Trauma kelder SA’ners se geestesgesondheid

Foto: Nik Shuliahin/Unsplash

Suid-Afrikaners loop toenemend die risiko om akute stresversteurings te ontwikkel weens die land se hoë misdaadkoers, interpersoonlike geweld en hoogs openbare gewelddadige gebeure soos plunderings en optogte.

Daarom benadruk dr. Gagu Matsebula, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse vereniging van psigiaters, die belangrikheid van gereelde geestesgesondheidsondersoeke, veral ná ʼn traumatiese gebeurtenis.

Matsebula het ter bewusmaking van Wêreldgeestesgesondheidsdag, wat sedert 1992 jaarliks op 10 Oktober gevier word, verduidelik dat veral diegene met bestaande geestesgesondheidstoestande, soos angs, depressie of ʼn dwelmmisbruikversteuring, ʼn groter risiko het om akute stresversteuring te ontwikkel ná ʼn traumatiese voorval.

“Minstens een uit elke sewe Suid-Afrikaners sal ʼn traumatiese gebeurtenis in hul leeftyd ervaar. Indien dit onbehandel gelaat word, kan dit lei dit tot ernstiger langtermyn-geestesongesteldheid.”

Suid-Afrika het boonop een van die laagste geestesgesondheidstellings ter wêreld aldus die mees onlangse Annual Mental State of the World-verslag.

Akute stresversteuring weens trauma het volgens Matsebula soortgelyke simptome as posttraumatiese stresversteuring (PTSD), maar is korter en duur slegs tussen drie dae en ʼn maand.

Dit ontwikkel in reaksie op ʼn persoonlike, direkte of indirekte ervaring van trauma, soos die onverwagte dood van ʼn geliefde, om ʼn slagoffer van fisieke geweld te wees, of om in ʼn ongeluk betrokke te wees.

Dit kan egter ook ontwikkel weens indirekte blootstelling aan die dood, ernstige beserings of geweld, hetsy persoonlik of deur die media.

“As simptome langer as ʼn maand duur, word die diagnose wel PTSD, wat dit dan belangrik maak om hulp en behandeling te ontvang,” waarsku Matsebula.

Indringende simptome van akute stresversteuring sluit herhalende terugflitse en nagmerries in, asook vermydingsimptome, waarin die slagoffer die mense, plekke of gesprekke rakende die traumatiese gebeurtenis vermy.

Argieffoto. (Foto: iStock)

Ander simptome sluit “hiperwaaksaamheid” in, waar die slagoffer voortdurend bang is, maklik skrik en moeilik konsentreer, dink of slaap. Mense word gevolglik met gevoelens van benoudheid, angs en stres gelaat en kry nie altyd die nodige behandeling nie.

Volgens Matsebula lei dit dikwels tot “abnormale genesing” waar die trauma nie verwerk en hanteer word nie en die persoon eerder onbehulpsame hanteringsmeganismes ontwikkel wat hulle ʼn groter risiko vir ernstiger geestesgesondheidstoestande maak.

“Stres self kan traumaties wees en lei tot die ontwikkeling van geestesiektes soos depressie, asook fisieke siektes soos hipertensie en diabetes.”

Daarom moedig hy slagoffers aan om eerstens ʼn algemene praktisyn, huisdokter of plaaslike kliniek te raadpleeg om die simptome te identifiseer en indien nodig vir ʼn verwysing na ʼn psigiater, sielkundige of maatskaplike werker te vra.

“Dit is noodsaaklik om hulp te soek ná ʼn traumatiese gebeurtenis en sodoende die ontwikkeling van komplikasies, ongesonde hanteringsmeganismes soos alkohol- of dwelmmisbruik en langdurige geestesongesteldheid te vermy. Jou geestesgesondheid is net so belangrik soos jou fisieke gesondheid,” meen Matsebula.

Kontrolelys vir geestesgesondheid

Dr. Forrest Talley, ʼn Amerikaanse kliniese sielkundige en stigter van Invictus Psychological Services, het ʼn kontrolelys vir geestesgesondheid opgestel wat deur deskundiges goedgekeur is en binne 10 minute voltooi word. Hy beveel aan dat mense hulself die volgende vrae vra om die toestand van hul geestesgesondheid op ʼn gereelde basis te evalueer:

  1. Kyk na jou verhoudings

Kyk of jy genoeg aandag gee aan diegene aan wie jy die naaste is. Maak notas hiervan en evalueer hoe hierdie verhoudingsmaatstawwe jou huidige toestand beïnvloed.

  1. Gee jou bui punte

Indien jou bui dalk onlangs baie versleg het, kan jy ʼn rede daarvoor identifiseer? Indien wel, wat kan jy daaromtrent doen?

  1. Ondersoek jou gedagtes

Word jou gedagtes met meer positiewe of negatiewe idees gevul? Indien hulle meer negatief is, moet daar ʼn poging aangewend word om hulle te verander.

  1. Maak ‘n inventaris van jou gewoontes en gedrag

Indien jou gedrag nie met jou doelwitte ooreenstem nie, is dit ʼn moontlike aanduiding dat jou geestesgesondheid struikel.

  1. Evalueer jou fisieke gesondheid

Hierdie twee dinge gaan hand aan hand – swak fisieke gesondheid kan lei tot swak geestesgesondheid, en swak geestesgesondheid kan lei tot swak fisieke gesondheid.

  1. Geloof kan geestesgesondheid beïnvloed

Volgens dr. Talley kan geloof en spiritualiteit ook ʼn groot rol speel in geestelike en emosionele welstand. Indien jou geloofsgebaseerde oortuigings voorheen sterk was en nou eenkant toe gestoot of geïgnoreer word, kan dit ʼn invloed op jou geestesgesondheid hê.

Bykomende bronne: Fit On, Sapien Labs.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Ek verstaan nie aldag die begrippe geestesongesondheid, depressie, wanhoop, diep donker gat, heeldag moeg en al die benamings wat aan sekere toestande gegee word nie. Ek glo aan hoe eenvoudiger , hoe beter, dis dalk die era waarin ons oueres grootgeword het wat maak dat ek nie die dinge verstaan nie.

Vexed ·

Die spul wil net hulle sakke volstop deur die nagmerrie ervarings wat mense in die land moet verduur. Mense het nie berading nodig nie. Hulle het ‘n beter land nodig. Skaamtelose gierigheid. Niks nuut.

skurweberg ·

Ek is nie ‘n Psigmetris nie maar ‘n Ekometris. Ons sal as Afrikaners ons opvoedingsmetodiek tuis en by die skool moet aanpas sodat ouers en die onderwyser hulle individuele kinders se emosionele funksionering beter leer ken, verstaan en hanteer. Die huis van oorsprong speel ‘n deurslaggewende rol in die hantering van trauma. Hoeveel van ons ouers en onderwysers ken bv. die trauma dinamika van sy leerling of kind?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.