Siek tydens vakansie? Dís dalk hoekom!

Jou immuunstelsel kan lei onder ʼn verandering in roetine wat met die vakansietydperk gepaardgaan. Dít is dalk hoekom jy siek raak sodra jy met vakansie gaan.

Alisha Mackintosh, Pharma Dynamics se bestuurder van die allergie-en-immuniteitportefeulje, sê talle Suid-Afrikaners kry maagvirusse, onverwagse verkoues, hoofpyne en ander siektes wanneer hulle met vakansie gaan weens ʼn verandering in hul roetine.

“Gedurende die vakansie reis ons meer, ons eet meer uit en bly later wakker as gewoonlik. Ons is meer ontspanne oor higiëne, wat daartoe kan lei dat ons immuunstelsel verswak en ons sodoende meer vatbaar maak vir virusse en bakterieë,” sê sy.

Mackintosh deel ʼn paar redes hoekom jy siek raak oor die vakansietydperk:

Te veel suiker

Ons gee oor die feestyd in tot suikerbelaaide kos en lekkernye, sonder dat ons weet dat dit ons witbloedtelling verlaag. As jy deurlopend deur die dag soetgoed inneem, sal dit beteken dat jou immuunstelsel deurlopend benadeel word.

Te veel alkohol

Te veel alkohol tas die liggaam se vermoë om infeksies te beveg aan. Geniet eerder alkoholiese drankies met matigheid voor oë.

Laat wakker bly

Om laat te gaan slaap en laat op te staan kan migraines meebring. Hou eerder vas aan gesonde slaapgewoontes deur sowat agt uur elke aand te slaap. Dit sal jou hoofpyne verminder en ook die intensiteit van die hoofpyn met sowat 29% laat daal.

Vakansie-inkopies

Omdat ʼn mens meer inkopies doen in die vakansie, hanteer ʼn mens ook geld baie meer as gewoonlik. Geld dra sowat 3 000 verskillende soorte bakterieë wat na verskeie siektes kan lei. Vee altyd inkopiewaentjies se handvatsels af voordat jy dit gebruik, en was jou hande nadat jy aan goed in winkelsentrums gevat het.

Vliegtuig

Studies toon dat jou risiko om ʼn verkoue op te doen met sowat 80% styg as jy met ʼn vliegtuig reis. Sien om na jou immuniteit voordat jy op ʼn vliegtuig klim deur genoeg te rus, gesond te eet en stres te hanteer. ʼn Immuniteitaanvuller kan ook handig wees.

Vuil lugverkoeler

Omdat dit warmer in Desember is, gebruik mense baie meer hul lugverkoeler in die motor en in die huis, maar dié lugverkoeler word nie gereeld skoongemaak nie. Die bakterieë in jou lugverkoeling kan die oorsaak van jou siekte wees.

Te veel om te doen

Daar is baie om te doen voordat jy met vakansie kan gaan – oormatige stres wat daarmee gepaardgaan, is glad nie goed vir jou immuunstelsel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.