selfvergiftiging, alkohol- en dwelmmisbruik, misbruik van medisyne en eetversteurings is verwant aan selfleedpraktyke

Jy sal dikwels lemmetjies, messe, naalde, glasskerwe of botteldoppies in selfbeseerders se besit vind. Die mees algemene plekke waar beserings toegedien word, is op die gewrigte, arms, dye, borskas, onder die voete en, in die geval van hare uittrek, die kop of gesig. Iets wat ook kan verklap dat iemand selfleed beoefen, is dat hulle dikwels langmouklere dra, selfs al is dit baie warm. Selfbeseerders kan lang tye in ʼn badkamer of toegesluite kamer deurbring en tekens van bloedvlekke op byvoorbeeld sneesdoekies, beddegoed en klere is teenwoordig.

Meestal word selfbesering toegedien op gedeeltes van die lyf wat maklik weggesteek kan word. Die meeste selfbeseerders is bang ander sal dink hulle is weird, simpel of emosioneel onstabiel. Hulle wil nie dat ander iets van hul persoonlike pyn weet nie. Dit is juis as gevolg van hierdie geheimhouding dat mense rondom hulle nie ʼn vermoede sal hê dat die persoon selfbeseer nie. Dit is interessant om te let op die nuutste navorsing, wat toon dat daar al hoe minder verskil is in die voorkoms van selfbesering by manlike en vroulike persone, maar, in teenstelling met vroulike persone, is daar ʼn groter moontlikheid dat manlike persone se selfbesering wel later op selfdood sal uitloop.

Wat kan die faktore wees wat persone noop om te selfbeseer?

boelie-desperaat-hartseer-depressie

(Foto: Anemone123/Pixabay)

Steek daar iets meer agter die besluit wat ʼn persoon sal neem om te selfbeseer as net oorweldigende gedagtes en emosies? Kenners is dit eens dat tieners (en uiteraard ook volwassenes) wat selfbeseer, dit doen omdat hulle nie hul oorweldigende gedagtes en emosies kan beheer nie. Baie gryp dan na wat hulle by ander in soortgelyke situasies sien en na-aap die gedrag met die hoop om verligting te kry. As ʼn mens selfbeseerders vra waarom hulle dit doen, is die antwoorde baie subjektief. Die kenners is dit ook eens dat die volgende faktore ʼn definitiewe rol in mense se besluit om self te beseer kan speel:

  • Puberteitsjare neem ʼn aanvang, waar dit dikwels vir mense begin.
  • Hoë vlakke van onverwerkte angs, depressie, woede en of frustrasie is teenwoordig.
  • Daar is ʼn gebrek aan impulsbeheer.
  • Dit kom meer voor onder persone wat aan mishandeling blootgestel is en onbehandelde posttraumatiese stres beleef.
  • ʼn Sterk gevoel van hulpeloosheid kom voor.
  • Die persoon het ʼn onvermoë om oor sy of haar emosies te kommunikeer.
  • ʼn Baba wat stres tydens geboorte ervaar het.
  • Lae vlakke van serotonien is in die liggaam teenwoordig.
  • Dwelm- of drankmisbruik, dikwels met gepaardgaande psigose, veroorsaak sekere probleme.

Wanneer ʼn persoon selfleed toepas, begin die brein assimileer dat dít wat die persoon op die oomblik seermaak, die perfekte stimulus is om die angs, depressie, frustrasie of woede te verlig. Daar lê ʼn fyn lyn tussen die ervaring van die toegediende pyn en plesier, aangesien dieselfde neurochemiese meganismes wat serotonien in die liggaam afskei om pyn te verlig, ook serotonien afskei om plesier te verskaf. Die verhoging van die serotonienvlakke is die liggaam se antwoord om kalmte in die brein te bring, wat dan weer kalmte in die gemoed bring. Dit is die  liggaam se sogenaamde goedvoel-dwelm.

Kan ʼn mens selfbesering voorkom en wat kan jy doen om te help?

Daar is geen manier om te verhoed dat selfbesering plaasvind nie, aangesien dit so ʼn persoonlike, geheime gewoonte is. Wat wel moontlik is, is dat die risiko tot selfbesering verminder word. Al die rolspelers in die persoon se wêreld moet betrek word om die persoon by te staan, sodat hy of sy emosionele uitdagings makliker en beter bestuur. Rolspelers kan ouers, familie, onderwysers, afrigters en vriende wees.

Verskeie bronne bied die volgende advies om mense wat geneig is tot selfbesering, te help.

  • Pak emosionele uitdagings saam aan en leer saam beter maniere om die uitdagings te bestuur, aan.
  • Identifiseer tye wat stresvol is en beplan saam hoe om strategieë in plek te kry – asook hoe om dit te implementeer – sodat die emosionele uitdagings te bowe gekom kan word.
  • Moedig gesonde sosiale netwerke aan. Nie net aanlyn nie! Moedig persone aan om gesonde konneksies met mense wat nie selfbeseer nie, te bou. So kan meer gesonde verhoudings en kommunikasievaardighede opgebou word.
  • Wees op die uitkyk vir tekens van selfbesering; vra vrae en praat openlik daaroor om as’t ware die kombers van geheimhouding te lig.
  • Moedig jongmense aan om selfbesering wat by hulle vriende voorkom nie onder mekaar weg te steek nie, maar hulle aan te moedig om hulp te gaan soek.
  • Praat oor die invloed van die media. Mense moet inligting van die media krities kan beoordeel. Die invloed wat die media in die narratief dat selfbesering oukei is kan hê, moet raakgesien kan word. Bespreek ʼn gesonde alternatief vir wat die media se narratief daarstel.

ʼn Laaste paar praktiese wenke vir die selfbeseerder

Wanneer die gevoel om selfleed te doen jou oorval, probeer die volgende rate wat vanuit selfbeseerders se geledere bedink is om die selfleed te voorkom.

  • Hou ʼn dagboek waarin jy jou gevoelens en emosies neerskryf. Eindig met ʼn positiewe gedagte of opbouende Skrifgedeelte.
  • Vervang die skerp voorwerpe wat jy gebruik om jou te beseer met byvoorbeeld ʼn rooi viltpen waarmee jy ʼn blommetjie of ʼn hartjie of ʼn positiewe teken maak op die plek waar jy jou met die skerp voorwerp sou wou beseer.
  • Skryf jou negatiewe leedaandoengedagtes op ʼn papier neer en skeur of verbrand die papier dan as simbool van die vernietiging daarvan.
  • Draai jouself in ʼn warm kombers of ʼn terapeutiese gewig-kombers toe en luister na musiek of kalmerende klanke.
  • Neem ʼn yskoue stort, ʼn ysbad vir jou gesig of vryf ʼn ysblokkie oor die gedeelte waar jy jouself leed wil aandoen.
  • Beoefen enige vorm van oefening wat jou hartklop verhoog, byvoorbeeld touspring, aërobiese oefening of boksoefeninge.
  • Maak ʼn geraas deur die speel van dromme of sommer net deur potdeksels teenmekaar te slaan tot jy kan bedaar.
  • Eet ʼn kossoort wat skerp smaak, soos rissie, suurlemoen of peperment.
  • Wanneer jy jouself wil afsonder, gaan soek ʼn gesinslid of vriend op om mee te gesels, of gaan sit in die tuin, gaan stap of gaan kyk ʼn bietjie TV in die familiekamer – enige plek waar jy sigbaar is vir ander.

Ten slotte, onthou dat hierdie persone in nood verkeer. Eerder as om te veroordeel, kommunikeer eerlik dat jy nie verstaan nie, maar dat jy bereid is om te luister, te hoor en te help.

  • Tia Gruenenfelder is uitstekend gekwalifiseer in haar veld en werk as opvoedkundige sielkundige by die Laerskool Swartkop en ook as familieberader by Kerksondermure in Gauteng. Verder is sy betrokke as terapeut by Moeggesukkel-reabilitasiesentrum vir volwasse verslaafdes en dien op die direksie van Mon Care, ʼn tehuis vir kinders in nood.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van die tydskrif Granaat, van die Dameskring, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.